Sy het geval en haar regterarm naby die skouer gebreek én haar been so beseer dat sy van haar kinders afhanklik was vir haar daaglikse versorging. Die pyn en die gesukkel met dokters en hospitale het haar so moedeloos gemaak dat sy haar lus vir die lewe verloor het. Haar kinders was so besig met hul eie dinge dat hulle nie besef het hoe sy agteruitgaan en depressief geraak het nie. Makkie het selfdood probeer en dít het haar kinders laat ingryp. Hulle het 'n pak oefeningboeke en 'n bondel potlode vir haar gekoop met die idee om haar sover te kry om haar emosies neer te skryf en so daardeur te werk. Sy het begin stories skryf, en dit het gelei tot die "Stories uit die Riemland"-reeks. Haar oudste seun, Jaco de Beer, het besluit om die verhale te publiseer. Die 76-jarige Makkie is nou ‘n ywerige skrywer met drie boeke agter haar naam. Gees van die Labrador is die eerste boek in die Riemland-reeks. Dis beskikbaar by http://www.kalahari.com/books/Gees-Van-Die-Labrador/632/45112221.aspx. Ek het per e-pos met Makkie gesels oor haar skrywery.

Waarom het jy eers op so ‘n hoë ouderdom begin skryf?
Vir jare het ek toere en vakansies van ons gesin opgeskryf, maar dit was nie veel meer as kommentaar langs foto's in 'n album nie. Baie plekke was so besonders dat ek dagboek gehou het en wanneer ons terug was by die huis, het ek my notas uitgebrei. My man het 'n paar boeke geskryf en gepubliseer, wat seker ook die saadjie geplant het van 'n boek skryf. Vandag sien ek die Vader se doel hoekom ek in Junie 2009 daardie ramp moes oorkom. Ek het geval en my arm naby die skouer gebreek. Die ongeluk het ons almal nader aan mekaar gebring. Die beste voorbeeld is seker my vriendin, Loeloe, se kuier. As sy nie die aand wat ek probeer het om myself te dood wakker geword het nie, sou ek nie nou oor die voorval kon skryf nie. Die engeltjies het haar wakker gemaak en die Hemelse Vader het besluit ek moet nog vir my kinders en kleinkinders baie dinge skryf voor hy my kom haal.

Hoe het die skrywery jou lewe verander?
Met my seer arm het ek eers oor my pa en ma geskryf, toe oor my skoonouers en besef hoe min ek van hulle weet. Toe ek eers werklik probeer het om ‘n boek te skryf, het dit my so vasgevang dat ek tot laatnag met my een vingertjie die geskrewe bladsye wat ek die dag geskryf het op die rekenaar ingetik het. Dit het my ure en dae geneem. Gelukkig was daar geen tyd om te tob oor wat met my gebeur het nie. Daar was nie tyd vir depressief wees nie – ek was te dringend besig om te skryf.

Watter nuwe vaardighede het jy aangeleer in die nuwe tegnologiese era waarin ons leef, en was die aanpassing moeilik?
Alles was moeilik. Ek kon glad nie tik nie, ek moes alles van vooraf leer. Martie, my kleindogter, het my probeer leer om self te tik, met een vinger. Omdat my regterskouer so seer was, tik ek nog steeds met my linkerhand se voorvinger. Ek was toe al 73 jaar oud en ek kan onthou hoe ek gesoek het na die kleinletters op die sleutelbord. Ek het amper 'n hele dag gesukkel en alles in hoofletters getik voordat Buks, my seun, my gewys het van “Caps Lock”. Vandag weet ek hoe slim hierdie rekenaar is, dit maak selfs party spelfoute reg. Ek het seker baie nuwe dinge geleer, maar om dit vaardighede te noem is seker bietjie voor op die wa. Sodra ek dink ek weet hoe werk Facebook of die e-pos, steek hierdie rekenaar viervoet vas soos 'n bees wat bang is vir die dip.

Jy het depressie gehad en amper selfdood gepleeg. Hoe kan kinders help dat hul ouers nie in so ‘n situasie beland nie?
Dis 'n baie moeilike vraag . . . Jy maak jou kinders na die beste van jou vermoë groot. Hulle verlaat een vir een die huis. In die meeste gevalle sterf jou man en jy is alleen. My kinders bel gereeld, ek is dankbaar daarvoor, maar hulle het hul eie probleme. Hulle kinders het hulle aandag nodig. Mense verskil ook baie. Ek is ‘n opgewekte mens, wat tot op 65 jaar nog permanent gewerk het. Nadat ek my skouer gebreek het en nie kon loop nie, was dit vir my 'n verpletterende terugslag. My kinders het my baie goed ondersteun, maar dit het gevoel of ek net 'n las geword het vir hulle. In werklikheid is dit nie waar nie. Kinders kan help deur ouers aan te moedig om aktief te bly en dinge te doen wat binne hulle vermoë en belangstelling is. Ouers moet ook self kontak hou met hul kinders, vir die kinders gaan kuier as hulle kan. Hulle kan byvoorbeeld mooi goedjies vir die kleinkinders maak en so ook die kleinkinders betrek.

As jy raad vir ouer mense kan gee, wat sal dit wees?
Herhaalde kere het ek al vir my vriendinne gesê, skryf oor jou en jou gesin se lewe, vertel wat hulle as babas gedoen het, hoe elke kind grootgeword het, die lekker vakansies wat julle gehad het. Maak vir elke kind ’n plakboek, met foto's uit sy of haar grootwordjare daarin. Dis nogal baie werk, maar dis iets wat jy vir jou nageslag kan bewaar. Ek sal wat wil gee om net iets soos 'n brief of 'n foto van my grootouers te hê.

Waar het jy die idee vir die storie van “Gees van die Labrador” gekry?
Uit ’n liedjie waar Jim Reeves se ma vertel van Jim se getroue hond wat elke môre saam met hom stasie toe geloop en saans weer vir hom by die stasie gewag het om saam terug huis toe te loop. Nadat Jim in ‘n vliegtuigongeluk gesterf het, het die hond steeds elke môre en aand stasie toe geloop in die hoop om weer sy baas te sien. Die hond sterf van verlange. Dit het 'n geweldige indruk op my gemaak en my net weer herinner aan die onbaatsugtige liefde en lojaliteit wat ons van 'n dier kry. Vir my is die Labrador 'n uitstekende voorbeeld van sulke onvoorwaardelike liefde.

Het jy die karakters gebaseer op mense wat jy ken?
Nee. Die liedjie van Jim Reeves se hond wat hom dood getreur het, was die begin. Die hartseer-storietjie het so aan my hart geruk dat ek ’n boek wou skryf  oor Wagter, die Labrador wat ook treur oor sy basie wat in Egipte gaan veg het. Dis die begin van Gees van die Labrador en van daar af het die storie ontvou. In die Slag van El Alamein sterf Gert se vriend Jan, en Gert kom alleen terug na Driefontein toe. Wagter wag hom by die nuwe paadjie in en lei hom oor die nuwe bruggie huis toe, maar Wagter is al maande gelede dood. Hy is van verlange dood.

Hoeveel van die verhaal wat jy vertel het jy self ervaar?
Ek het as plaaskind grootgeword, my ouers het naby Kareepoort (wes van Brits) geboer. Ná skool is ek met 'n boer uit die omgewing (B K de Beer) getroud. Hy het die boek Agter die Magalies geskryf oor die geskiedenis van Brits en omstreke. Wat die tydvak en van die geskiedenis betref, kon ek op my geheue staatmaak en daaroor skryf. Die gebeure en karakters in die verhaal is 'n produk van my verbeelding.

Moes jy baie navorsing doen om die geskiedkundige gebeure chronologies te hou?
Jaco het my ongelooflik baie gehelp met die volgorde en die name van die plekke in Egipte. My oudste broer, Bokkie, het in die “Noorde” geveg en ek onthou hoe mooi hy in sy kakie-uniform gelyk het. Hy het briewe geskryf oor die toestande in die woestyn en selfs 'n paar foto's vir ons gestuur. Die internet is darem 'n wonderlike ding en ‘n ongelooflike hoeveelheid inligting is vrylik beskikbaar. Besonderhede oor die tuisfront onthou ek uit my man se boek oor die geskiedenis van Brits, maar daar is baie inligting oor die “Rooi en Blou Lussies” wat soldate aan hul uniforms moes dra. Dit verduidelik ook die verdeeldheid in Afrikanergeledere en ek kon meer nalees oor die Ossewabrandwag en die Stormjaers.

Wat skryf jy nou?
Daar is boek-idees wat agter in my kop ronddraai en wag om uit te broei, maar my aandag is op die oomblik by “Skemer”, 'n kort storietjie wat ek 'n paar jaar gelede geskryf het en wat Jaco gepubliseer het as “Skemer oor Aasvoëlkop”. Maar die gebeure en karakters het by my bly spook en dit was asof ek nie rustigheid daaroor kon kry nie. Ek het dit nou uitgebrei na 'n boek. Dit voel na een van my beter pogings en ek is baie opgewonde daaroor. Ek is besig met die finale afrondings voordat ek dit vir Kameeldoring Boeke stuur vir publikasie. Oor my volgende projek wonder ek nog 'n bietjie.