Maal (Quellerie, R175) is haar debuutbundel. Maar wat ‘n debuut! Die verhale is uiteenlopend en die karakters beleef almal die een of ander dilemma in hul lewens waarmee ons moderne samelewing kan vereenselwig. Nie alleen is daar kos en eet ter sprake nie, maar hulle word gemaal deur die elemente van die lewe. Party van die verhale is ontstellend, miskien omdat dit ‘n lewensaar raakboor. Ander is onthutsend, want hoe kan iemand doen wat hy of sy doen! Ander is so hartseer. . . Die skrywer beskryf haar karakters en hul agtergrond op so 'n manier dat jy 'n duidelike prentjie in jou kop kan vorm - dis amper of jy die tonele voor jou kan sien afspeel. Maar al die verhale bly interessant en ek kon die bundel nie neersit nie. Eers met die tweede lees het ek nuanses opgetel wat ek die eerste keer gemis het. Hierdie een is vir lees en weer lees! Ek het per e-pos met Nicole gesels oor haar skrywery en haar lewe.

Wanneer het jy begin skryf?
Ek dink ek skryf vandat ek kan - sinne, briewe, dagboeke, regsdokumente, hier en daar 'n artikel vir 'n tydskrif of koerant - maar ek het nooit gedink ek sal 'n boek skryf of 'n skrywer word nie. Trouens, steeds as ek my beroep op 'n vorm moet invul, skryf ek "Ma".

Doen jy dit voltyds?
As die vraag is of ek 'n ander werk het as skryf, is die antwoord nee. Maar ek versorg voltyds ons drie kinders en skryf wanneer ek nie besig is met hulle of hul aktiwiteite nie. Ek beskou skryf nie as 'n werk nie - nog nie! - maar as iets wat meestal vir my 'n plesier is en wat ek doen omdat ek daarvan hou.

Het jy ‘n roetine wanneer jy skryf? ‘n Spesiale plek waar jy moet skryf, ‘n spesiale pen waarmee jy skryf. . . ‘n sekere ritueel?
Nee wat. Ek skryf wanneer ek 'n kansie kry, soms so min as tien minute op 'n slag. Dis gewoonlik vroegoggend of laat saans, of as ek gelukkig is op 'n meer beskaafde tyd wanneer my twee seuns in die skool is en ek my dogtertjie kan oortuig om met iemand anders te speel. Met die skryf van Maal was sy nog 'n baba; etlike stories het ek met een hand getik terwyl sy in my ander arm lê en slaap.

Ek skryf meestal op 'n skootrekenaar voor 'n venster by my ou skryftafeltjie, wat ek jare gelede by 'n tweedehandswinkel in Tuine, Kaapstad gekoop het, maar as daar 'n vuur in die eetkamer brand, sal ek laataand soontoe skuif. Ek het nie 'n spesiale pen nie - nes die karakters in ''Bestemmings'' sal ek dit waarskynlik verloor - maar ek is wel baie geheg aan my versameling moleskine-notaboeke, wat ek almal hou. Ek maak gereeld notas ingeval ek iets vergeet. Ek sal vreemde goed van lank gelede soos gister onthou, maar 'n sin wat ek uitdink terwyl ek by die krieket of pottebakkery sit en wag, teen die aand wanneer ek by skryf kom, nie weer tussen al die ander gedagtes vind nie.

Vertel bietjie meer oor jouself.
Soos jy nou reeds weet, is ek die ma van drie kinders. Ons woon in Kaapstad en dis waar ons graag wil wees. As jy twintig jaar terug vir my gesê het ek gaan voltyds na my kinders omsien, sou ek dit nie geglo het nie - ek was doelgerig op pad om 'n beroepsvrou te word, 'n prokureur of advokaat. Maar toe die kinders kom, het ek die regte vaarwel geroep. Ek was nog nooit spyt nie. Ek glo ook nie ek sou 'n boek geskryf het as ek gewerk het nie. Ek is 'n introvert, maar mense is vir my baie belangrik - in allerhande opsigte. Ek hou van die buitelug en ons stap gereeld. Ek is lief vir kos maak en lekker eet; musiek en kuns. En mal oor reis en nuwe plekke leer ken.

Waarom kortverhale?
Goeie vraag! Ek was nooit 'n groot kortverhaalleser nie, maar met die aanvang van my MA in Skeppende Skryfkunde het my studieleier, Etienne van Heerden, voorgestel dat ek kortverhale skryf. Ek is baie bly ek het na hom geluister; die kortverhale het goed vir my gewerk omdat ek 'n storie kon aanpak en klaar skryf. Dit het perfek ingepas by die gefragmenteerde aard van die skryfproses wat ek op die oomblik volg. En ek kon verskillende stemme en gegewens ontgin.

Waarom die titel "Maal"?
Ek moet bieg dat my man, Ben, die titel uitgedink het. Toe ek begin werk het aan die bundel het ek 'n paar temas gekies waarmee ek die stories aan mekaar wou bind, en een van die belangrikstes is eet en kos en maaltye. Maar die woord dui ook op hoe die karakters in die boek almal op een of ander manier deur die lewe gemaal word, dikwels meer as een keer. En hulle almal, soos die meeste van ons, is maar 'n bietjie "mal".

Reis jy baie, want jy gee baie goeie beskrywings van plekke in jou verhale?
'n Ander tema wat deur die bundel loop, is stede. Ek het vooraf besluit dat elke verhaal in 'n ander stad sal afspeel, maar net in stede waar ek self was. So ja, ek reis graag, nie so gereeld soos wat ek sou wou nie, en deesdae heeltemal anders, met die kinders by. Ek het 'n jaar lank in Londen gewoon en heelwat van die stede in daardie tyd besoek. Ek maak notas terwyl ek reis en neem baie foto's wat my geheue verfris wanneer ek oor plekke skryf.

Gunsteling-bestemming?
Sjoe, daar's baie, en so baie wat nog wag! Maar as ek moet kies: die Place des Vosges in Parys, die stil stegies van Venesië, die kuspaadjie op Hermanus, ons eie stoep teen Tafelberg. Die Tankwa-Karoo. Jammer, dis geen keuse nie. . .

Al die mense in jou verhale het ‘n weerloosheid en beleef emosionele wroeging. Waarom nie skryf oor gelukkige mense nie?
Ken jy die openingsin van Anna Karenina: "Happy families are all alike; every unhappy family is unhappy in its own way"? Ek kan dit nie beter as Tolstoi sê nie, behalwe dat my boek oor ongelukkige individue gaan eerder as families, hoewel die families van die individue natuurlik in baie van die verhale saam met die hoofkarakters wroeg. Maar hulle is darem nie almal noodwendig ongelukkig nie; in sommige gevalle is dit eerder hul uniekheid of eienaardigheid wat ek probeer toelig, soos die koppiepakker in ''Koppies in die Kas'' en die voyeur in ''Die Konsert''. Of 'n onverwagse draai wat die lewe met hulle loop, soos die man in Barcelona in ''Proviand''. Ek dink aan die einde van ''Het Begin'' is die hoofkarakter, ironies genoeg, so na aan geluk as wat hy kan kom.

En waarom spesifieke dilemmas aanraak, dwelmverslawing, depressie, ens?
Dwelmverslawing en depressie, verlies en vrees (om maar 'n paar te noem), is net soveel deel van die lewe soos sonskyn en samesyn. Ek weet eerlikwaar nie wat eerste gekom het, die karakters of hul dilemmas nie. Maar die dilemmas is in die meeste gevalle net so belangrik vir die stories as die karakters self. Dis maar waaroor hul verhale gaan - die mate waarop hulle deur hul eie probleme en die lewe self gemaal word.

Wat is jou gunsteling-verhaal in die bundel en waarom?
Ek het nie 'n gunsteling nie. Die verhaal wat my al meer as een keer in trane gehad het (en moenie my vra hoekom nie, ek is elke keer erg verbaas, maar dis waarskynlik omdat my kinders dieselfde ouderdom as die kinders in die storie is), is ''Die Fees van Gent''. En baie na aan my hart lê ''Katinka Kook'', seker omdat ek dit eerste geskryf het en omdat dit in Kaapstad afspeel. Persoonlik dink ek die laaste, langste verhaal, ''Padkos'', is die beste, maar ek hou nie daarvan om dit te lees nie. Dalk omdat dit my herinner aan hoe ver ek (en Alile, die hoofkarakter) vyfuur soggens moes reis om by die einde uit te kom.

Grond jy jou karakters op mense wat jy ken, gesien het of is hulle totaal fiktief?
Nee, ek baseer beslis nie karakters op bekendes nie, ek dink dis 'n gevaarlike ding om te doen. Maar nou met die herlees van die verhale in boekvorm - die eerste keer wat ek lees sonder om heeltyd alles te wil verander, want ek kan nie! - herken ek eienskappe (dikwels oënskynlike onbenullighede) wat ek onbewustelik by bekendes gaan leen het. Maar die karakters is almal totaal fiktief, tot so 'n mate dat selfs in die een verhaal wat op werklike gebeure gebaseer is - ''Aangekla'' - die hoofkarakter nie die persoon is met wie dit gebeur het nie.

Maar ja, vreemdes gebruik ek wel. Of iets spesifieks aan iemand wat ek sien. Die paartjie in die koffiehuis in ''Die Konsert'', waarmee die bundel afskop, het byvoorbeeld aan 'n tafel langs ons by 'n restaurant in die Waterfront gesit. Om een of ander rede het hulle my gefassineer, maar die storie het ek uitgedink, en ek glo nie hulle sal hulself in die verhaalgegewens kan herken nie.

Waar vind jy jou inspirasie?
In die wete dat my skryftyd beperk is en dat dit enige oomblik onderbreek kan word voordat ek klaar is met wat ek graag wou skryf.

Wat lees jy? Gunsteling-boek?
Op die oomblik lees ek The Lacuna van Barbara Kingsolver. Sy weef met woorde - dít is 'n inspirasie! Ek lees meestal romans en biografieë, maar deesdae ook meer kortverhale. En ek is baie lief vir poësie. Koerante en tydskrifte lees ek daagliks; ek verslind en versamel kookboeke soos kleinode. Maar geen gunstelinge nie, dit wissel.

As jy ‘n skrywer vir ete en ‘n gesprek kon ontmoet, wie sal dit wees?
Elsa Joubert.

Waaraan werk jy tans?
Ek werk aan 'n roman.