Die onderwerp van haar boek, The Hungry Season (Picador Africa, R225), kan met reg vergelyk word met ‘n baie groot tornado. Hierin takel dié omgewingskampvegter en joernalis voedselsekerheid en al die faktore wat dit raak. Ten spyte van die gewigtige onderwerp is dit ‘n baie toeganklike en leesbare boek, want Joubert verduidelik die bydraende faktore aan die hand van verskillende mense se verhale. Dit maak die onderwerp verteerbaar, want met die lees word jy nie verswelg deur ‘n massa feite en statistiek nie. Jy raak betrokke, omdat jy besef hoe mense se lewens geraak word deur voedselsekerheid, of die gebrek daaraan.

Volgens Joubert is dit darem nie ‘n hopelose situasie nie en probeer sy in haar boek oplossings bied vir die probleme. Maar dié oplossings gaan net gebeur as die regering, skole en gewone mense betrokke raak. Gewone mense kan kies waar hulle ‘n verskil wil maak en kan in hul eie omgewing begin. Soos om toe te sien dat daar beter tipes kos by hul kind se skoolsnoepie verkoop word. Of om die plaaslike winkel aan te spoor om die vermorsing van voedselprodukte beter te bestuur. Of deur betrokke te raak by groentetuine vir die gemeenskap. Basies moet mense self besluit op watter manier hulle betrokke kan raak en waar hulle die meeste invloed sal hê.

Jou boek het my nogal ontstel en angstig laat voel. Dis ‘n baie ernstige onderwerp waaroor ek eintlik min geweet het. ’n Mens dink nooit aan voedselsekerheid en die impak daarvan op jou eie lewe nie, veral as jy ‘n dak oor jou kop het en kos om te eet.
Toe ek oor klimaatsverandering begin skryf het, het ek ook niks daarvan geweet nie. Ek het net geweet dis ‘n onderwerp waaroor baie mense praat, maar ek was net oppervlakkig bewus daarvan. Ek het nie besef hoe klimaatsverandering spesifieke plekke affekteer nie, soos veldbrande in die Bosveld of kreef aan die Weskus of die teeboer aan die rand van die woestyn. Ek moes navorsing doen om te sien wat die betekenis van klimaatsverandering op daardie vlak is. Met voedselsekerheid was dit net so, en ek het begrip as mense nie weet wat dit is nie. Om werklik te weet wat dit beteken, moes ek al die nuanses van die onderwerp uitstippel en ek kon dit in hierdie boek doen.

Waar kom jou belangstelling in omgewings- en volhoubaarheidstudies vandaan?
Ek het nooit beplan om ‘n skrywer of omgewingskampvegter te word nie. Toe ek op universiteit was, was ek effe rigtingloos en het laat begin studeer en ‘n graad in die skone kunste aangepak. Ek het geskiedenis en joernalistiek as addisionele vakke gedoen en dit het gemaak dat ek my kursus verander het. Geskiedenis het hoe ek na die wêreld kyk op sy kop gedraai, en ek het altyd deur my familie ‘n belangstelling in die sigbare wêreld gehad. Hulle was altyd baie geesdriftig oor die natuur, maar in my tienerjare was ek taamlik lou daaroor. Eers in my laat twintigs het die beginsels deurgeslaan. Ek het begin met leefstyljoernalistiek en eers later oor die omgewing begin skryf. Maar vir my gaan die mens en die omgewing hand aan hand en ek wou dit ook histories in konteks plaas, hoe alles mekaar beïnvloed. Dis vir my belangrik om mense se stories te vertel, stories wat andersins nooit aandag sou kry nie.

Dit is nie maklike onderwerpe wat jy aanpak nie, want daar is geweldig baie navorsing wat die skryf voorafgaan. Hoe moeilik is dit om jou onderwerpe in verteerbare en verstaanbare taal aan te bied?
Dis baie moeilik. Ek het eers al die navorsing vir hierdie boek gedoen en dit het gevoel asof ek vir maande geen woord geskryf het nie. Maar toe ek eers gaan sit en begin skryf, het dit nege maande gevat. Dit was intens en emosioneel uitdagend om al die maande en maande se navorsing en mense se stories op so 'n manier aan te bied dat ek hulle geen onreg aandoen nie. Ek het ook baie gekyk na die foto's wat ek van die mense en hul plekke op my foon geneem het, net om myself helder te hou oor elkeen se unieke stem.

Hoe het jy die mense opgespoor oor wie jy in die boek skryf?
Ek was gelukkig dat ek aan baie van hulle voorgestel is deur mense wat ek gebruik het om gepaste gevallestudies vir my te soek. Ek het gesukkel om iemand te kry wat die storie kon vertel van iemand wat van ‘n landelike Afrika-dieet gemigreer het na ‘n meer stedelike Westerse dieet. Ek was op pad Oos-Kaap toe om met vier of vyf ander families te gaan gesels en het nie baie beweegruimte in my skedule gehad nie. Uit desperaatheid het ek my ouers in Hogsback gebel en gevra of hulle dalk iemand ken. Hulle het my vertel van Winnie Maneli, ‘n afgetrede skoolhoof wat in ‘n dorpie net buite Alice woon.  Wat Winnie nog meer uitsonderlik maak, is dat sy ‘n manuskrip saamgestel het van resepte van al die tradisionele Xhosa-geregte, en ook kon sê hoe die kos wat hulle eet, verander het. Dit was blote geluk dat ek by haar uitgekom het en dat sy hierdie waardevolle manuskrip gehad het wat perfek was om te verduidelik hoe die invloed van die moderne leefstyl mense se manier van eet met tyd verander het, dat hulle nie meer volgense tradisie hul eie kos wil kweek nie, maar dat hulle eerder by kitskosplekke en supermarkte wil koop.

Daar is ‘n algemene opvatting dat voedselsekerheidprobleme opgelos kan word as mense hul eie groente plant. Is dit ‘n oplossing?
Dis maar ‘n klein deel van die oplossing. Mense fokus baie maklik op die produksie van voedsel as die oplossing vir die probleem. Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie, want daar is baie ander faktore waaraan ook aandag gegee moet word, soos die effektiewe vervoer van voedsel sodat daar geen verliese is nie. En het mense toegang tot drinkwater, wat nog te sê water vir tuine?

‘n Ontstellende punt wat jy in die boek maak, is hoe die gebrek aan die regte voedingstowwe by kinders onder twee jaar hulle ‘n knou gee vir die res van hul lewe en dat hul breinpotensiaal nooit 100% ontwikkel nie. Is ons besig om ons nasie dommer te maak deur wanvoeding? En hoe kan ons die probleem bekamp?
Dit is baie duidelik dat opvoeding en die vrye toegang tot inligting nie genoeg is om mense se eetgewoontes te verander nie, veral as jy kyk na die styging in die hoeveelheid mense in die ontwikkelde wêreld wat ernstig oorgewig is. Hier het ons te make met mense wat taamlik goed geskool is, maar steeds met gewigsprobleme sit. Opvoeding is net ‘n deel van die oplossing. Ons moet gaan kyk hoekom  mense kossoorte eet wat sleg vir hul gewig en gesondheid is. Eerstens is daar die beskikbaarheid van kitskos, asook die gerief om vinnig iets te koop pleks daarvan om self iets gesonds te gaan kook. Dan is daar die tydsfaktor, want as jy vir ure in openbare vervoer sit om werk toe en terug te kom, het jy beperkte tyd om te kook. Uit my navorsing het ek gevind dat wetenskaplikes in die ou dae ‘n houding gehad het van "Dis die individu se eie skuld dat hy vet en oorgewig is, want hy is lui of vraatsugtig". En die oplossing is die individu se verantwoordelikheid: eet gesond, oefen, sorg dat jy gesond word. Deesdae is daar ‘n groeiende siening onder navorsers dat dit eintlik die normale reaksie van normale mense is op ‘n abnormale omgewing. Eintlik maak stede en die voedselsisteem dit te maklik om die verkeerde kos- en leefstylkeuses te maak. Dis moeilik om ‘n gesonde leefstyl te volg as daar om elke hoek en draai kitskosplekke en restaurante is.

Jy sê in die boek dat ‘n derde van alle kos wat vervaardig word, vermors word. Dis ‘n ontstellende statistiek.
Dit is. Volgens die VN vervaardig ons genoeg kos om elkeen elke dag sy toelaatbare kilojoules te kan gee, maar ‘n derde van alle kos wat vir menslike verbruik vervaardig word, land op die ashoop. Dit gaan verlore tussen die boer se lande en die verbruiker se eetkamertafel. In die Westerse wêreld vind die grootste vermorsing plaas tussen winkel en verbruiker, want gesofistikeerde vervoerstelsels verseker minimum verlies tussen boer en winkel. Die verbruiker koop heelwat meer as wat hy nodig het en dan beland dit in die asblik. 
In ontwikkelende gemeenskappe is dit andersom en die vermorsing is tussen die boer en die winkel, want vervoersisteme is nie so goed nie. Maar in armer gemeenskappe is baie minder vermorsing, want mense koop net wat hulle nodig het en gebruik dit dan op. Die probleem in minder gegoede gemeenskappe is die berging van voedsel. As jy nie toegang tot elektrisiteit of skoon water het nie, kan jy kos nie veilig stoor nie. Met die klimaatsverandering en stygende temperature sal daar ook ‘n gepaardgaande styging wees in die voorkoms van salmonella en ander soorte voedselvergiftiging.

Wat was die ontstellendste ding waarmee jy tydens jou navorsing gekonfronteer was?
Ek dink die wanvoeding onder kinders en wat dit op die lang termyn beteken – die dommer maak van ons nasie. Dit is eintlik so eenvoudig om in te gryp en seker te maak dat kinders van geboorte tot die ouderdom van twee die regte voedingstowwe inneem. Dit is een ding vir ‘n volwassene om homself in ‘n toestand van ongesondheid in te eet, maar vir ‘n kind om gebore te word in ‘n omgewing waar hy nie toegang het tot gesonde kosse soos spinasie, boontjies, wortels nie, en dan vir die res van sy lewe ‘n tekort te hê in terme van sy vermoë, is iets anders. Die ander skokkende ding is hoeveel hongersnood daar om ons is wat ons nie raaksien nie.

Voel jy soms oorweldig deur die grootte van al die probleme?
Ná tien jaar van skryf oor omgewingstres, klimaatsverandering en nou voedselsekerheid, voel dit so bietjie soos ‘n tsoenami. Hierdie probleme is so groot en het soveel momentum opgebou dat die verwoesting wat dit gaan veroorsaak en reeds veroorsaak in baie gevalle byna nie gestop kan word nie. Al wat jy kan doen is om te probeer om ‘n verandering ten goede te bewerkstellig, voordat alles finaal in duie stort.