In haar jongste boek, Eenoogkoning (Naledi, R159) is dit die liefdeslewe van Salome Binnemans wat die grondslag van die verhaal vorm. In 1899 ontmoet sy twee mans wat onlosmaaklik deel van haar lewe gaan vorm, Julian Atterbury, seun van ‘n sogenaamde Randlord, en graaf Klaus von Mittelbach, ‘n professionele soldaat in die Königlich Sächsisches Armeekorps. Salome se pa moedig ‘n nadere verbintenis met die manne aan, want hy wil graag sy ongetroude dogter getroud kry met ‘n man met geld. Sy trou weliswaar met graaf Von Mittelbach en hulle verhuis na die kasteel wat hy in die Namib laat bou het. Maar dis nie ‘n verhouding wat altyd so vlot verloop nie, want daar is die oorloë en dan nog Klaus se vurigheid self.  Klaus sterf in 1916 in ‘n veldslag in Duitsland en terug in Suid-Afrika kruis Salome se pad weer met dié van Julian Atterbury. Nou ja, dis ‘n boeiende verhaal vol intrige waarin geskiedkundige gebeure verweef word met die romantiese verhaal van Salome.

Ek het Malene per e-pos uitgevra oor die verhaal.

Wat het jou geïnspireer om hierdie verhaal te skryf?
Vriende van my wat Namibië besoek het, het my van Duwisib-kasteel in die binneland ver anderkant Lüderitz vertel en van die Pruisiese baron wat dit gebou het. Hy het in Duitswes-Afrika in die Schutztruppe geveg toe Duitsland die Nama- en Herero-opstande onderdruk het. Daarna het hy in die Eerste Wêreldoorlog geveg. Ek het graaf Klaus von Mittelbach so losweg op hom geskoei. Ek het ook gewonder oor die vrou wat so ’n man na die wildernis volg, wat om sekere redes lyding en verliese ervaar, en hoe haar lewe tydens die huwelik en daarná sou verloop.

Is jou verhaal op ware gebeure gebaseer?
Die oorloë het almal plaasgevind en gegewens daarvan is waar. Fiktiewe karakters is tussen die ware historiese figure geplaas. Schloss Mittelbach se mense en omstandighede kom uit my verbeelding. Kaapzicht en Schoongezicht ook.

Jy moes ekstensief navorsing doen. Hoe het jy dit aangepak?
Ek het in geskiedenisboeke en op die web die oorloë en politieke strominge nagevors. Ek het Namibië se geografie en geskiedenis ook nagevors. Daarby het ek oor die Duwisib-kasteel en baron Hansheinrich von Wolf gelees in Harald Nestroy se boek Duwisib, a German castle in Namibia and its master Hansheinrich von Wolf.

Hoe het jy aan die titel gekom?
Graaf Von Mittelbach, Salome se man, is in die Herero-oorlog in een oog verblind. Hy het ook deurgaans opgetree soos ’n koning met onderdane. Vandaar Eenoogkoning.

Salome en Siela is op verskillende maniere verbind. Hoe het jy op die verbintenisse besluit?
Vroue het in daardie dae kamerbediendes gehad en in die Kaap was bediendes dikwels die nasate van verskillende rasse. Siela het goed in die rol gepas van ’n mooi bediende van kleur met ’n wit voorsaat, wat vir Salome se man verleidelik sou wees terwyl daar tussen haar en Salome ’n besondere hegte band moes wees. Siela moes ook toon hoe ’n man soos Klaus von Mittelbach ontrou kon wees.

Klaus verraai eintlik vir Salome deur hom op Siela af te dwing, tog bly Salome by Klaus. Hoe so?
In daardie dae het vroue nie so maklik geskei of hul mans verlaat nie. Salome was tog lief vir hom en te trots om druipstert terug te gaan na haar mense toe. Veral omdat haar pa geldelike probleme gehad het en aangedring het dat sy met ’n ryk man trou.

Dis ironies dat Eberhardt ook uiteindelik sy ma verraai deur in sy pa se voetspore te volg deur na die familie kasteel in Duitsland te gaan. Dis ‘n gekompliseerde familie-opset. Brei uit.
Eberhardt is sterk deur sy pa se denke en voorbeeld beïnvloed en hy is grootgemaak met die wete dat hy die titelhouer en erfgenaam van die graafskap in Duitsland sou wees. Sy ma was in hul gesin van sekondêre belang.

Stel jy belang in politiek en hoe dit mense se lewens beïnvloed, want politiek staan sentraal in hierdie verhaal?
Ek stel beslis in politiek belang en dit kom in al my romans voor. Politiek beïnvloed mense se lewens ten sterkste en eintlik is mense dikwels slagoffers van politieke gebeure. Politiek is geskiedenis-in-wording.

Dink jy dis net ‘n ding wat in die Suid-Afrikaanse geskiedenis voorkom, of is dit ‘n universele tema?
Dit is ’n universele tema. Die oorloë van die wêreld het deur mense se politieke oortuigings ontstaan. Die meeste sosio-ekonomiese probleme is ook die gevolge daarvan.

Het dit jou lank geneem om die boek te skryf en was daar iets onverwags wat in die skryf opgeduik het wat jou onkant gevang het?
Ek kry dit nie reg om te gaan sit en net aan een boek te werk nie. Daar het ander boeke tussenin gebeur. Die keuring, die draaie wat die boek loop, die redigering, is ’n tydsame proses. Dit het seker ’n jaar se skryf en oorskryf geverg.

Werk jy aan ‘n nuwe verhaal?
Ek is besig met ’n nuwe verhaal. . . of twee. . .