Maar Lindsay is ook die goewerneursvrou van Texas wat haarself vermom het om saam met die aantreklike Mexikaanse dr. Jesse Rinconin in die colonias (plakkerskampe) op die grens te gaan werk. Lindsay se man, goew. Bode Bonner, skiet die dwelmbaron Enrique de la Garcia, oftewel El Diablo, se seun dood toe hy 'n jong meisie probeer verkrag. Dit gebeur tydens 'n jagtog op die plaas van een van Bode se ondersteuners wat baie geld aan sy verkiesingsveldtog bestee. Hierdie moord, waarvan die goewerneur natuurlik skotvry af kom, het verreikende gevolge, want El Diablo sit 'n prys op Bode se kop. Boonop het Bode 'n buite-egtelike verhouding met 'n jong vrou wat in sy kantoor werk. Hy dink Lindsay is onbewus daarvan, maar sy weet daarvan, al sê sy niks. Sy voel oorbodig, want sy vervul bloot 'n seremoniële rol as goewerneursvrou en sy wil graag iets doen wat waarde toevoeg tot haar bestaan. Ná 'n besoek aan die colonias vermom sy haarself en gaan werk daar as verpleegster, deels om afstand tussen haar en Bode met sy manewales te kry. Toe dans die poppe eers!

Skrywer Mark Gimenez se jongste boek, The Governor’s Wife (Sphere), is 'n aksiebelaaide roman met verskeie kinkels. Dis 'n meesleurende verhaal waarin politieke en sosiale kommentaar die basis van die drama vorm. Ek het met Mark gesels tydens sy besoek aan Suid-Afrika.

Ek het op jou webblad gesien jy plaas baie kommentaar van jou lesers. Waarom?
Ek antwoord elke e-pos wat ek van 'n leser kry en het 'n voortdurende stroom kommunikasie met mense wêreldwyd. Dis 'n goeie sakebeginsel, want dis almal mense wat my boeke koop. Dis makliker om 'n leser te behou as om nuwes te kry. Maar ek is soms verstom oor wat ek by hierdie mense leer, bloot deur na hulle te luister. Ek kry ongelooflike stories so, beter as wat ek self kan uitdink. Dis die beste deel van skryf vir my, om te luister, te leer en mense te ontmoet wat ek andersins nooit sou ontmoet nie.

Jy is 'n regsgeleerde. Hoe het dit gekom dat jy skryf?
Ek het nogal arm grootgeword en het aan 'n staatkollege gestudeer. Daar het ek my eerste ervaring van kreatiewe skryf gehad. My Engelse professor het gesê ek het talent en my aangemoedig om 'n skryfskool by te woon. Ek het egter 'n geleentheid gekry om regte aan die Berkeley-universiteit te gaan studeer en hy het gesê ek kon hierdie kans nie laat verbygaan nie. So, ek het toe regte gaan studeer, maar nooit van skryf vergeet nie. Ek hou van die proses om te gaan sit en dan aktief te skryf. Ek verstaan nie hierdie nuwe Amerikaanse neiging wat kop uitsteek nie – naamlik sekere skrywers wat ander skrywers huur om hul skryfwerk vir hulle te doen. Die hele punt van skryf, is om sélf te skryf. Ek het vir 'n groot regsfirma in Dallas gewerk en alles is ondergeskik aan die firma. Dit gaan net daaroor om geld vir die firma te maak. Ek was tien jaar daar en het onverwags my pa aan die dood afgestaan. Dit het my tot stilstand geruk en ek het my lewe in oënskou geneem. Ek het toe op my eie begin praktiseer en tyd gehad vir skryf. Dit was nie meer nodig om 15 ure per dag vir die firma in te sit nie.

Waar het die saadjie vir hierdie verhaal vandaan gekom?
Van die film wat van Edna Ferber se boek, Giant, gemaak is. Dis 'n epiese verhaal oor Texas, waarin Elizabeth Taylor, Rock Hudson en James Dean gespeel het. Die verhaal speel af in een van die vreemdste klein dorpies, Marfa, en bekyk Texas se transformasie van 'n cattle economy na 'n oil economy. Wat ook goed in die verhaal weergegee is, is die Anglo/Latino-verhouding van daardie tyd. Dis nog steeds 'n sleutelverhouding in die geskiedenis van Texas. Die hede en die toekoms gaan bepaal word deur hierdie verhouding.

Ek het 'n voet in elk van die gemeenskappe. Aan moederskant is my herkoms Duits en Engels, en aan vaderskant Spaans en Mexikaans. Dus was ek nog altyd gefassineer deur dié verhouding. Ons het 'n groeiende Latino-bevolking en dit het verreikende gevolge en gaan Texas verander.

Hierdie boek maal al die afgelope 15 jaar in my kop en ek wou 'n oorsigtelike blik op Texas werp, veral die grens. Ons het 'n dwelmoorlog waarin reeds sowat 50 000 mense in die laaste vyf jaar dood is, $30 miljoen vloei van ons oor die grens na die dwelmbaronne in Mexiko en Mexiko word deur hierdie dwelmbaronne beheer. Een oggend het die mense in Nuevo wakker geword en toe hang daar lyke onder die oorbrug. Daar is massa-teregstellings en dis net aan die oorkant van die rivier van ons. Ons oplossing hiervoor is om 'n 18 voet hoë muur te bou. Die grens is in die middel van die rivier, maar jy kan nie die muur daar bou nie. Nou is die muur so myl duskant die rivier en daar is hierdie niemandsland tussenin waar die colonias opgeskiet het. Dit is gek, en dis wat ek in my boek wou ondersoek.

Waarom die titel The Governor’s Wife?
Ek het gewonder hoe ek die storie gaan sentreer en wie die verteller gaan wees. In 2005 het ek deelgeneem aan die Texas Book Festival in Austen. Die goewerneur en sy vrou het 'n geselligheid vir skrywers in die goewerneur se huis aangebied. Ek het die goewerneursvrou, Anita Perry, teëgekom in 'n vertrek en haar gesien voordat sy my opgemerk het. Terwyl sy by die deur na die spul mense gekyk het, het sy 'n uitdrukking op haar gesig gehad van: “Moet ek dit alwéér doen?” Dis hoe dit vir my gelyk het, maar sy kan moontlik daarvan hou om die mense te ontvang. Op daardie oomblik het ek besluit die titel van die boek is The Governor’s Wife en dat die verhaal om haar sal sentreer. Dis waar dit begin het.

Hoe skryf jy?
Ek beplan elke toneel, sodat ek weet as dít gebeur, dan gaan dát gebeur. Ek maak seker die storie werk. Die proloog, die absolute begin, is dan die eerste ding wat ek dan skryf, en die tweede ding wat ek skryf, is die epiloog, die absolute einde. Ek wil weet van waar na waar ek my karakters lei en op watter punt ek hulle los. Daarna skryf ek elke toneel, want ons sien net 'n gedeelte van die karakters se lewe en ek wil seker maak ek begin en eindig met elkeen op die regte plek. As ek dit nie doen nie, begin ek afdwaal. Dis maklik vir my om af te dwaal, want ek doen breedvoerig navorsing – in so 'n mate dat ek heeltemal te veel materiaal het.

Die pit van jou verhaal is sosiale kommentaar. Jy gee 'n siniese blik op die politiek en plaas baie klem op die sosio-ekonomiese kwessies. Is dit vir jou belangrik?
Ja. Ons het 'n baie verdeelde land wat die politiek betref. Ek wil net hê die regering en die politiek moet oplossings verskaf. Ons het baie probleme, maar ons skep min oplossings. Die boek is nie my persoonlike politieke uitkyk of persoonlike agenda nie. Ek het gekyk na die goewerneur van Texas en wat hy doen. Nie veel nie, want die goewerneur van Texas het baie min mag. So, wat gaan die goewerneur vandag doen? Hy gaan 'n politieke advertensie maak, maar wat gaan hy daarin sê? Hy gaan geen liberale demokratiese stellings maak nie, want in Texas kan jy nie 'n liberale Demokraat wees nie. Die afgelope twintig jaar het geen Demokraat enige verkiesing in Texas gewen nie. As jy die goewerneur van Texas wil wees, moet jy regs en konserwatief wees. Ek dink baie van wat hulle sê en dit wat hulle glo, is nie noodwendig dieselfde nie. Bode se dogter is lesbies en hy is mal oor haar, maar hy lewer uitsprake teen gay-regte. Nou hoe nou? Baie van die dinge wat Bode in die boek doen, kom direk uit dinge wat in Texas se politiek gebeur het.

Jy beeld Bode se karakter nie baie vleiend uit nie. Hy kom voor as selfgesentreerd en bombasties.
Van die dag dat hy gebore is, was Bode 'n ster.Baie van ons politici in Texas was atlete en leer van vroeg af dat hulle 'n ster is. Hulle vergeet dit nooit nie. Almal is daar om hulle te dien en nie andersom nie. Dit verstom my dat dít die mense is wat die politiek betree. Die ironie van Bode is dat hy nooit eers aan Lindsay se kant van die saak dink nie. Alles gaan net oor hom en hy glo hy is verhewe bo almal. Daar is spesiale reëls vir hom.

Jesse is die ideale teenstelling vir Bode in die verhaal.
Jesse is alles wat ons wens ons was.

Hoe het jy aan El Diablo, oftewel Enrique de la Garcia, se karakter gekom?
Ek het hom deeglik nagevors. Baie mense in Mexiko glo die dwelmbaronne is die enigste bron van inkomste en hulle verskaf die enigste werkgeleenthede wat daar is. Hierdie dwelmbaronne help ook die gemeenskap en gee baie geld aan die kerk. Hulle word as moderne Robin Hoods gesien. Die regering bestaan nie en wet en orde nog minder.

Daar is een spesifieke dwelmbaron wat 'n erekode het, soortgelyk aan dié van El Diablo in die boek. Hy glo onwrikbaar aan die volgende dinge: Hulle verkoop nie dwelms aan Mexikane nie; hulle verkoop net dwelms aan Amerikaners; hulle gee geld aan die gemeenskap en aan die kerk; hulle straf self hul eie oortreders wat die reëls oortree deur teregstelling. Die ironie is dat hulle terselfdertyd dwelms verkoop wat derduisende mense se lewens verwoes, maar dis net besigheid ...

Het jy Lindsay se karakter op iemand gebaseer?
Ek praat met my vrou en met ander vroue om seker te maak ek beeld die vrouekarakters reg uit. Ek het dat my vrou na Lindsay se eienskappe kyk om seker te maak dis geloofwaardig. Sy is nie op een spesifieke vrou gebaseer nie, maar op elemente wat ek by verskillende vroue opgemerk het. Vir haar is Bode die pa van haar kind en haar familie is belangrik. Sy gaan nooit oor tot 'n fisieke verhouding met Jesse nie, al raak sy verlief op hom. Ek het hierdie ding deeglik met my vrou gedebatteer. Moet Lindsay, of moet sy nie? Ek het gevoel met haar karakter sou dit nie die regte ding wees nie. Dis nie wie sy is nie. Sy is na die colonias omdat sy weer wou voel haar lewe het waarde en dat sy iets vir iemand beteken. Sy wou nie oud en uitgedien voel nie.

Waarom het jy Jesse laat sterf aan die einde van die boek?
Omdat die eerste reël van die boek sê: ”Dying is a way of life on the border.” En dit is so – 50 000 mense het al op daardie grens gesterf. Dit was moeilik om Jesse te laat sterf. Hy móés sterf, hy is die goeie ou. Die werklikheid is daar sterf elke dag goeie mense. Dit was moeilik om te skryf.

Hoop jy dat jou lesers 'n beter insig sal kry oor die ontoereikenheid van die politieke bestel en hoe dit funksioneer?
Ek het nie my boek geskryf om die wêreld te verander nie, want ek is nie seker dat ek kan nie. Ek wil mense op reis neem na 'n plek waar hulle nog nie was nie en om te dink oor die plek.