Só sê Pieter J. Mathews, argitek en mede-eienaar van Mathews and Associates Architects cc van Pretoria. Hy glo argitekte het ook 'n verantwoordelikheid om toe te sien dat die algemene publiek, voornemende argitekte, asook kliënte opgevoed en ingelig word oor goeie ontwerp. Dis die enigste manier hoe die standaard van argitektuur en ontwerp sal verbeter. Volgens hom kan argitekte nie kla oor lelike ontwerp as hulle nie self iets doen om die standaard te verbeter nie. Sy onderneming het onlangs sy tiende verjaardag gevier, en as deel van die herdenking van die mylpaal het hy 'n boek saamgestel, A Decade of Design From the Office of Mathews + Associates Architects cc (Visual Books, R210).

Hierin is voorbeelde van projekte wat die argitekte oor die afgelope dekade gedoen het. Die boek is nie in groot koffietafel-formaat nie, maar kleinerig en lê gemaklik in jou hand. Verrassend is dat die foto's almal swart-wit is. Wat in al die projekte opval, is 'n gestrooptheid en eenvoudige, grafiese lyne. Die onderneming se toekomsvisie is om gefokus te bly en werk te doen wat die toets van die tyd sal deurstaan.

Pieter was as redakteur betrokke by die boek Contemporary Capital, An Architectural Journal (Visual Books, R345),wat vroeër vanjaar deur die Pretoriase Instituut vir Argitekte (PIA) uitgegee is. In die boek word 'n verskeidenheid geboue in en rondom Pretoria gewys. Dit sluit in openbare en institusionele geboue, asook ander kommersiële projekte, private wonings, herbouings en aanbouings. Nie alleen gee die boek 'n historiese oorsig oor die argitektuur van Pretoria nie, maar ook 'n blik op nuwe kontemporêre ontwerpe. Ek het oor 'n koppie koffie met Pieter gesels oor die twee boeke, wat 'n bydrae lewer tot plaaslike literatuur oor argitektuur.

Waarom die boek A Decade of Design uitgee?
Dis vir die firma, maar ook om vir die kliënte dankie te sê en dan ook om die portefeulje bymekaar te bring en dit te deel. Ons wou nie elke gebou, of elke detail wys nie, maar net die argitektoniese hoogtepunt van elke projek. Elkeen het iets wat spesiaal is. Die boek moes soos musiek wees. Dit begin en dan blaai jy net deur. Ons het teks uitgehaal, want ons wou nie jou oog stop nie. Dis soos visuele musiek.

Hoekom is die boek in swart-wit?
Ons het die kleur uitgehaal, want dit trek die aandag af van ruimte en tekstuur van argitektuur. Ons het gekyk na die jare vyftig en sestig toe daar meesal net swart-wit boeke oor argitektuur was. So kyk jy net na die essensie, jy kyk na die venster en die lig. 'n Kleurryke interieur trek die aandag af; daar is genoeg interieur-boeke. Ons het gefokus op ontwerp en weggebly van meubels en binneversiering. Die fokus was op dit wat jy bou. Ons het nietemin 'n kans gevat om net swart-wit foto's te gebruik; op die boekrak lyk die boek seker vaal, maar vir ons is dit 'n versamelstuk En verrassend genoeg is die boek beter ontvang as wat ons verwag het.

Dink jy mense is sat vir kleur en daarom is swart-wit 'n aantrekkingspunt, veral in ontwerp?
Ek dink so. Ons gaan terug na die essensie toe. Ons word daagliks oorlaai, alles is kleur: TV, advertensies en die internet. Die idee van swart-wit is bietjie retro, maar vir ons is hierdie boek net om mense te inspireer. Die verwysings by elke ontwerp is agter in die boek. Elke projek is in drie sinne beskryf: As 'n konsep nie in drie sinne vasgevang kan word nie, is dit nie 'n konsep nie.

Tien jaar is 'n lang tyd vir 'n onderneming en daar was baie projekte in dié tyd. Hoe kies jy wat om in so 'n boek in te sluit?
Elke projek het meriete, maar ons wou verskeidenheid wys en toe het ons gekyk watter foto's reflekteer dit die beste. Ons het ook probeer om al die verskillende soorte geboue en die detail te wys. Dit moes verteenwoordigend wees van ons ontwerpe die afgelope tien jaar. Daar is so 'n paar seminale projekte van voor die tyd wat ons ingesluit het, projekte wat alleen gestaan het in die Toskaanse era.

Is daar 'n projek waarop jy baie trots voel en wat vir jou 'n hoogtepunt is?
Dis moeilik, maar ek dink my eie huis. Vyftien jaar gelede, tydens die hoog Toskaanse era, as mense by my huis verby gekom het, kon hulle dit nie verstaan nie. Maar die arbeiders kon dit verstaan. Die eenvoud, die rou essensie, my huis het alleen gestaan.

Wat maak jou werk anders as die Toskaanse era?
Toskaans was 'n maklike resep. Jy het 'n ingang, twee kolomme, 'n kandelaar, dis geel geverf met 'n terracotta-dak. Jy kry sommer die idee, die beeld wat water uitspuit, voor in die middel van die tuin. Dis alles baie simmetries. Dis voorspelbaar. Die voordeel was die bouers het presies geweet hoe om te bou, mense kon sien wat die bure het en kon presies dieselfde doen. Dit was ook in 'n tyd wat ons afgesonder was. Ons kon moeiliker reis, ons kon moeiliker akademiese geskrifte kry. En hierdie Toskaanse era was 'n turbulente tyd. Dit het byna 'n valse stabiliteit gegee: Hierdie ou Toskaanse huis waarin ek bly, al was dit nie 'n ou huis nie, daar was 'n onderliggende sielkundige gravitas wat in werklikheid nie daar nie was nie - dit was 'n plasebo-effek.

Ons ontwerp verskil hiervan. Wat ons sê, is elke ding moet fit for purpose wees vir daai terrein vir daai kliënt. En elke keer kry jy wenke uit die terrein en uit die kliënt. So, eintlik is elke ontwerp uniek.

Het julle ontwerpe 'n kenmerkende styl?
Die kenmerkende styl is 'n sterk grafiese kwaliteit. Ons probeer wegkom van goed wat nie funksie of rede het nie. Dis belangrik by alle goeie ontwerpe. Dis eg, eerlik en toepaslik.

Wat is vir jou 'n uitdaging om te ontwerp?
Woonhuise is lekker, dis spesiaal en dis nie burokraties nie, dis 'n intieme proses. Maar die openbare projekte is ook lekker. Almal kan dit geniet. Ons doen nou die Nellmapiusbrug oor die N1-hoofweg. Almal wat daar ry, gaan 'n mening daaroor hê – party gaan daarvan hou en ander nie. En dis tog eintlik wat jy as argitek wil hê, dat jou ontwerp reaksie moet uitlok.

Jy het al ander boeke ook gepubliseer. Wat trek jou om te publiseer?
Ek weet nie. Dis seker soos om kinders te kry. Dit is maar net om te deel en ek doen dit ook vir myself. Daar is nie geld in nie. Elke keer sê ek ek gaan nie weer 'n boek doen nie. Maar dan ontmoet ek iemand soos 'n motorwerktuigkundige wat my vertel hy het my boek gekoop en hy was geïnspireer daardeur. Dis vir my 'n kompliment. Ek glo 'n mens moet nie net kla oor die stand van ontwerp nie, jy moet argitektuur na die mense toe vat. Jy moet vir mense wys hoe kan goed lyk. As jy nie vir hulle wys nie, gaan hulle terugval op hul verwysingsraamwerk.

Contemporary Capital, waarvan jy die redakteur was, wys meer van Pretoria en omliggende streke se geboue. Waarom het die PIA die boek uitgegee?
Dis juis om Pretoria se argitektuur te wys. Dis 'n platform om die publiek op te lei om te sien wat in Pretoria gebeur. Baie mense het die idee Pretoria is nog agter die boereworsgordyn. Jy sien nie die versameling geboue bymekaar nie. Hierdie is 'n joernaal van goeie argiteksfirmas in Pretoria. Die boek is ook vir besluitnemers om te sien wat kan gedoen word. Daar is ook 'n hoofstuk oor die bewaring van ons argitektuur, nie die geboue wat deur die wet bewaar word nie. Daar is baie modernistiese geboue van die laat vyftigs en sestigs wat nie onder die wet val nie. Kyk na die Vleisraad-gebou, die Aula by die Universiteit van Pretoria. Jy kan nie dié goed afbreek en later sê ek moes 'n voorbeeld van die ontwerpstyl van die era bewaar het nie.

Het Pretoria argitektoniese waarde?
Ja, daar is geweldige waarde. Kyk na die ontwerpe van Baker, Leith, Norman Eton en die Hollandse invloed – die geboue rondom Kerkplein. Norman Eton het begin om weg te beweeg van die internasionale modernisme om te kyk wat maak Pretoria spesiaal. Die Van Wouw-huis se grasdak, die plat steentjies, die materiale wat hier uitkom. Hulle het na binne begin kyk, na die klimaat. Ons het 'n baie sterk Brasiliaanse invloed deur Oscar Niemeyer wat in Brasilië gepraktiseer het. Hulle het 'n hele nuwe hoofstad tot stand gebring en daar kon hulle heeltemal hul eie ding doen, weg van die geskiedenis. Van die kenmerke is kolomme en moderne, sterk vorme. Ons pas dieselfde sonbeheer toe, soos die lang paneel op die Vleisraad-gebou. Ons deel nie net jakarandabome met hulle nie, maar ook baie sterk argitektoniese bande.

Hoe voel jy oor die herontwikkeling van die middestad?
Johannesburg is ons een voor. Pretoria het 'n staatsdiens-kern – vieruur gaan almal huis toe. Dit gaan moeiliker wees om die ruimtes te aktiveer. Ons het 33 museums in een strook en ek dink Pretoria moet hierop fokus. Dit moet gebruik word as die unique selling point, eerder as om te probeer om die naglewe na Pretoria se kern terug te bring. In Johannesburg is die herontwikkeling van die middestad se kern meer suksesvol, want daar is wooneenhede in die middestad, wat die konsep meer vatbaar maak.

Hoe voel jy oor "groen geboue"?
Ons is eintlik almal in die moeilikheid. Die goedkoopste groen gebou is 'n gebou wat reeds gebou is, want jy vernietig nie nog goed om dit te bou nie. Mense moet besef "groen geboue" in argitektuur is baie duurder. Jy het iemand met visie en geld nodig wat daarin moet belê. Ek glo 'n groen gebou is een wat met goeie common sense gebou is, wat passiewe ontwerp gebruik – die gebou moet reg front, die oorhang moet reg wees sodat die son in die winter kan inkom, maar in die somer uitbly, eenvoudige bladwisselende bome wat blare verloor . . . Dit kos duurder om groen te bou. 'n Mens moet die ontwerp so doen dat jy van die groen aspekte later kan bysit.

Steek dit jou soms dwars in die krop om 'n woonhuis van etlike miljoene rande te bou vir 'n kliënt waar die huis vir twee mense bedoel is?
'n Kliënt het my dieselfde gevra. Ek het gesê al bou hy hierdie uitermate duur huis, skep hy werk vir 'n hele klomp mense. Die ou wat die bakstene lê, die een wat sement meng. So die hoeveelheid werk wat dit geskep het, maak dat geld vloei. Soms kom ons Calvinisme oor geld maar terug! As daai projek nie daar was nie, het daai mense nie werk gehad nie.

Wat lê voor boekgewys?
Ek moet die tweede uitgawe van my boek  Detail Housed skryf en 5 hoofstukke byskryf. Dis interessant dat die boek deur studente en kontrakteurs gebruik word vir verwysing.