Groot was my verrassing toe die boek Choral Society (Quercus, R209,95) op my lessenaar beland en die skrywer is Prue Leith, dieselfde een van kos-faam. Die boek gaan oor drie ouer vroue wat mekaar by ‘n koorvereniging ontmoet. Hulle word vriendinne en deel meer oor hul lewens met mekaar as net die koorsingery. Hul persoonlikhede en lewens verskil baie van mekaar, maar ten spyte daarvan word hulle hegte vriendinne wat filosofeer oor ouer word en verhoudings en weer verlief raak en sommer alles onder die son. Phyllis Green het met Prue gesels oor hoe sy van skryf oor kos by romans uitgekom het.

Jy het nogal laat in jou lewe eers begin romans skryf. Is jy spyt jy het nie vroeër begin nie?
Ek dink nie so nie. Ek was mal oor my tyd in die koswêreld en ek bly steeds op die hoogte van wat in die kosbedryf aangaan. Terwyl ek oor kos geskryf het, het ek dit nie gemis om ander skryfwerk te doen nie.

Jy is eintlik bekend as ‘n kosskrywer. Het jou kosskrywery jou enigsins voorberei vir die skeppende skryfkuns?
So op ‘n manier. Dit was goeie dissipline om vir ‘n tydskrif te skryf. Ek moes hou by woordtellings en spertye. Dit maak mens versigtig en jy dink oor wat jy wil skryf. Mens moet ook baie oplettend wees om die inspirerende stukkies, wat saam met resepte gaan, reg te skryf. Dis régte skryfwerk. Mense moet honger word as hulle lees wat jy oor die kos geskryf het. Dit was baie goeie oefening. Maar ek was onder ‘n wanindruk om te dink ek kan ook ‘n roman skryf. Ek het geen twyfel dat ek ‘n goeie joernalis is en kan skryf nie. Maar as ‘n skeppende skrywer moet jy selfversekering hê om kreatief te skryf en by jou storielyn te hou. Ek het nooit besef hoe belangrik die struktuur in skeppende skryfkuns is nie. Jy kan nie sommer enige plek ophou met ‘n hoofstuk nie. Jy moet so eindig dat lesers verder wil lees.

Hoe het jou ommeswaai na boeke skryf verloop?
Toe ek begin het met my eerste boek het ek ‘n sinopsis van die eerste hoofstuk aan my agent gestuur. Sy was toe reeds 40 jaar my agent. Sy het gesê ek moet nie simpel wees nie, sy sal my skryfwerk eers lees as ek die hele boek vir haar gee. Sy was nie seker of daar ‘n boek in my was nie! So skryf ek toe die boek en stuur dit met groot verwagtinge aan haar. Tot my afgryse stuur sy dit terug met die kommentaar dat die eerste helfte redelik was, maar die tweede gedeelte gefragmenteerd is. Ek het toe ‘n werkswinkel oor skryfkuns gaan bywoon en baie geleer. Toe herskryf ek die boek, stuur dit terug aan my agent. En weer word dit afgekeur, maar met die woorde dat die plot darem dié keer hegter is. Sy raai my toe aan om na The Literary Consultency te gaan vir raad. Hulle gee jou boek aan ‘n professionele resensent wat vir jou ‘n volledige verslag gee oor jou boek. Daarna het ek weer herskryf en toe eers is die boek aanvaar.

Mis jy dit om oor kos te skryf?
Nee. Ek is glad nie sentimenteel oor skryf nie. Ek wens soms ek kon ophou, maar skryf is ‘n siekte. Dit sou lekker wees om meer betrokke te wees by musiek, want my nuwe lewensmaat is ‘n musikant. Tog hou ek van skryf, wanneer ek skryf. Ek moes ophou om oor kos te skryf sodat ek boeke kon begin skryf. Ek wou altyd skeppend skryf, maar was net te besig om daarby uit te kom. Eers na ek opgehou het oor kos skryf, kon ek fokus op my verhale.

Het jy ooit jou skryfwerk aan jou oorlede man, Rayne Kruger, gewys?
Rayne was ‘n skrywer en ek het hom vertel ek wou ook boeke skryf. Ek het hom eers vertel na ek my besigheid verkoop het. Ek wou my manuskrip aan hom wys, maar hy wou dit nie lees nie. Hy was bang dat hy my skryfstyl sou probeer beïnvloed en hy wou hê ek moet ‘n sterk styl van my eie ontwikkel. Na my boek gepubliseer is, het hy dit gelees en baie daarvan gehou. Veral die besigheidskant wat ek daarin uitgebeeld het. Hy was nie so gek oor my tweede boek oor die wedywering tussen twee susters nie. Hy het gedink dis ‘n regte vroueboek. Hy het van aksie gehou. Met my eerste boek het hy gevra of daar seks in gaan wees, want ek sou sweerlik nie waag om daaroor te skryf nie. Wat sou ons kinders tog daarvan sê!

En was daar seks in?
Natuurlik. Ek het die bladsye aan my seun, Daniël, en my dogter, Li-Da, gegee vir kommentaar. Hulle was effe verras, maar was oukei daarmee. Daniël het egter gedink sy pa sou nie daarvan hou nie.

Verskil jou boeke baie van mekaar?
Hulle is almal liefdesverhale op die een of ander manier. Dit begin nie waar die een verlief raak op daai een nie. Ek ondersoek temas waarin ek belangstel in my boeke. Met Choral Society het ek ouer word as tema gebruik. Ek word ouer en het baie oor die proses gedink. Meer vroue as mans staar ‘n eensame oudag in die oë. Daar is ‘n menigte ouer vroue daarbuite en ek wou weet hoe hulle cope. Tydens my huwelik was my man my beste vriend. Toe hy dood is, was ek beangs dat ek alleen sou wees. Maar my tennisvriende en ander toevallige vriende het my bygestaan en my lewe weer laat aangaan. Ek het besef hoe belangrik die vriendskappe van vroue is. So het ek drie karakters geskep: Joanna, die sakevrou. Lucy, die kosskrywer. En Rebecca, die geskeide sosiale vlinder. Die drie vorm ‘n mees onwaarskynlike vriendskap wanneer hulle almal by ‘n koorvereniging aansluit.

Lucy is die eerste karakter wat ons ontmoet. Sy wonder oor die dood van haar lewensmaat en hulle daaglikse rituele. Het jy op jou eie ervaring staatgemaak om haar situasie te beskryf?
Ja, behalwe waar sy kwyn en depressief raak, het ek my dae gevul en myself die heeltyd besig gehou. Lucy is lossies op my ervaring gebaseer. Hoewel ek Ernest ontmoet het en in ‘n gelukkige verhouding met hom is, mis ek steeds my man. Ek het dit vir Lucy gegee met die sewe uur-ritueel. Met Rayne, my oorlede man, maak nie saak waar ek in die wêreld was nie, ek het hom elke aand sewe uur gebel. Hy was die anker in al die ander veranderlikes in my bestaan. Toe ek besef het hy gaan sterf, het ek paniekbevange geraak. Wat die eerste vyf weke na sy dood gebeur het, het gehelp dat ek dit verwerk. Die kinders het onmiddellik huis toe gekom. Ek het ‘n huldigingsgeleentheid vir ons vriende en almal wat Rayne geken het, gereël en dit het my besig gehou. Na alles verby was, het die verlang gekom en het ek nodig gehad om die sewe uur-ritueel partykeer met my broer te doen. Lucy is baie soos ek met haar koskrywery, haar verstandigheid, sowel as haar irritasie met die pretensie in die koswêreld.

Die drie karakters verskil baie van mekaar. Hoe het jy die karakters geskep?
Ek wou verskillende fasette van hulle persoonlikhede uitlig wat ‘n rol speel in hul vriendskap. Joanna is nogal ‘n sterk vrou. Ek wou haar darem ‘n bietjie van ‘n kwesbaarheid gee. Dis hoekom ek haar die sing-ding gegee het. Sy kan alles doen en reël rakende haar lewe. Sy kan haar pynlike knieë laat regmaak, sy kan moeilike vergaderings op die man af hanteer. Maar sy sukkel om te sing. Ek wou haar skaam maak daaroor.
Daar is gemene grond tussen ons. Die besigheidsaspek en ook dat ander mense jou as baie sterker sien as wat jy voel en is. Ons raak altwee emosioneel wanneer ons nie iets kan doen nie of wanneer ons iets nie kan beheer nie. Ek onthou twee geleenthede waar ek spontaan in trane uitgebars het. Ek was een keer in ‘n sangklas en nie ‘n noot wou uit my mond kom nie. Toe bars ek in trane uit. Die ironie is my nuwe lewensmaat, Ernest, is ‘n pianis en hy glo almal kan sing. Hy het my laat probeer sing en moes bes gee, ek is een van die rare spesies wat nie kan sing nie.

Lucy en Joanna - dit laat Rebecca, wat nogal ‘n wulpse karakter is vir ‘n vrou van haar ouderdom. Hoekom so 'n koketterige en wispelturige karakter?
Ek dink sy is die enigste karakter wat niks leer nie. Sy is goed met flankeer. Sy groei nie soos Lucy en Joanna nie. Sy is so bietjie van ‘n onopgeloste karakter. Om sleg op te tree is haar manier van deur die lewe gaan. Sy wil nie oud word nie, want sy vrees dat sy vervelig sal word. Daarom het ek haar die sukses met die ontwerp van die binneversiering van Pencarrick gegee. Sy weet sy is rubbish in vergelyking met haar twee vriendinne. Sy het darem ‘n paar goed wat haar optrede meer aanvaarbaar maak. Haar dogter is onvoorwaardelik lief vir haar en sy kan verskoning vra vir haar slegte optrede.

In Choral Society skryf jy oor vriendskap en liefde, maar vir ouer vroue. Hoekom juis ouer vroue?
Ek fokus op ‘n ouer mark, want dis die mense wat geld en tyd op hande het. Hulle is ook in die gewoonte om te lees. En nog belangriker, hulle koop boeke. Kleinhandelaars en die modemense het ‘n obsessie met jeug en maer wees. Toe ek in die restaurantbesigheid was, het ek agtergekom almal is so bang dat jy saam met jou kliënte sal oud word en nie meer besigheid gaan hê nie. Dis ‘n wanpersepsie. Daar is altyd nuwe mense wat in jou lewe inkom. Ek wou ook gehad het my boek se omslag moet meer verteenwoordigend van my drie karakters wees. Een vrou in wellies, die ander een in ‘n paar formele hofskoene en natuurlik ‘n paar killer heels vir Rebecca, maar die uitgewers het ander idees gehad.

Het jy mense wat jy ken gebruik om die ander karakters op te grond, soos die TV-sjef Orlando byvoorbeeld?
Orlando is ‘n amalgamasie van al die irriterende en aaklige TV-aanbieders. Ek het ‘n baie goeie les uit die resensies van my heel eerste boek geleer. ‘n Resensent het een van die karakters as ‘n cardboard cut out beskryf. In my daaropvolgende boeke het ek seker gemaak dat karakters meer volledig is, veral as ek die karakter bietjie aanvat in die boek.

Is daar ‘n nuwe boek op pad?
‘n Sappige politieke skandaal met die naam A Serving of Scandal, wat Maart 2010 in Engeland bekendgestel sal word.