Daarmee het sy baie mense die harnas in gejaag en ‘n debat ontketen oor wat en wat nie goeie argitektuur in Suid-Afrika is nie. Die nadraai van die debat was dat sy ‘n lywige publikasie saamgestel het met voorbeelde van die top-ontwerpe in ons land. Sy het met Phyllis Green gesels oor argitektuur in SA en haar boek, 10 Years + 100 Buildings, Architecture in a democratic South Africa (Bell-Roberts, R450).

Waarom so 'n omvattende boek oor SA argitektuur?
Met my intreerede by die Universiteit van Pretoria in November 2004 het ek kommentaar gelewer oor die algemene stand en standaard van argitektuur in SA. Dit het tot ‘n hele debat gelei in die bedryf en in die media en almal wou toe weet wat as goeie argitektuur beskryf kan word. Daar is geen omvattende boek oor kontemporêre argitektuur in SA nie en toe het die gedagte by my ontstaan om so 'n boek saam te stel.

Hoe het jy op die formaat van die boek besluit?
Ek het die boek 10 Years 100 Artists: Art in a Democratic South Africa (Sophie Perryer, Bell-Roberts) gesien en baie daarvan gehou. Ek het die uitgewers genader en gevra of ons die boek oor argitektuur in dieselfde formaat kan saamstel. Ek het ‘n uitnodiging gestuur aan die Suid-Afrikaanse Instituut van Argitekte waarin ek argitekte genooi het om ontwerpe van hul werke, wat hulle voel in so 'n boek hoort, in te stuur. Ek het ook met akademici gewerk by die ses universiteite en gevra hulle moet werk in hul omgewing voorstel.

Hoe lank het jy aan die boek gewerk?
Dit het drie jaar geneem. Al die projekte wat benoem is, moes geëvalueer word en die invloedrykste projekte van die afgelope dekade (aanvangsdatum 1994) is geïdentifiseer. Die sitasies waarin die meriete van elke projek verduidelik word, is deur die akademici geskryf. Daar is ook ‘n inleidende artikel oor elke streek. Dit het sin gemaak om die ontwerpe in streke op te deel en so aan te bied. Die boek het baie sterk akademiese inhoud, maar dit sal vir alle lesers ‘n goeie idee gee oor goeie argitektuur en ontwerp. En die boek is visueel baie mooi aanmekaar gesit.

Watter tipe ontwerpe is opgeneem in die boek?
Projekte waar die argitekte innoverend was, sosio-ekonomiese projekte en werk wat hopelik ekologies vriendelik is. Dis nie ikoniesgedrewe nie, maar tog eietyds en kontemporêr.

Watter is jou persoonlike gunstelinge?
Ek hou van Silvio Rech se werk. Dis idiosinkraties. Een van die mooiste reekse is dié in die Wes-Kaap. Dis baie sterk omgewingsgedrewe - die werk is understated.

Wat was jou doel met die boek?
Dis ‘n baie nuttige naslaanwerk vir studente en vir praktisyns. Dis ook ‘n showcase van Suid-Afrikaanse argitektuur vir die res van die wêreld. Dis ook ‘n goeie verwysing vir enigeen wat belangstel in goeie ontwerp.

Wat lê voor?
Ek oorweeg om ‘n boek oor die beste studente-projekte oor die afgelope tien jaar te doen. Studente wat sonder finansiële parameters werk, het die vermoë om meer innoverend met die teoretiese diskoers van argitektuur te kan omgaan.

Besoek http://www.bell-roberts.com/10years100buildings/ vir meer oor die boek. Die boek is aanlyn beskikbaar by www.bell-roberts.com en by Exclusive Books.