Hy klim deur die venster om te ontsnap van die party, want hy sien nie kans vir die burgemeester, die plaaslike koerant, die personeel van die ouetehuis en bowenal nie vir die direkteur van die plek wat allewig in ‘n slegte bui is nie.

So begin sy avontuur. Terwyl hy vir ‘n bus wag, steel hy ‘n jong rampokker se tas. Dié tas vol geld behoort egter aan ‘n berugte kriminele bende wat Allan onmiddellik agtervolg op sy tog deur Swede. Op hierdie tog ontmoet hy die onwaarskynlikste mense wat deel van sy gevolg word, boonop het die een ‘n mak olifant wat saam reis. Die boek is onverwags en heeltemal anders as al die spanningsverhale wat uit Swede en Noorweë kom. Dis ‘n humoristiese satire oor die foute wat die mensdom begaan. Jy leer Allan se kleurryke verlede ken deur vertellings aan sy mede-reisgenote. Hy het hom in eienaardige situasies bevind in omtrent elke groot geskiedkundige gebeurtenis. So het hy ‘n kennis geword van politieke figure soos Winston Churchill, Mao Tse Tung, Stalin, De Gaulle en Franco en soms hul sake lekker deurmekaar gekrap. Wonder bo wonder ontsnap Allan elke keer en bly hy almal een treetjie vooruit. The Hundred Year Old Man Who Climbed Out Of The Window And Disappeared (Hesperus Press, R149) deur Jonas Jonasson is ‘n verfrissende verhaal wat jou op onverwagse gedagtepaaie neem. Ek het per e-pos met die skrywer gesels.

Het jy al deur ‘n venster geklim om van ‘n situasie te ontsnap?
Ja, ten minste twee keer. Die eerste keer was in 1994 toe ek ‘n  joernalis was  by Exressen, die grootste koerant in Skandinawië daardie tyd. Ek wou iets anders doen, maar het nie geweet wat nie. Toe bedank ek. In die hysbak op pad uit ontmoet ek ‘n man wat my ‘n geleentheid aanbied om as media-konsultant in Oos-Europa te gaan werk. Ek was werkloos vir ongeveer twintig sekondes!
Die tweede keer was ‘n dekade daarna. My media-konsultasiebesigheid het aanhou groei totdat ek meer as een honderd werknemers gehad het. Ek het my deel van die besigheid verkoop, na Switserland verhuis, naby die Italiaanse grens en onder ‘n palmboom gaan sit en my boek geskryf.

Waarom wou jy oor ‘n man skryf wat 100 jaar oud is?
Ek het ontsettend baie stories van hoop oor die tekortkominge van die mensdom in my kop. Die titel het gemaak dat ek die verhaal begin skryf het – ék sou ‘n boek met so titel dadelik wou lees, maar eers moes ek gaan sit en dit skryf!

Het jy baie navorsing gedoen, want Allan beleef ‘n avontuur tydens byna al die groot geskiedkundige gebeure?
Ek stel baie belang in moderne geskiedenis en hoe ons dieselfde foute weer en weer maak. Vir seker moes ek ‘n ding of twee navors, maar ek ken basies die prentjie.

Het dit lank geneem om die verhaal te skryf?
Ek kry dikwels hierdie vraag en ek antwoord altyd: 47 jaar! (my ouderdom met die skryf van die boek). Ek was voor dit nie gereed nie, nie om te skryf op die manier wat ek wou nie, eerder as om myself heeltyd af te vra wat ander mense daarvan sou dink.

Jy was ‘n baie suksesvolle media-konsultant. Waarom dit opgee om ‘n skrywer te word?
Ek was altyd ‘n skrywer, of ten minste vandat ek 18 was. Dis maar net dat ander goed op my pad gekom het. En ek was nie gereed nie. Toe ek reg was daarvoor, was dit die mees natuurlike ding in die wêreld om te doen.

Hoe het jy Allan se karakter geskep, is hy gebaseer op iemand?
Gelukkig bestaan Allan nie in die werklike lewe nie. Ten minste ek hoop nie so nie. ‘n Politieke idioot, wat oor niks omgee nie. Die hemele behoed ons as almal soos hy was. Maar tog . . . op ‘n manier beny ek hom. Sy gebrek aan berou. Ek het so bietjie daarvan gehad in my prille jeug. Wonder waarheen dit verdwyn het?

Was jy verras deur die wêreldwye sukses van jou boek?
Vier miljoen boeke verkoop én die syfer groei steeds! Is ek verras? Hel ja! Ek het net gehoop om gepubliseer te word, sodat ek darem ‘n identiteit as skrywer kry. Die res is ‘n bonus, ‘n ongelooflike bonus.

Het jy ‘n roetine om te skryf?
Ek wens ek het . . . Ek probeer skryf tussen nege en drie Maandae tot Vrydae, maar ‘dissipline’ is nie my middelnaam nie.

Is die rolprent van jou boek al gemaak en was jy hoegenaamd betrokke daarby?
Die rolprent se première gaan op Kersdag 2013 wees. Ek wil graag sê ek is glad nie betrokke nie, maar ek was tog. Ek het die twee mense gekies wat die rolprent maak. Dit gaan ‘n Sweedse rolprent met ‘n groot produksiebegroting wees, met ‘n moontlike Hollywood remake later. Ek het laas jaar in die herfs die stel besoek tydens verfilming in Boedapest. Hulle het my deel gemaak van een toneel, so as jy die rolprent gaan kyk, kyk uit vir die middeljarige generaal in die skaduwee agter Gorbatjev.

Is jy besig met ‘n nuwe boek?
Baie besig. Ek hoop ek kan teen die einde van die winter klaar wees daarmee. Die voorlopige titel: “The Analphabet Who Could Count” – dit gaan oor ‘n jong, Suid-Afrikaanse meisie van Soweto wat by haar venster uitklim en die wêreld op sy kop keer. Dieselfde satire wanneer dit kom by die tekortkominge van die mensdom, maar op ander maniere heelwat verskillend van my eerste boek. Hoe sê die mense? Dis eenders, maar anders. . .