As jy hoor hoe sy die navorsing vir haar jongste boek, Onse Vaders (Human & Rousseau, R225) gedoen het, dan is sy veel eerder ‘n waaghalsige en onverskrokke skrywer wat net sowel ‘n karakter in ‘n boek kon wees. Sy het Soweto deurkruis op wilde jaagtogte saam met die manne van ‘n opsporingsmaatskappy wat na gesteelde motors gaan soek. Dan het sy besoek afgelê by ‘n hele klompie tradisionele genesers en gevra dat hulle die bene vir haar gooi. Raak sy ooit benoud en is sy bang vir iets? Ja, sê sy, daar is wel iets waarvoor sy bang is – ‘n spinnekop!

Kaptein Albertus Beeslaar en sersant Johannes Ghaap maak in Onse Vaders weer hul verskyning. In hierdie verhaal gaan kuier Beeslaar by ‘n oud-polisieman en vriend, Blikkies, op Stellenbosch en word dan ingesleep by die ondersoek na die moord op ‘n jong vrou wat op die oog af in ‘n huisroof doodgeskiet is. Ten spyte van sy onwilligheid om betrokke te raak help hy kaptein Vuyokazi Qubeka met die ondersoek, omdat Blikkies die raakpunt tussen hulle twee is. Ghaap is in Soweto, want, so glo hy, as hy wil vooruit boer in die polisie, moet hy in ‘n polisiekantoor met ‘n hoë profiel diens doen. Hy moet help soek na ‘n vrou en kind wat ontvoer word tydens ‘n motorkaping en aangehou word deur “The Father”, ‘n weersinwekkende man met ‘n baie donker kant en legendariese bonatuurlike kragte.

Die twee verhaallyne loop parallel met mekaar en word op ‘n slim manier verweef deur karakters wat met mekaar verbind word. Brynard ontgin ‘n hele paar temas wat diep gewortel is in die Suid-Afrikaanse milieu – geweld in die samelewing, verbrokkelende gesinsbande, die rol van vaders sowel as die tradisionele geneser in die gemeenskap en daarmee saam bygelowigheid. Ten spyte van die diep temas is dit ‘n verhaal met ‘n goeie tempo, uitstekende aksie en uiters geloofwaardige karakters. Ek het met Karin Brynard gesels tydens haar onlangse besoek aan Gauteng.

Jou eerste boek, Plaasmoord, is goed ontvang.
Dit is bekroon met die UJ-debuutprys en die M-Net-prys in die rolprentkategorie. Was jy benoud om ‘n tweede boek aan te pak?
Ek was regtigwaar senuweeagtig, maar ek het ook die idee gehad van ek hoef nie. Ek het ‘n baie lekker loopbaan as ‘n vryskutjoernalis. Ek sê net ja vir opdragte waarvan ek hou. Ek is mal oor navorsing en om diepte-stories te doen. As ek dit nie kon regkry om ‘n tweede boek te skryf nie, dan was ek ‘n “one-book wonder”. Maar aan die anderkant is daar ‘n ding wat jou dryf, dis soos ‘n obsessie wat in jou lyf kruip. Ek haat skryf. Dis soos om te kraam.

Ek het gedink ek gaan myself teleurstel, én die mense wat hard gewerk het aan Plaasmoord, ek gaan my familie teleurstel. Elke keer wanneer ek ‘n resensie gelees het wat kritiek uitgespreek het oor my boek, dan was ek vir ‘n week verlam. Dan kon ek glad nie skryf nie. Dit het ‘n gemors geraak. Toe sê Etienne Bloemhof vir my, begin ‘n ander boek. En dis hoe ek op die ou einde die twee verhaallyne gekry het en bymekaar gesit het.

Ten spyte van die twee verhale wat parallel loop, verbind jy tog die twee, met Ghaap wat heeltyd vir Beeslaar bel. En daar is hierdie onwaarskynlike vriendskap tussen die twee. Was dit bewustelik?
Aan die einde van Plaasmoord het Ghaap en Beeslaar amper handgemeen geraak en die boek eindig waar die twee saam sit en drink. Daar’s ‘n kameraadskap wat tussen die twee ontstaan het. Ek wou die vader-idee tussen hulle twee ook vestig, want ongesiens het Ghaap in Beeslaar ‘n soort mentor gevind. Daarom het ek hulle met mekaar verbind. Die twee moet ‘n pad stap, want ek het planne vir hulle vir die toekoms ook. Ek wil verder gaan met Ghaap ook. Ek weet nie tot watter mate dit moontlik is vir ‘n middeljarige, wit Stellenbosse tannie om ‘n bruin Griekwaman van die Noord-Kaap se verhaal te skryf nie. Dis baie ver uit mekaar.

Was die titel van die begin af daar en was dit dié ding wat vir jou die saadjie vir die verhaal geplant het?
Ek het nie dadelik 'n titel gehad nie. Ek was besig om met Plaasmoord klaar te maak en toe gebeur die moord op Stellenbosch. Ek het geweet ek gaan so 'n moord hê. Die eerste struikelblok was hoe om by die groot 2005-moord op Inge Lotz verby te kom. Verwys jy daarna, swyg jy daaroor, wat maak jy? Jy kan nie heeltemal niks daaroor sê nie, want dan lyk dit asof jy van niks weet nie. Daai spesifieke moord het nogal ‘n invloed gehad op die tema wat ek op die ou einde gekies het. Ek het die moord gehad. Ek het die omstandigheid gehad van ‘n ontwikkelaar en die grondkwessie en die bewaringsmense. Dis twee goed in die Wes-Kaap wat vir my nogal baie kontroversieel is op die oomblik. Almal wil graag daar werk, maar daar is nie plek vir mense om te bly nie. En daar is werk, daarom stroom mense soontoe. Al die wonderlike vleilande, met die unieke blomme en voëls, verloor die stryd. Dit was die aanvanklike issue.

Destyds nog by Insig het Elmari Rautenbach gesê sy soek ‘n onderhoud met daai outjie (Fred van der Vyver). Maar omdat hy aangekla is, mag jy nie met hom ‘n onderhoud voer nie. Na ‘n gespook en gespartel kry ek toe ‘n onderhoud met sy pa. Ek het lank met hom gesels oor hierdie nagmerrie in hul lewe, die grumoord op hierdie pragtige, belowende jong student en hulle kind blyk die skuldige te wees. Hoe hanteer jy dit? Dit was vir my aandoenlik om met die man te praat en sy bewoëndheid te sien. Hoe hy so ontmagtig voel. Hy kan nie ‘n polisieman gaan regklap nie en sê: ”Nou los jy my seun uit.” Dit het my laat wonder oor die rol van ‘n vader.

Kort daarna moes ek vir Rapport ‘n storie doen oor die Kaapse Boekefees. Daar strompel ek by 'n heeltemal ’n verkeerde lokaal in. Dis toe interessant, want die WNNR het ‘n klomp navorsing gedoen oor die rol van mans in die Suid-Afrikaanse samelewing en ‘n boek, Baba, daaroor saamgestel. Ek het dit onmiddellik gekoop en ek het agtergekom daar is nog baie sulke boeke wat geskryf is. Dis ‘n onderwerp wat klaarblyklik meer mense interesseer.

My vraag is: ”Ons het armoede soos baie ander lande, maar hoekom is ons so gewelddadig. Waar kom ons woede vandaan?” Ons begin nou eers as ‘n gemeenskap daaraan krap, om te kyk watse soort gemeenskap ons het, wat is die magte en kragte wat op ons ingespeel het – die massale verstedeliking van die afgelope 20 jaar, die omvergooi van gemeenskappe en van tradisie en tradisionele leefwyses oor die hele spektrum.

Jy ondersoek die rol van vaderskap op meer as een vlak in hierdie boek. Waarom het jy Mieke, wat eintlik ‘n buitestander is, die belangrike opmerking oor die gebrek aan vaders in die gemeenskap laat maak?
Ek het dit juis so beplan omdat ek wou hê dit moet ‘n outsider wees wat die opmerking maak. Ek dink ons almal is in die middel van hierdie geveg. Ons staan nie terug en kyk na onsself nie. Daar is te min mentors wat ons kan lei en vir ons hierdie dinge kan uitwys. Ons het vir Tutu en Mamphela Ramphele en Madiba is amper dood en wie bly daar oor?

Dink jy joernalistieke agtergrond maak dat jy anders na dinge kyk en dat dit substansie aan jou verhaal gee met ‘n magdom inligting sonder dat jy die verhaallyn befoeter?
Dit het baie te doen met die joernalis in my en ook met my persoonlike nuuskierigheid. Die twee is onlosmaaklik van mekaar. As jy oor dertig jaar die joernalistiek beoefen het, dan is dit in jou murg en jou been. Ek is baie geïnteresseerd in die politiek en in die maatskappy en in hierdie land van ons. As jy die probleme waarmee ons worstel vat en jy gooi dit teen die agtergrond van ‘n Europa, ‘n Amerika of ‘n China dan lyk dit baie keer asof ons hier rondom ‘n baie groot vuur dans. Die buitewêreld gaan aan, maar ons is besig met onsself. Die ander lande sukkel met presies die probleme waarmee ons sukkel. Ek dink ons is die ouens wat voor loop in die soeke na oplossings vir sekere probleme, van hoe om van ‘n heterogene gemeenskap ‘n vreedsame gemeenskap te maak. Ons sukkel vreeslik daarmee, maar ten minste op ‘n eerlike en baie oop manier en ons pak mekaar en ons sê mekaar sleg. En môre werk ons weer saam.

My Suid-Afrikanerskap, my Afrikanerskap en my joernalistieke en my gewoon nuuskierig wees na hoekom werk dinge soos wat hulle werk, dryf my om navorsing te doen en om my bevindings op ‘n sekere manier aan te bied as miskien een aspek van die oplossing, van die vraag “wat maak ons tiek”. Hoekom is ons soos ons is?

Hier is baie verskillende groeptale in die boek, hoe het jy dit benader?
‘n Deel daarvan het daarmee te doen dat ek van kleins af mense en menslike gedrag wou verstaan, my eie gedrag, my eie hartseer, my eie melancholie, my eie ekstases en depressies. Wat is die oorsprong van dit wat my gevorm het. Ek lees verskriklik wyd oor die sielkunde en ek het bv. die Jungiane weer gaan nalees om te kyk wat die argetipe van ‘n vader is. In my eie lewe is my pa baie jonk dood, ek was 15. My lewe het bollemakiesie geslaan. Dit was een dag nog lekker en die volgende dag is alles onderstebo, want my pa is nie meer daar nie. Ek dink op die ou einde met al die navorsing vir so 'n boek, was dit vir my belangrik om die begrip te ontwikkel en om dan daardie begrip met iemand anders te deel.

Mis jy die joernalistiek, want dit voel vir my jy pak jou boeke aan soos ‘n groot joernalistieke projek?
'n Mens kan seker so sê. Dis hoe ek geleer werk het en die patroon is vasgelê en dis my gemaksone. Dis maar hoe ek aangaan, omdat dit vrek moeilik is vir die joernalis om te spring van feite na fiksie. Dis veilig binne feite, want jy gee net weer. Met fiksie moet jy alles uitdink. Dis baie lekker, maar dit voel verkeerd. Die joernalistiek maak jou agtergrond breër en stel jou in staat om na vreemde mense te gaan en hul hele lewensverhaal te vra. Driekwart van die tyd is mense gretig om dit te deel en driekwart van die tyd is daai mense se lewensverhale verstommend. Jy weet ook hoe om toegang te kry tot die beskikbare databasis en jy het ‘n meer gemaklike manier om in ander mense se kop te kom. Ek dink ook dit maak dit makliker om werklike ervarings te hê. As jy ‘n paar keer in jou lewe ‘n storie gedoen het soos “’n Dag in die lewe van...” dan kan jy aan die einde van die dag alles baie goed beskryf. Normale mense het nie toegang tot daai goed nie en dis waar die joernalistiek ‘n absolute fantastiese leerskool is.

Jy het in ‘n vorige onderhoud gesê jy is ‘n sissie oor sekere goed, maar as ek hoor hoe jy die navorsing saam met die trackies in Soweto gedoen het, kan dit mos nie waar wees nie? As jy so groot sissie is, hoe kry jy dit reg om dit te doen?
My ma sê altyd ons het ‘n bietjie Van Helsdingen-bloed in ons. Ek weet nie waar kom sy daaraan nie. Dit is weer eens ‘n vermoë om uit jou veiligheidskringetjie te tree in ‘n ander wêreld in, die onbekende wêreld in. Ek dink dis ‘n vermoë wat ek geleer het as joernalis.

Jy skryf oor moeti en die sangoma. Hoe het jy die navorsing gedoen?
Ek het in Soweto besoek gaan aflê by ‘n klomp sangomas en gevra dat hulle die bene gooi. Dis ‘n hele ritueel, jy blaas op die bene en hulle steek mpepo aan. Dan gaan die sangoma in ‘n beswyming, dan wag jy nou maar tot die sangoma vir jou iets sê. Toe ek terug was in die Kaap, het ek na ‘n Afrikaanse vrou wat ‘n gekwalifiseerde sangoma is, gegaan. Dit was interessant om met haar te praat, maar sy wou nie teorie praat nie, omdat sy ‘n praktiserende sangoma is.

Wat is die rol wat The Father in die verhaal speel?
As 'n mens Jungiaans daarna wil kyk, kan jy seker sê dis die skadukant van die vader. Vir my is dit die hele nosie van om na iemand toe gaan om te hoor hoekom jy maagpyn het. En daai persoon sê dan vir jou dis omdat iemand anders op jou jaloers is. Dis vir my ‘n interessante gegewe en ek wonder baie daaroor, in watter mate ons as ‘n gemeenskap mekaar nie begryp nie, omdat ons dinge doen – ‘n sangoma raadpleeg en op grond van sy raad dinge doen, dis ver weg van ‘n lewe van ‘n raadsaal in Johannesburg. Dis ver uitmekaar. Op ‘n manier was die sangoma tradisioneel die hoeder van sy gemeenskap. Hy het almal geken en hy het geweet wat in elkeen se huis aangegaan het. So hy was ‘n soort maatskaplike werker, maar vandag is dit nie meer so nie. Die sangoma se rol het verskraal en dit gaan deesdae oor geld. Dan gaan dit ook oor bygelowige, wat grens aan die donker dinge in ons land. Kyk maar na Marikana en die stakers wat daar deur sangomas voorberei is vir die stryd. Ek vermoed baie van mense se skadugedeeltes van aanpas in die kosmopolitiese wêreld vind jy nog terug in hierdie praktyke.

Daar is ‘n groot kontras tussen die atmosfeer van die verhaal wat in Stellenbosch afspeel en die verhaal wat in Johannesburg afspeel. Is daar ‘n groot verskil tussen die twee wêrelde?
Toe ek uit Gauteng trek in 1994 en op Stellenbosch aankom, was dit vir my nogal ‘n kultuurskok. Ek het die hele tyd wat ek in Johannesburg en Pretoria gewoon het, gehoor van die verligte Kaap. Ek kom toe in die Kaap aan en ek moes baie ver soek vir hierdie verligtheid. In Johannesburg leef ons in Afrika. In die suide van die land het almal nog iets van die Europese droom en alles word Engels of Frans of so iets. Ek dink dit word ‘n bietjie vereger deurdat daar baie ryk mense spesifiek op ‘n dorp soos Stellenbosch gaan woon nadat hulle hul geld elders in die land gemaak het. Kapenaars hou glad nie daarvan as jy dit vir hulle sê nie, maar hulle het nie regtig ‘n idee van hoe ‘n nie-rassistiese samelewing lyk nie. Hulle hoor jy gaan Gauteng toe en dan wil hulle weet of jy angsbevange is. Ek is mal oor die omgewing, die dinamika, die kuns en die kultuur in Gauteng. Dis ‘n ander wêreld.

Waar het jy aan Vuyokazi Qubeka gekom?
Ek moes ‘n polisieman skep vir die Stellenbosse polisiekantoor, want Beeslaar kan nie ‘n moord daar gaan oplos nie. Toe koppel ek hom aan Blikkies en die begrafnis. Qubeka was aanvanklik net die persoon wat in beheer was van die toneel en wat nie hou van hierdie wit man wat op haar gebied betree nie. In ‘n vroeë stadium het hulle nie ‘n goeie verhouding gehad nie. Sy was beskermend en kleinserig. Boonop is sy ‘n vrou en nou kom hierdie groot wit man vir haar vertel hoe sy haar moord moet oplos. Na ‘n rukkie het ek daarvan afgesien, want sy het al hoe meer op my gegroei. Terwyl ek haar uitgeplot het, het ek twee vroue ontmoet. Die een is ‘n polisiekaptein, Patrys Rautenbach, wat ek in die middel van die nag in Soweto raakgeloop het terwyl ek met die trackies op pad was. Hulle ken mekaar. Sy het pas Plaasmoord gelees en gevra of ek haar boek sal kom teken. Ek het my verkyk aan haar, so 'n fyn, blonde vrou met goed versorgde lang naels, maar sy is ferocious. Sy het my ‘n dag lank op haar eie rondgery en my voorgestel aan al haar informante en gehelp dat ek ‘n klopjag kon sien. Dit was fantasties om haar in aksie te sien, sy stuit vir niks. Sy is gelowig en glo sy moet werk waar sy werk, omdat sy ‘n verskil maak daar waar sy werk. Die ander een is ‘n Xhosa-meisie wat by die winkel om die draai werk en pragtige Afrikaans praat. Sy was op skool in die Afrikaanse skool op Wellington. Haar naam was Vuyokazi.

Wat broei nou in jou kop, waaroor jy gaan skryf?
Ek sit met ‘n Nkandla-tema in my kop en ek het al begin met die navorsing daarvoor. Ek het besoek gaan aflê in Orania en ek was by ‘n Boesman-nedersetting van grond wat teruggegee is in die Kalahari. Ghaap en Beeslaar gaan terug na die Kalahari en Beeslaar word sommer in die eerste hoofstuk in hegtenis geneem.