Die boek het ontstaan omdat dié Boere-verkenner se kleinseun graag sy oupa se verhaal vir sy nasate wou opteken en bewaar. Johannes van der Walt wou graag die stories wat hy as kind oor en oor gehoor het, gaan navors om by die ware geskiedenis van Johannes Strydsman uit te kom. Hy het wyd gelees en wyd gereis en uiteindelik self sy boek ook uitgegee as erfenis vir sy kinders. Die verhaal bestaan nie net uit koue, kliniese feite nie, maar is deurvleg met staaltjies oor die lewe op kommando, "legendes" gebaseer op ongestaafde feite en ander oorvertellings, asook ‘n magdom foto's.

Baie lesers sal aanklank vind by die verhaal, want hulle het self voorsate gehad wat deel was van dié oorlog. ‘n Volledige bibliografie gee lesers toegang tot al die bronne, sou hulle self meer in diepte wou lees oor die geskiedenis. Prof. Fransjohan Pretorius van die Universiteit van Pretoria sê in sy voorwoord dat hy hierdie boek – “oor die verhaal van ‘n gewone burger in ‘n oorlog wat die Afrikaner ná meer as honderd jaar steeds na aan die hart lê” – met vrymoedigheid aanbeveel. Die boek is ‘n waardevolle toevoeging tot die dokumentering van die Anglo-Boereoorlog en dit kan bestel word by www.vanderwalt.org.za.

Wie was Johannes Strydsman en waarom wou jy ‘n boek oor hom skryf?
Dit was die skuilnaam wat my oupa, Hendrik Stephanus Johannes van der Walt, gebruik het toe hy op 6 Junie 1901 gevange geneem is deur die Britse magte. Hy het dit gedoen om sy identiteit as Kaapse rebel te verdoesel en het sodoende teregstelling vrygespring. In 2000, met die 100-jarige herdenking, wou ek net ‘n kort opstel van die feite vir my seun skryf vir hom om te bewaar. Ek het toe reeds inligting besit wat my oom in 1980 aan my gestuur het. Ná ses jaar se navorsing het ek genoeg feite gehad om ‘n boek te skryf. Die gedagte was oorspronklik net om die geskiedenis te bewaar, maar my familie en my broers het aangedring dat ek dit boekstaaf en publiseer.

Het jy nog altyd ‘n passie vir die geskiedenis gehad?
My belangstelling is geprikkel toe ek as tienjarige kind altyd aandagtig geluister het na die stories oor my oupa wanneer my vader en sy tweelingbroer dit vertel het. In daardie jare, 1965, was die rolprente oor die Wilde Weste baie gewild en het ek my eie fantasie geskep deur dit met my oupa se oorlogstories te kombineer. Soos ek ouer geword het, het die "cowboys" vervaag en het ek die geskiedenis van my familie meer en meer begin ondersoek.

Hoe het jy die taak aangepak?
Ek het die verwysingslyste van nagraadse studente, ou Africana en skaars boeke bestudeer. Daarna het ek ‘n vryskut-navorser in Kaapstad gehuur om na alle dokumentasie te kyk van die tydperk Januarie 1901 tot Junie 1901. By die nasionale koerantargief het ek berigte getrek van dieselfde tyd. Ook was ek in kontak met 95% (miskien meer) van Suid-Afrika se skrywers, professors en kenners wat my kon help. In 2005 het ek die roete van die kommando gevolg en so heelparty mense ontmoet wat my met inligting kon help.

Die navorsing is omvattend. Waar het jy oral gaan soek na inligting?
In die eerste jaar van my navorsing het ek nie veel sukses gehad nie, want ek het regtig nie geweet waar om te begin nie. Teen die einde van daardie jaar was ek gelukkig om ‘n tesis van ‘n nagraadse student te kon koop. In die bibliografie het ek toe verwysings gekry na argiefdokumente, waarvan ek afskrifte kon aanvra. Dit het ook gelei na ander navorsers en kenners op die gebied. Later het ek die nageslag van ‘n paar rebelle in die Oos-Kaap opgespoor en ook van hulle inligting ontvang.

En die foto's in die boek, waar kom dit vandaan?
Daar is ‘n paar foto's van my oupa, wat ek van my oom Fanie (Stephanus) van der Walt geërf het. Die meerderheid foto's in die boek het ek self geneem toe ek die plekke op my navorsingstoere besoek het. Daar is ook kiekies wat uit ou boeke kom, asook ‘n paar wat deur museums aan my geskenk is. Die foto's wat private mense aan my geskenk het, is vir my egter die waardevolste, want dit is die eerste keer dat dit in ‘n publikasie verskyn.

Wat was die moeilikste van die projek?
Die groot hoeveelheid inligting was van die begin af ‘n probleem. Ek moes ‘n praktiese manier vind om maklik my inligting te kon opsoek. Dit kon ek darem uitsorteer met ‘n goeie naslaanstelsel. Die volgende probleem het egter gekom in die eerste maand van die skryf van die boek. Ek het hopeloos te veel tyd bestee om deur feite te werk en dit dan in ‘n storielyn op papier te plaas. Dit was baie frustrerend. Dit het ek opgelos deur vir my ‘n tydrooster op te stel vir die tydperk wat my oupa deel was van die kommando. Ek het ‘n lys gemaak van elke dag. By elke dag het ek die betrokke dokumente se naam ingevul. Daarna het die boek goed gevorder.

Wat was die interessantste ding waarop jy afgekom het terwyl jy besig was met die boek?
Daar was ‘n paar. Een was die beëdigde verklaring van my oupa se broer toe ‘n Britse patrollie hom op aanklag van hoogverraad op die plaas in hegtenis geneem het. Onderaan was sy vader se verklaring en handtekening ook. ‘n Ander interessante dokument wat ek ontdek het, was van my oupa se oupa (geslag gemerk e, ek is geslag i) se doodsertifikaat. Hy het in Bloemfontein se konsentrasiekamp gesterf gedurende die oorlog.

Gaan jy nog skryf?
Hierdie is my eerste boek. Tans is daar ‘n leemte in my lewe. My navorsing het ‘n lewenswyse begin raak en ek sal so gou as moontlik weer moet begin skryf.

Waar kan lesers hierdie boek bestel?
Die boek kan direk by my bestel word by 083 632 0159 of vanderwalt3@telkomsa.net Dit is ook beskikbaar by Kalahari.com en word geadverteer op die webwerf www.vanderwalt.org.za