Dit was die begin van die Poppies vir Pippie-projek, en nou is die poppies ook die hoofkarakters in die boek Prinses Pippie verjaar (LAPA Uitgewers, R40). Theo Vorster, ‘n kunstenaar van Kaapstad, het die karakters lewe gegee met sy kleurvolle illustrasies. Mariska le Grange, ‘n gekwalifiseerde voedseltegnoloog, is deesdae ‘n tuisblyma wat bevoorreg voel dat sy tyd saam met haar kinders, Gideon en Louise, kan deurbring. Haar stokperdjie is om sagte speelgoed te maak en haar kinders is altyd eerste om ‘n nuwe speelding te toets. Hulle skroom nie om hul mening te lug oor wat ma anders kan of moet doen nie. As die huis stil raak en die kinders is by die skool, skryf sy graag en lees soveel sy kan.  Mariska sê sy is dol oor fantasie en stories opmaak en kombineer dit met haar stokperdjie van sagte speelgoed maak. “Daar is niks lekkerder as om ‘n kind se gesig te sien wanneer jy vir hom of haar ‘n speelding gee wat jy self gemaak het nie.”

Is dit jou eerste boek?
Prinses Pippie verjaar is my eerste gepubliseerde boek. Ek het al ‘n paar ander stories geskryf en ook ‘n boek vir ouer kinders, maar dis nog nie gepubliseer nie.

Waarom wou jy dié boek skryf?
Die twee poppies, Prinses Pippie en Pokkels die Superheld, is sedert die begin van die Poppies vir Pippie-projek Isabella se ambassadeurs. Hulle het vir haar geld ingesamel en deur hul Facebookblad met die publiek gekommunikeer. Dit was vir my baie belangrik om dit so te doen, want hulle kon dan op hul eie speelse manier met haar praat en grappies maak. Dit sou nie werk as ek as grootmens dit gedoen het nie. So het elkeen sy eie persoonlikheid ontwikkel, wat dit maklik gemaak het om ‘n storie oor hulle te skryf. Ek het besef ek kon met ‘n boekie soveel meer mense bereik. En dit sou iets moois wees wat Isabella en haar boetie, Arno, ook kan geniet.

Waarom het Isabella se verhaal jou so geraak dat jy ‘n projek begin het?
Ek is self ‘n ma met kindertjies en kon myself nie indink waardeur die gesin en klein Pippie gegaan het nie. Ek het so magteloos gevoel. As ek so iets sien, wonder ek altyd of ’n mens kan help. Ek het ongelukkig nie sakke vol geld gehad om te skenk nie, maar ek kan poppe maak en het genoeg materiale gehad om die projek mee aan te pak. Die besef dat ek kon help, was vir my ongelooflik lekker – veral as ek sien hoe dapper sy is en hoe sy bo alle verwagting net aanhou herstel. Sy het my net weer geleer wat regtig belangrik is in die lewe en dat ons wel ‘n lewende God dien. Ek glo dis die grootste rede waarom haar verhaal my, maar ook die hele land, so aangegryp het. Mense is honger vir goeie nuus. Haar veggees en wil om te lewe het mense se verbeelding aangegryp en hulle laat glo wonderwerke gebeur tog nog.

Hoe het jy aan die karakters Prinses Pippie en Pokkels gekom?
Toe ek met die projek begin het, het ek een van my kleiner patrone gekies wat gepas sou wees vir ‘n klein dogtertjie. Die naam was baie maklik, aangesien dit Isabella se troetelnaam is en die hele SA haar so ken. Pokkels het so ’n rukkie ná Prinses Pippie sy verskyning gemaak, nadat ‘n ma gesê het sy wil graag die projek ondersteun, maar haar seuntjie is nie te vinde vir ‘n dogtertjie-pop nie. Kon daar ‘n beter maatjie vir Prinses Pippie as ‘n superheld wees? Elke seuntjie wil tog een wees. Ek het dieselfde aand gou vir Pokkels gemaak en van toe af was dié twee onafskeidbaar.

Hoe het jy en Theo Paul Vorster by mekaar uitgekom?
Ek het Theo se kunstenaarsvrou by ‘n Kersmark ontmoet en was toe reeds op die uitkyk vir kunstenaars wat moontlik van my ander stories kon illustreer. Toe ek hierdie storie geskryf het, het ek Theo dadelik gekontak. Hy het self ’n klein dogtertjie en het dadelik ingestem om die illustrasies te skenk. Dit was vir ons albei ‘n wonderlike opwindende tyd. Nie een van ons het al deur die proses gegaan nie en het maar koppe bymekaar gesit oor hoeveel illustrasies gemaak moes word. Net om te sien hoe hy die poppies lewe gegee het in elke illustrasie, was vir my so opwindend. Ek kon nie wag dat Pippie en haar ma, Anice, dit moes sien nie.Die illustrasies is gebaseer op die poppies, want die boekie moes herkenbaar wees vir diegene wat reeds bekend was met die Poppies-projek.

Kan lesers nog  van die poppies bestel?
Die doel van die boek was om die poppies te vervang, want ek kon nie voorbly met poppies maak nie. Ek is weer swanger en kan nie meer so baie tyd aan die poppies bestee nie. Ek het wel ‘n klompie Prinses Pippie-poppies gemaak om die bekendstelling van die boekie te vier en daar is nog ‘n paar beskikbaar.  Mense kan my e-pos by mariska@lappoppie.co.za en ek sal vir hulle die nodige inligting aanstuur. Omdat ek alles self gedoen het, het die Poppie-projek net te tydrowend geraak. Dit was ook nie moontlik om iemand aan te stel om my te help poppies maak nie, want ek het 100% van die winste geskenk. Ek glo dis hoekom die projek ‘n sukses was. Maar elke oomblik was vir my ‘n fees en ek sal dit vir niks verruil nie.

Gaan daar nog Prinses Pippie-boeke kom?
Die karaktertjies kan nog op vele avonture gaan. Toe ek met die boekie begin het, het ek nie geweet hoe en waar ek dit gaan publiseer nie. My plan was om self die boekies te laat druk en dit dan uit die hand te verkoop. Maar ek sou net sowat 500 kon druk omdat dit so duur is. ‘n Wonderlike vrou het my op die Poppies vir Pippie-Facebookblad gekontak en my met die regte mense by LAPA Uitgewers in aanraking gebring. LAPA was absoluut wonderlik, hulle het die projek aangeneem en uiteindelik 4 000 boekies gedruk. Al my en Theo se tantième en ‘n gedeelte van die wins uit verkope gaan aan die Isabella Pippie Kruger Gesiggie-fonds gaan. Hopelik is dit so ‘n groot sukses dat hulle sal instem om ‘n opvolg te doen.