Justin en Libby Denbe is die toonbeeld van die Amerikaanse droom: hulle woon saam met hul mooi tienerdogter, Ashlyn, in ‘n pragtige huis in een van Boston se rykste woonbuurte. Justin het ‘n suksesvolle konstruksiemaatskappy, terwyl Libby oënskynlik die perfekte ma en eggenote is. Maar soos die verhaal ontvou en jy sien hoe die gesin se emosies na vore kom, besef jy daar is ‘n paar slange in hierdie paradys. Justin verneuk sy vrou, jare al, en sy weet van niks. Libby pop pille, baie lankal, en hy weet van niks. Maar Ashlyn weet van alles. Dis net, haar ouers weet nie sy weet nie. Dis ‘n boeiende verhaal wat jy enduit moet lees om uit te vind wie is die baasbrein agter die ontvoering, en waarom juis dié gesin. Ek het op haar onlangse besoek aan Suid-Afrika met Lisa Gardner gesels oor hierdie wanfunksionele gesin van Touch & Go (Headline, R235).

Waarom skryf jy spanningsverhale?
Ek het nog altyd graag misdaadverhale gelees en is opreg gefassineer deur die sielkunde van ‘n kriminele brein. Hoekom gebeur slegte goed met goeie mense? En hoe kan ‘n mens só wees? Baie van my boeke probeer om die eeue oue vraag van wat kwaad is te antwoord. Is dit natuur of is dit opvoeding? Daar is nie net een antwoord op hierdie vraag nie. Elkeen van my boeke ondersoek op ‘n sekere manier ‘n ander aspek van die vraag. Ek kan vir jou presies sê wat die aard van Justin Denbe se boosheid is, maar dan gee ek die storie weg.

Jou verhaal gaan oor ‘n gesin wat ontvoer word, met ‘n klomp onderling verwante karakters. Hoe het jy die verhaal geplot?
Ek gaan vir jou ‘n geheim vertel. ‘n Resensent het opgemerk dat die tema in dié boek familie-eenhede is. Daar is die gesin, en daar is die ontvoerders, en daar is die ondersoekspan – dit was nuus vir my! Hy was eintlik so reg oor die familie-eenhede. Toe ek die boek begin skryf het, was my bedoeling om ‘n gesin in krisis uit te beeld. Die Denbes is oënskynlik die perfekte gesin. Ek wou mense wys wat jy sal herken, met kwessies waarby jy kan aanklank vind; Justin en Libby se afgetrokke huwelik, die kwessies tussen ‘n tiener en haar ouers. Dis dinge waarmee die meeste van ons vertroud is. Ek wou karakters skep wat mense sal herken en wat vir lesers ‘n gevoel van intimiteit sou gee.

Jou ontvoerders is nogal morele karakters. Hoe so?
Dis iets waarin ek sterk glo. Wanneer jy ‘n protagonis in ‘n goeie riller skep, wil jy heroïese kwaliteite hê – maar ook swakhede. Ek dink met die afskop van die verhaal is dit reeds duidelik wat elkeen van die Denbes se swakhede is. Dieselfde beginsels geld vir die skurke, hulle moet interessant en prikkelend wees. Hulle kan nie nét boosaardig wees nie. My skurke het ‘n eie morele kode. Een van die ware skurke wat my as skrywer beïnvloed het, was Ted Bundy.  Aan die een kant was hy ‘n gewetenlose massamoordenaar wat baie vroue vermoor het, maar aan die ander kant het hy nooit ‘n onversekerde voertuig gesteel nie, want hy het geglo dis wreed.

Wat het die verhaal vir jou afgeskop?
Die gedagte aan ‘n storie oor ontvoering het vir jare in my kop rondgelê, maar ek het aanhoudend by ‘n blok gekom, want as ek die hoofkarakter laat ontvoer, wat dan? Eendag het ek besef ek kan die blok omseil deur ‘n gesin te ontvoer, want dan kan daar baie in die verhaal gebeur. Met een karakter ervaar jy vrees, maar dit ontlok ‘n intenser emosie as jy vrees vir die lewe van jou kind met ‘n ontvoering, of as jy bang is iets gebeur met jou man – die dinamika verander, want nou het jy die potensiaal vir baie verhoudings om uitmekaar te val en weer op ‘n manier bymekaar te kom. Baie meer vleis vir ‘n verhaal!

Aan die einde van die boek sê Libby sy is steeds lief vir Justin, ten spyte van alles wat hy aan haar gedoen het. Hoe so?
Sy is verlief op die herinnering van die Justin wat sy geken het, en dis moeiliker om dít te laat gaan. Ek is seker vyf jaar later sal dit beslis nie meer die geval wees nie. Sy sal dan al alles verwerk het en hom in ‘n ander lig sien. Sy sal eendag wakker word en besef die verbrokkeling van hul huwelik was nie haar skuld nie; hy het haar die hele tyd met ander vroue verneuk. Ek dink waar sy oor haar liefde vir hom praat, is dit ‘n geval van sy klou nog aan die sekuriteit van dit wat wás. Dis werklik pynlik, die verraad van ontrouheid.

Karakters uit jou vorige boeke maak weer hul verskyning hier. Waarom?
Ek het karakters wat weer verskyn. Touch & Go bring Tessa Leoni van Love You More terug, want ek het gevoel ons moet haar weer sien. Ek het ook baie pos van lesers gekry wat na haar gevra het. My karakters word soos my kinders, ek hou daarvan om hulle sekere tye naby my te hê. In ‘n goeie misdaadverhaal ontwikkel lesers ‘n verhouding met die karakters en dis reg so, want hulle gaan saam deur intense emosies soos wat die verhaal afspeel. Daar’s geweld, daar’s aksie, daar’s die vrees dat iemand sterf en dan is daar die katarsis aan die einde. Natuurlik wil hulle die karakters weer sien.

Hoe skryf jy?
Ek het nooit ‘n meesterplan met my boeke nie. Eerstens dink ek die misdaad uit, en dan kyk ek watter van my karakters en watter wetstoepassers by die scenario pas, en of daar ‘n ander karakter is wat ek graag wil terugbring. Ek maak die verhaal op soos ek aangaan. Elke boek is anders, elkeen kom met ‘n vars idee. Ons is almal saam in hierdie ding, dit moet pret bly.

Doen jy meer navorsing deur lees, of is dit voetwerk?
Albei. Ek hou daarvan om dinge te sien en aan te raak. Ek voel gemaklik as ek by ‘n plek was waaroor ek skryf. Touch & Go is ‘n gelukkige toeval. My buurman was betrokke by die konstruksie van ‘n hipermoderne$250 miljoen-maksimumsekuriteitsgevangenis, sowat een uur se ry noord van waar ons woon. ‘n Paar jaar gelede het hy gevra of ek die fasiliteit wou besigtig. Dit was ‘n fantastiese geleentheid, al het ek nie geweet hoe ek dit ooit sou gebruik nie. Dit het 6 uur geneem om deur die tronk te stap. Dit was toe al in onbruik, want die regering het nooit geld gehad om die tronk te beman en te bestuur nie. Dit was fassinerend om my buurman se binnekennis te kry oor hoe die tronk ontwerp en gebou is. My rug was seer nadat ek vir 6 uur deur die harde sementgange gestap het en my oë het gepyn van die te helder ligte. Dit was oorweldigend.

Waarom laat jy Ashlyn in ‘n verhouding met ‘n ouer man betrokke raak?
Dis die verwerpingskwessie – haar ouers was eers versot op haar en het baie aandag aan haar gegee, en toe verdwyn hulle net skielik uit haar lewe. Sy het seer daaroor. Aan die een kant is sy aangetrokke tot nog ‘n vaderfiguur en aan die ander kant haat sy haar pa, soos tieners maar doen. Sy straf haar pa deur ‘n verhouding met sy vertroueling aan te knoop. Sy is ‘n enigste kind en is nogal wys vir haar ouderdom; sy het insig in haar ouers se verhouding wat hulle self nie het nie. Wat nogal aandoenlik is, is dat die gesin besef hulle het dinge verbrou. Hulle het nie meer as ‘n gesin gefunksioneer nie en het by mekaar verbygeleef. Vir hulle om weer met mekaar te konnekteer, moes hulle letterlik en figuurlik saamgegooi word in die tronk, waar hulle nie ‘n ander keuse gehad het as om teen die ontvoerders saam te staan nie. Hulle was gestroop van alle persoonlike elemente en almal het eenderse oranje oorpakke gedra. Hulle was vir die eerste keer op ‘n plek waar hulle ‘n gesprek kon begin en klaarmaak.