Hierdie is enkele voorbeelde van stories wat ons byna daagliks in koerante lees. Daar is ‘n aanslag op renosters en die statistieke van hoeveel renosters vir hul horings doodgemaak word, is skrikwekkend. Julian Rademeyer se debuut-boek, Killing for Profit (Zebra Press, R220) het opslae gemaak toe dit laat verlede jaar gepubliseer is. Hierin bekyk hy die geskiedenis van renosterstropery en hoe die hele onwettige handel van renosterhoring werk. Dit bly ‘n uiters relevante boek. In ’n blog op Marinovich Wildlife Photography word die volgende gesê: ”It is a book for conservationists, for lovers of wildlife and for people of the planet who believe that all creatures have a place on Earth.” Daar kan nie genoeg aandag op renosterstropery geplaas word nie – anders gaan ons kinders eendag net dié dier op ‘n foto kan sien. Julian Rademeyer het ‘n paar vrae per e-pos geantwoord.

Jy het jou werk as ondersoekende joernalis gelos om hierdie boek te skryf. Was dit die moeite werd?
Beslis. Dis ‘n projek waaroor ek passievol was. Dit het my gefassineer en ek wou my volle aandag daaraan gee. Ek wou nie ‘n ‘quick-hit’-boek skryf wat binne ‘n paar maande uitgeryg is nie. As jy besluit om ‘n boek te skryf, moet jy soveel moeite daarmee doen as wat jy kan. In die huidige koerant-klimaat is dit baie moeilik om onderwerpe in diepte te takel. Dit was ‘n geleentheid om by die hart van die kwessie uit te kom. Dit was eintlik nie so ‘n moeilike besluit om te bedank nie.

Was jy verras met hoe die boek oor die wêreld ontvang is?
Nogal. Ek het nie verwag dit sou internasionaal so goed doen nie, of dat dit die media-aandag sou trek het wat dit gekry het nie. Maar mense die wêreld oor is gefassineer deur stories van georganiseerde misdaad, en renosterstropery het beslis ‘n snaar geraak. In terme van internasionale nuusdekking oor Suid-Afrika is renosterstropery een van die onderwerpe waaroor die afgelope jare die meeste geskryf is.

Wat was die mees onverwagse ding wat jy deur die boek geleer het?
Vir my was dit die ongenaakbaarheid en vindingrykheid van die betrokke misdaadsindikate, en die mate waartoe mense bereid is om te moor én dood te gaan vir ‘n paar kilogram renosterhoring – teen ‘n kunsmatig hoë prys wat gebaseer is op ‘n betekenislose mite van veronderstelde genesende eienskappe.

Waarom wou jy oor renosters en hul lot skryf?
Ek het vir jare artikels geskryf oor verskillende apekte van georganiseerde misdaad. Ek is geboei deur die skaduagtige onderwêreld-figure wat betrokke is by die onwettige handel in renosterhoring, en het gevoel die storie van die misdaadsindikate is nie vertel nie. Met enkele uitsonderings was die verslaggewing oor die onderwerp maar oppervlakkig. Dit het gestop by die renosterkarkas en die arrestasie van die stropers. Ek wou dieper delf om die verhaal te vertel van die onaantasbare kingpins, die stropers, die middelmanne, die diplomate, die wapensmokkelaars en die korrupte beamptes wat in die middel van die handel staan. Wie is hierdie mense? Wat motiveer hulle? Wat is hul stories?

Dink jy daar is ‘n oplossing vir renosterstropery?
Dis seker die heel moeilikste vraag om te antwoord. Wildstropery neem teen ‘n skrikwekkende tempo toe. Daar’s ‘n vuurwarm debat aan die gang oor die moontlike wettiging van handel in renosterhoring in ‘n desperate poging om die markte in plekke soos Viëtnam en China te bevredig. Ek dink ons moet baie meer van daardie markte weet voordat ons so stap neem. Ons het geen benul van die grootte van die potensiële mark of die impak wat wettige handel gaan hê nie. Tans is net misdaadsindikate in die handel betrokke en hul tentakels is in ‘n verskeidenheid onwettige aktiwiteite. Daar is ook die gevaar om gemengde boodskappe te stuur aan lande wat nie streng optree teen dié onwettige handel nie. Aan die een kant vra jy hulle om strenger op te tree, verskerp die wette en arresteer mense. En terselfdertyd steek jy voelers uit oor die moontlike wettige verkoop van renosterhoring aan hulle. Dis ‘n uiters moeilike besluit. Maar wat ons tans doen, werk beslis nie. Viëtnam – almal glo dis die sleutel-verbruikerstaat – kan skaars die onwettige handel polisieer en is steeds in ontkenning oor sy rol. Baie min is daar gedoen, asook in die ander verbruikerlande, om die aanvraag te probeer verlaag deur middel van opvoedkundige programme.

Selfs as gevind word wettige handel is een van die oplossings, sal Suid-Afrika 178 lidlande van die Convention on International Trade in Endangered Species (Cites) moet oortuig om hom toe te laat om daarin te handel. ‘n Handelsvennoot sal ook gevind moet word, daarom is enige ontwikkelinge op daardie front nog ver in die toekoms. Nou sal ons eers moet kyk hoe die slaankrag van internasionale wetstoepassing versterk kan word. Dis nie net ‘n Suid-Afrikaanse probleem nie. Dis ‘n internasionale een. Hierdie sindikate is ook betrokke by die smokkel van ivoor, ietermago’s, reptiele, leeubene en, in sommige gevalle, dwelms, mense en wapens. Die onrusbarendste is dat die kingpins in plekke soos Laos, Thailand en Viëtnam onaantasbaar bly en ons pogings om die sindikate te kniehalter, stop by ons landsgrense. Sindikate wat betrokke is by stropery, is besig om toenemend hul operasies na Mosambiek te verskuif omdat renosterstropery daar as ‘n minder belangrike misdryf behandel word.

Wat kan gewone Suid-Afrikaners doen om te help?
Daar is ongelooflike organisasies en NRO’s wat baie doen om bestaande pogings deur die regering, wetstoepassing en SANParke om onwettige handel vas te vat, te versterk. Hulle verdien ons ondersteuning. Maar mense moet versigtig wees watter organisasie hulle ondersteun. Daar’s ongelukkig ‘n klomp skelms wat wederregtelik geld by winkelsentrums insamel. Doen jou huiswerk om te sien of die organisasies geloofwaardig is en waarheen die geld gaan wat jy aan hulle skenk. Bel SANParke en die NRO’s en maak seker die mense en organisasie wat die geld insamel, is eg.

Hoe moeilik was dit om die inligting vir die boek te kry?
Soms baie moeilik. Dit het gehelp dat ek baie oor die onderwerp verslag gelewer het voordat ek die boek begin skryf het. Die moeilikste was die geskiedkundige hoofstukke en om mense op te spoor wat getuies was van gebeure in die 1970’s en 1980’s, en om die gebeure te rekonstrueer. Ek moes die kleinste gegewens verifieer. ‘n Polisieverslag beskryf byvoorbeeld ‘n hotelkamer met ‘n bank, maar die meeste hotelkamers het nie banke nie: was dit ‘n bank of ‘n stoel? Sulke detail is belangrik ter wille van akkuraatheid. Ek was verras hoe openhartig sommige mense met my gepraat het, veral dié wat by onwettige handel betrek was. Dit is gedeeltelik omdat wildlewe-misdaad tot betreklik onlangs as ‘n ‘sagte’ misdaad behandel is. Party mense het ook gevoel hulle is onregverdiglik in ‘n blik gedruk.

Kon jy bekostig om so wyd te reis vir jou navorsing?
Ek het bietjie spaargeld gehad. Ek het ook ‘n voorskot van die uitgewers gekry op die toekomstige tantieme van die boek, en ek het die ondersteuning gehad van die Taco Kuiperfonds vir ondersoekende joernalistiek.

Dink jy jy het ‘n teiken getref omdat jy in die boek geen steen onaangeraak gelaat het nie?
Ek weet nie of ek het nie. As joernalis raak jy gewoond aan dreigemente. Dis gewoonlik ‘n poging tot intimidasie. Dis die mense wat jou nie dreig nie, wat jou sal teiken. Dis belangrik dat hierdie stories vertel word, daarom kan ‘n joernalis nie toelaat dat hy deur vrees oor wat moontlik kan gebeur gekniehalter raak nie. Jy kan maar net omsigtig wees.

Die onwettige handel is ‘n gekompliseerde situasie, met baie rolspelers.
Die stropers self maak tussen R5 000 en R20 000 per renoster. In die geval van skyn-jagtogte (waar renosters wettig in SA gejag word en die trofee uitgevoer word) word tot R65 000 per kilogram gevra. Maar die sindikate in Laos en Viëtnam verkoop renosterhoring vir enigiets van $50 000 tot $80 000 per kilogram. Dis groot geld! Soos met die meeste georganiseerde misdaad maak die voetsoldate eintlik min. Vir die sindikate is stropers in Mosambiek kanonvoer wat maklik vervang kan word. So ook die middelmanne wat gewerf word om met versteekte renosterhoring in hul bagasie te vlieg. Dis onbekend hoeveel sindikate betrokke is, maar van dié wat wel bekend is, is dit beslis die base wat die geld maak.

Wat het jou verras toe jy die boek geskryf het?
Hoofsaaklik die vindingrykheid en genadeloosheid van die sindikate om renosterhoring te bekom. Wie sou kon dink ‘n sindikaat sal jong vroue – meestal prostitute – werf om hulle as jagters voor te doen in skyn-jagtogte, en dit net om ‘n bestendige stroom renosterhoring te kry wat hulle op die swartmark van Suidoos-Asië verkwansel?

Hoe moeilik was die oorgang van joernalis na skrywer?
As joernalis skryf jy dikwels volgens ‘n formule. Ek het altyd gehou van artikels skryf, maar oor die jare het koerante minder spasie gehad om indiepte-artikels te gebruik. Dit was ‘n uitdaging om die formule te breek en iets oorspronklik en feitelik te probeer skryf, maar terselfdertyd interessant. ‘n Gemiddelde hoofstuk is 6 000 tot 8 000 woorde en jy moet die leser se aandag hou. Ek het ook die boek in die styl van ‘n misdaadriller geskryf, want die karakters en bisarre stories wat ek oopgevlek het, het hul geleen daartoe. Ek het al dikwels gesê die boek sou nie geloofwaardigheid hê as ek dit as fiksie geskryf het nie. Feite is dikwels baie vreemder as enigiets wat ‘n skrywer kan uitdink.

Hoe moeilik was dit om te besluit wat in die boek ingaan en wat uitbly?
Ek het min of meer geweet watter stories ek wou vertel. Ek het soms vasgeval in die navorsing en die tonne inligting wat ek versamel het. Dikwels moes ek eers terugtree en emosieloos na ‘n hoofstuk kyk, al die ontoepaslike goed en elemente waar ek afgedwaal het uithaal om by my storie te hou. As joernalis leer jy om inligting bondig aan te bied sodat jy die leser nie onder onnodige inligting toegooi nie. Die kuns van storievertel is om dit so eenvoudig moontlik te doen sodat jy die leser terselfdertyd boei, inlig en vermaak. Maar daar was stories wat ek ongelukkig moes uitlaat, want dit was of te na aan stories wat ek reeds ingehad het of hulle was nog nie volledig nie.

Gaan jy hierdie boek met nog een oor renosters opvolg?
Ek het nog nie besluit nie. Indien moontlik, sou ek hierdie boek wou opdateer, want die renosterstropery se storie is ‘n vinnig veranderende een. Daar is weekliks nuwe verwikkelinge, nuwe sindikate en nuwe strategieë. Ek het ook baie werk in dele van Wes-Afrika en Suidelike-Afrika gedoen oor die verskillende aspekte van die onwettige handel in natuurlewe, van die smokkel van ape en reptiele tot ivoor. Die tyd sal leer.

Wat doen jy nou?
Ek vryskut hoofsaaklik vir die Mail & Guardian en ‘n nuwe webwerf wat feite nagaan, AfricaCheck.org. Ek ondersoek steeds alle onwettige handel in wildlewe, iets wat my bly fassineer. Hierdie boek het my lewe verander en my op ‘n pad geplaas waaroor ek voorheen nooit kon droom nie.