So vertel sy vir my terwyl ons rustig oor ontbyt gesels oor haar nuutste boek. Die roerende familiesage  oor drie generasies draai om Colette Cronjé en hoe die besluite wat sy in haar lewe gemaak het, die lewens van haar dogter, Nandi, en kleindogter, Tina, raak. Dan is daar die onderliggende tema van die saudade, ‘n ewig verlangende liefde. Vir Colette het saudade ‘n “lewenslange toestand geword.”  Marita glo jy het nuwe uitdagings nodig en om so ’n familiesage aan te pak, was iets wat sy lankal wou doen. Sy is Portugal toe om self op die spore van die teëlmakers te gaan stap en te kyk na die beskilderde teëls, azulejos, wat vir Colette reg in ‘n liefdesverhouding in verlei het.

Vir eers neem sy ‘n breek van roman-skryf en pak saam met haar man, Alain, nog ‘n resepteboek aan: Winterkos in Provence. Dis die opvolg van haar gewilde Somerkos in Provence. Dit sal in 2014 verskyn en gaan ‘n heerlike projek wees, want nou kan sy weer saam met ander mense werk. Gewoonlik is haar werk maar ‘n alleenwerk, nege tot vyf elke dag, want die ander tye is sy ma en vrou.

Waar kom die storie vandaan?
Ek wou al baie lankal ‘n familiesage skryf en verder in die verlede teruggaan as wat ek al gedoen het. Die verste wat ek teruggegaan het, was die jare 70’s met Die dinge van ‘n kind. Dit was vir my lekker om dit te skryf, want ek kon dit self onthou. Ek wou verder as my eie geboorte teruggaan en skryf oor wat gebeur het voor my geboorte. Ek wou ‘n familie vat oor drie geslagte. Ek het al effe daaraan geraak in ‘n boek soos Vergenoeg, waar ek ‘n ouma, die twee susters, die ma en die kleindogter gehad het – drie geslagte in ‘n klein tydperkie om ‘n sterfbed. Dit fassineer my, drie geslagte, maar baie breër. Ek wou konsentreer op drie vrouekarakters, maar wou ook die pa’s, die broers en die hele familie inbring.

Is Colette die sleutel waarom jy die verhaal gebou het, want sy vertel van die verlede en van die hede en beïnvloed eintlik alles wat gebeur?
Ja, dis eintlik vier geslagte. Omdat Oupa so lanklewend is, is hy amper tot aan die einde nog daar. Maar ek wou drie geslagte vat, minstens van hul kindertyd, die jeugjare tot later in hul lewens. Dit het amper begin as fragmente van die jeugjare. Ek kon die boek nie vroeër doen nie. Die wonder van die internet en soekmasjiene het dit vir my moontlik gemaak om daar op my klein dorpie in die platteland te sit en die navorsing te doen. Ek kon die koerante lees en na die radio luister en na ou nuusfilmpies kyk wat nodig was om my in daai tyd in te dink.

Moes jy ‘n tydlyn maak om die gebeure in die geskiedenis chronologies reg te hou?
Ek maak altyd ‘n tydlyn. Dis nie ‘n uitsondering met dié boek nie. Ek begin by die karakter. In my eie kop moet ek die karakter taamlik goed ken voordat ek begin skryf. En dan het ek alles van wanneer hulle gebore is, waar hulle skoolgegaan het. Baie van die inligting gebruik ek op die ou einde nie in die verhaal nie, maar in my eie kop moet ek dit weet. So ek het ‘n tydlyn vir elke karakter. In hierdie boek was dit net baie belangriker as enigiets wat ek al geskryf het. Ek moes mooi by die tydlyn hou dat daar nie goeters uit sekwens gebeur nie. Ek lees ‘n boek met ‘n sub-redakteur se oog en sien dan goed soos datums wat nie werk nie. Mense wat sê iets het in daai tyd gebeur en dan weet ek dit was nie daai jaar nie. Sulke goed hinder my verskriklik. Ek wou gehad het dinge in my boek moet reg wees. Maar elke keer was die impuls dié van die klein persoonlike geskiedenis, soos Nandi onthou September 1966 nie oor Verwoerd wat dood is nie, maar oor haar ma wat haar swangerskap aankondig soos ‘n oorlog wat aangekondig word: “Ek verwag ‘n babatjie.” As jy aan jou eie lewe dink, en as jy vir mense vra waar hulle was toe prinses Diana dood is, het elkeen ‘n storietjie om te vertel.

In die verhaal is daar heelwat datums wat om verskeie redes geskiedkundig van groot belang is, maar vir die karakters het die dinge wat op dié datums in hul lewens gebeur het eintlik baie meer impak gehad.
Dis baie waar. Dis tog hoe ons die geskiedenis belewe. In oorlog, in aardbewings en wanneer ander groot nuusgebeure plaasvind, is ons eie oorlewing maar waaroor dit gaan. Liefde en haat, want dit kan vir jou baie erger wees.

Waar kom Colette vandaan, want iets moes jou haar gemaak skep het?
Ek kan nie sê dis een spesifieke iemand wat haar geïnspireer het nie. Dis maar soos altyd met al my karakters stukkies van mense. Ek dink ek ken genoeg vroue van daai geslag en die geslag voor my en ja, in my kop het ek haar gesien toe ek begin skryf het. Ek het haar as bejaarde gesien. Toe begin ek hoe sy kleintyd was. Omdat ek vir haar so geskiedenis opgebou het, het sy al duideliker geword in my eie kop. Die interessante deel is waar jy Colette deur haar dogter se oë sien, waar Colette eintlik heeltemal naar voorkom. Dis mos maar daai ding van dogters en ma’s, ‘n tiener sien haar ma eintlik as iemand wat heeltemal verkramp is. Maar ek wou dit inbring, want aan die einde kry jy weer deur Tina ‘n meer simpatieke beeld wat van Colette geword het.

Daar is in hierdie familie geweldig baie raakpunte met gewone Afrikaanse families – daar is verkrampte familielede, verligtes en gemengde bloed.
Dit is so. Baie families het, ten spyte van hul Afrikaansheid, Engelse bloed deur ‘n oupa of so. Ek dink daar is sekere universele dinge in ‘n familieroman wat orals in die wêreld waar sal wees, maar ek wou ook die spesifieke Suid-Afrikaanse dinge inbring en ook eintlik hoe gebaster ons is. Kleinboet trou met ‘n Griek, Colette het ‘n Portugese affair. Dan is daar Sina en Kolletjie, wat baie belangrik is, want hulle is deel van die familie. Sina wat amper haar hele lewe in die buitekamer bly, is so deel van ons Afrikaanse families op die ou end. Jy kan nie oor ‘n Afrikaanse familie skryf sonder om die bediende in te bring nie.

Was die papierpoppe ‘n bewuste element wat jy gebruik het om die generasies met mekaar te verbind?
In ‘n stadium was een van my werkstitels “Papierpoppe”. Dit was vir my te vroulik en te Valley of the Dolls-erig. Die papierpoppe was van die begin af daar. Ek het papierpoppe van my ouma gehad. My ouma het altyd gepraat van cut outs en ek was altyd gretig om daarmee te speel. Toe ek klein was, was daar nog papierpoppe, maar hulle was klaar nie meer so mooi soos dié uit my ma se tyd nie, die Elizabeth Taylor, Dean Martin en so nie. Ons het ure gespeel daarmee. My dogter het nou haar ouma se papierpoppe. Sy speel nie daarmee nie, maar sy kyk elke nou en dan na die mooi rokke. Die poppe is nou al net so flenters soos die papierpoppe in die storie, want hulle is suf gespeel. Die papierpoppe is ‘n simbool van ‘n vergange era. Ek het nie geweet ek gaan die papierpoppe deur die hele verhaal vat nie, dit het net so gebeur. Toe ek gedink het wat Nandi kan gee aan haar kind wat sy nooit gaan sien nie, kon ek net dink aan die papierpop-boks.

Colette is in haar reisjoernaal baie vryer met haar gedagtes en hoe sy haar uitspreek as wanneer sy in haar huwelik of met lede van haar gesin gesels.
Ek het daai deel spesifiek in die eerste persoon gehou, want ek dink baie van ons is so. Ek wou hê haar regte stem moet uitkom, sy ontdek haarself eintlik dan eers. Sy sê ook dan:”Ek ontdek my lyf. Ek ontdek my stem.” In ‘n seker sin het sy nie werklik ‘n stem gehad voor die gebeurtenis in Portugal nie, maar daarna is dit ‘n baie doelbewuste besluit om haar stem vir die res van haar lewe te onderdruk. Want sy doen die regte ding, sy trou met die regte man. Ek het lekker geskryf aan die deel waar ek haar haar eie stem kon gee. Ek was bang daarvoor, maar ek dink ek het haar goed genoeg geken om dit te kon doen.

Was hierdie ‘n emosionele boek vir jou om te skryf?
Ek voel altyd so, met alles wat ek skryf. Skryf kom nie vir my maklik nie. Ek wroeg nogal, oor kommas en punte. Mense dink ek skryf maklik, maar ek werk verskriklik hard om dit te laat lyk of ek dit net so uitgedink het. Ek skryf sinne oor en wik en weeg oor presies watter woord ek waar moet gebruik.

Was daar ‘n punt waar jy vasgehaak het en gedink het nou kan jy nie verder nie?
Reg teen die einde. Ek het nie geweet wat die einde gaan wees nie. Ek het ‘n einde in gedagte gehad soos met my ander boeke, maar dit het toe nie so gewerk nie. Ek wou die eerste weergawe klaar skryf en dan weer Portugal besoek om my feite na te gaan voordat ek die tweede weergawe stuur. Toe sit ek daar, ‘n week voor ek belowe het ek stuur die eerste weergawe, nadat ek dit klaar ‘n paar keer uitgestel het, en ek besef net ek kan nie hierdie laaste paar bladsye skryf as ek nie fisiek in Portugal is nie. Internet kan jou net sover bring. Ek moes daar wees om daardie reuke te kry en die klanke te hoor. Gelukkig kon ek ‘n goedkoop kaartjie kry en ek het ‘n vriend in Portugal wat my bekend gestel het aan mense wat met azulejos werk. En daar, toe sit ek en kyk uit oor die Tagresrivier in ‘n geel toeristebus en skielik weet ek net wat gaan aan die einde gebeur. Toe gaan ek terug en skryf die laaste blaaie. Dit was die enigste tyd in die boek wat ek nie geweet het hoe verder nie, nie omdat ek moeg was vir die verhaal nie, net omdat ek rêrig nie geweet het wat gaan gebeur nie.

Was daar iets in die boek wat jou verras het, wat jy nie regtig beplan het nie?
Verskriklik baie. Ek het ‘n dagboek gehou toe ek daaraan geskryf het, wat ek in blogvorm op my webwerf geplaas het. Daarin kan jy sien hoe baie dit gebeur dat ek ‘n toneel beplan en dan gebeur dit nie. Daar is heelwat goed wat my verras. Ek dink eerlikwaar dis hoekom ek aanhou skryf, want anders is dit darem verskriklik vervelig.

Het jou lesers se verwagtinge deur die jare verander?
Ek weet nie, mense is altyd so gaaf met my. My eie verwagtinge aan myself word al hoe hoër. Mens stel strenger eise aan jouself. Dit word nie makliker nie, net moeiliker. Ek onthou André P Brink het dit jare gelede vir my gesê toe ek as jong skrywer langs hom aan tafel beland het en ek dink baie daaraan. Mens dink jy word gewoond daaraan, maar nooit.