As jy Linette Retief se boek, Een glas dooswit, asseblief? (Human & Rousseau, R165) lees, besef jy hoe verkeerd die ou spreekwoord eintlik is. Geld maak verseker min dinge reg, wel, veral nie in Linette se ou lewe nie! Dis maklik om uit te gee, ook as jy nie kontant in die hand het nie. Daar is mos oortrokke geriewe en kredietkaarte en winkelkaarte ... Maar êrens en een of ander tyd moet jy begin betaal. Nou ja, dis waar Linette se storie begin. Met die aaklige realiteit van die betaalslag - ‘n slag op meer as een gebied. Die geld was nie daar nie en die skuld was bloot te veel. Wat toe gemaak? Sy het haarself in die hande van ‘n skuldberader geplaas en begin om beheer oor haar geldsake te neem.

Haar boek vertel die hele verhaal (gedeeltes van die boek was as rubrieke in By, die Saterdagbylaag van Beeld, die Burger en Volksblad gepubliseer). Dis 'n baie leesbare boek en ten spyte van die erns van die onderwerp, bly haar humor altyd opduik om die situasie meer verteerbaar te maak. Dis seker nie die maklikste ding in die wêreld vir iemand om hul derms uit te ryg oor hoe sleg dit met hul geldsake gaan nie en hoe moeilik of maklik hul skuldberadingsproses is nie. Dis egter ‘n reis waaroor almal van ons moet lees, want elkeen van ons kan ‘n ou lessie leer uit Linette se ervarings. En die belangrikste les - geld groei nie op ‘n mens se rug nie! Ek het per e-pos met Linette gesels oor haar boek, haar ingesteldheid deesdae oor geld en hoe die pad vorentoe lyk.

Was jy enigsins voorberei oor hoe om met geld te werk toe jy nog ‘n kind was?
Die kort antwoord is ‘nee'; trouens, die hele tydgees - die 60's tot 80's - was daarop toegespits om jou alles te leer van wanneer Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het, tot by hoe om mielieblom-vorms & rotskoekies te maak (en jou tussenin te oortuig dat die ooievaar babas maak en dat Hendrik Verwoerd eintlik ‘n hero was) ... nie heeltemal wat vandag as lewensvaardighede bekend staan nie.

Dink jy jy het ‘n realistiese besef van die waarde van geld gehad?
Weer eens, nee. En deur die jare het die ding op verskillende vlakke uitgespeel. Ek dink byvoorbeeld aan ‘n klompie jare gelede toe ek nog lekker geld uitgegee het aan die hand van twee kredietkaarte, ‘n oortrokke fasiliteit, en aansienlik meer besteebare inkomste as wat ek nou het. As jy my toe gevra het wat kos twee liter melk, 12 rolle toiletpapier of ‘n boks Omo, of waar jy die beste specials op brood en blikke tuna kry, sou ek waarskynlik ietwat afwesig my kop geskud het. Deesdae is ek ‘n wandelende verbruikers Flinkdink! Vandat ek in skuldberading is, dink ek baie aan die aanhaling (ek weet nie wie dit gesê het nie): ‘She knew the price of everything and the value of nothing.' Ek hoop ek is besig om vinnig op dreef en op datum te kom met albei!

Hoe moeilik was dit om jouself in die hande van ‘n skuldberader te plaas na jy besef het jou geldsake is in ‘n gemors?
Dit was moeilik in die sin dat dit my gedwing het om dinge wat ek dekades lank probeer vermy het nie net in die gesig te staar nie, maar om aktief iets daaraan te doen. Wat ook moeilik is, is dat die proses van skuldberading natuurlik die einste dilemma aan die groot klok hang. Maar dieselfde twee goed is ook ‘n groot verligting; om uiteindelik my probleem vierkant in die gesig te staar. Plus, dis baie lekker om te kan sê, "Nee ek kan nie vir lunch gaan nie", of vir my seuntjie te sê, "Nee, Mamma het nie vandag geld daarvoor nie".

Was dit moeilik om jou kredietkaarte op te sny en net met kontant te begin werk?
Dit was verbasend GLAD nie moeilik nie. Ek mis nie een enkele kaart of my oortrokke fasiliteit vir een oomblik nie. Die enigste plek waar dit bietjie pla, is as ek onvoorsiene uitgawes het, soos ‘n bybetaling vir ‘n geyser wat blaas, ‘n rekenaar se sleutelbord wat misterieus nie werk nie - al daai ou dingetjies wat oor en oor bewys daar bestaan eenvoudig nie iets soos ‘n maklike maand nie. Dis die enigste tyd wat ek effens die vangnette mis.

Het jou begrip van geld verander in die proses? Jy praat van: "Van nou af mag ek nie meer volgens die illusie van geld lewe nie. . ."
My ingesteldheid het baie verander. Ek weet van dag tot dag presies wat daar in my bankrekeninge is en watter debietorders afgaan. Ek sukkel nog soms om al die onvoorsiene omstandighede by te reken - ook omdat my inkomste steeds fragmentaries is - vaste inkomste, huur, onderhoud, vryskut - maar ek lewe vir geen oomblik onder die illusie dat ?n paar duisend rand se debietorders sal weggaan as ek dit lank genoeg ignoreer nie.

Is die proses van skuldberading ‘n moeilike een?
Die proses self behels ‘n bietjie rompslomp. Die regsdeel is nog nie heeltemal uitgesorteer nie, en ek kry die indruk die banke se linkerhande weet nie altyd wat hulle regtervoete doen nie. Kortom, skuldberading het nog tandekry-probleme in SA; teenoor Australië waar jy die hele proses aanlyn kan doen. Maar aanlyn sou dit in elk geval nie vir my gedoen het nie. Ek hou van the personal touch, en my berader, Claudia Olivier, se onderskraging is vir my van onskatbare waarde. Kortom, tandekry-probleme en rompslomp ten spyt, skuldberading is vir duisende mense in ons land ‘n lewensredder.

Jy moes weer voltyds gaan werk. Hoe was daardie aanpassing en moes jy opnuut tydsbestuur leer toepas?
Die voltyds werk was aanvanklik vir my baie lekker en die aanpassing verbasend maklik, hoewel dit ook ‘n oomblik van waarheid was om as ‘n proefleser weer te begin by die agentskap waar ek 27 jaar gelede as ‘n belowende jong kopieskrywer ingestap het. Mettertyd het dit egter moeilik geword omdat ek van dag tot dag nie geweet het hoe laat ek by die huis gaan kom nie, wat uiteraard problematies is as ‘n enkelouer van ‘n sewejarige. Plus, ek moes elke dag Sandton toe en terug ry; op sigself genoeg om mens ‘n stresbal op ‘n dag te laat stukkend druk. Ek begin egter 1 Desember werk by Rapport, wat beteken ek is in 'n baie groter mate tussen ‘my mense' - PLUS, dis net om die hoek van my af. Ek kan op ‘n pogo stick werk toe spring. (Lees: Spaar BAIE geld op petrol.)

Dink jy tegnologie wat so ontwikkel het en wat die wêreld ‘n klein wêreld gemaak het, dra by tot mense se aspirasie om meer geld te verdien en daarmee saam meer te bestee?
O ja, maar ek dink een van die grootste sondaars wanneer dit kom by oorbesteding, is dat daar te ‘n groot keuse is. Loop deur enige groterige mall, en jy moet jouself afvra - as jy nie heeltemal beneweld deur al die versoekings romdom jou meer uitgee as wat jy kan bekostig nie - hoeveel klerewinkels het ‘n vrou of ‘n man eintlik nodig, uit hoeveel soorte velsorgreekse behoort jy te kies? Is dit regtig ‘n voorvereiste vir sielsgeluk om uit 18 movies te kies teen R50 elk, en dan nog plusminus dieselfde op te dok vir Smarties, springmielies & Slush Puppies? (Kriptiese leidraad: Ek raak TOENEMEND ALLERGIES vir winkelsentrums!)

Jy praat oor koop en wat koop beteken. Hoekom dink jy het ons so 'n "consumer"-nasie geword, wat so mal is oor koop?
Ek dink nie net ons het ‘n consumer-nasie geword nie; ek dink die wêreld het ‘n consumer-wêreld geword. En die rede hiervoor is, op die oppervlak, die groter beskikbaarheid van goedere (jou punt oor die global village) en die verskeidenheid (my punt oor keuse). Die dieper waarheid lê egter daarin dat ek dink daar is ‘n geestelike leemte wat mense met materiële goedere probeer vul.

In hoofstuk sewe praat jy oor emosionele oorsake van skuld. Wat volgens jou is die grootste hiervan?
Ek dink dit verskil van persoon tot persoon. Wat die meeste van die oorsake egter na my mening gemeen het, is die behoefte na òf ‘n "rush" òf vertroosting/beloning. Vandat ek nie meer kan inspring en koop as die drang my tref nie, besef ek ook fisieke moegheid het dikwels daartoe gelei dat ek koop; dit het my daai bietjie momentum, daai rush gegee. En ook, ek het te dikwels gaan shop uit verveeldheid, uit luiheid om te dink aan ander alternatiewe.

Voel jy bemagtig en bevry nadat jy deur die proses van skuldberading is?
Die antwoord is ja, maar daar lê nog ‘n pad vir my voor, so ek hoop om binne die volgende 12 - 18 maande kumulatief en toenemend bemagtig en bevry te voel. Intussen is dit beslis ook ‘n kwessie van kennis is mag. Plus, jy moet aktief betrokke wees by jou eie proses en nie alles aan jou skuldberader oorlaat nie.

Is jy nou op ‘n gesonde pad wat jou geldsake betref en hoe bestuur jy dit, sodat jy nie weer in die ou roetine van uitgee verval nie?
Ek glo ek is op ‘n gesonde pad, maar mens moet altyd paraat wees, en altyd bedag op jou swakhede. Die hele proses is bietjie van ‘n dans; drie treetjies vorentoe, een agteruit. So jy moet jouself en jou swakhede ken en bestuur. As daai neediness of verveeldheid of gatvolheid of moegheid jou tref, MOENIE na ‘n winkel toe gaan nie. Ek vind byvoorbeeld ek moet steeds versigtig wees as ek moeg is, maar om ander redes. Bv. as ek moet kos maak, en ek is nie lus om te "make do" met wat in die kas is nie, is dit te maklik om gou by Spar te stop. En as jy eers daar is, is die kanse 1 000% meer dat jy onnodig gaan geld uitgee.

Jou beste besparingswenk?
Jy hoef nie ‘n reiniger vir elke oppervlak in jou huis te koop nie. Koop Kleen Green!