Toe sy sewe jaar oud was is haar pa gewelddadig vermoor in Soweto waar hulle gewoon het. Hierdie was vir haar ‘n traumatiese ervaring, want sy het gesien hoe die gemeenskap om haar pa se lyk in die straat saamdrom en darem uit respek ‘n koerant oor sy gesig plaas. Twee jaar later staan sy weer by ‘n straathoek in Soweto en weer kyk sy na ‘n lyk. Hierdie keer is dit haar vriend, Mabegzo. Maar die keer is die gemeenskap maar te dankbaar dat die verkragter en moordenaar self ‘n bloedige en gewelddadige dood gesterf het. Hulle vier sy heengaan en gebruik sy dood as ‘n waarskuwing vir ander jongmense.

Redi en Mabegzo het twee jaar na haar pa se dood ’n onwaarskynlike vriendskap gevorm en ’n emosionele band gehad.  Dit het Redi laat wonder waarom iemand wat met soveel geweld gelewe het geen moeite ontsien het om hom oor haar te ontferm nie. Hulle het ’n rare vriendskap gehad. In die gemeenskap was hy ‘n wreedaard, maar vir haar het hy altyd net ‘n sagte woord en ‘n glimlag gehad.  Sy teenstrydige lewe en Redi se vriendskap met dié skurk het deur haar lewe lank by haar bly spook. Sy moes uiteindelik op ‘n emosionele reis gaan om vrede te probeer vind met wie Mabegzo was en dit wat hy verteenwoordig het. Dis ‘n intense persoonlike reis wat haar na almal in sy lewe neem. In die proses ontbloot sy nie net sy lewe nie, maar ook haar eie siel. Een van die belangrikste kwessies wat sy in die boek aanraak is hoe die samelewing en families dikwels kinders faal en hulle nie die nodige liefde en opvoeding gee om as volwaardige mense te ontwikkel nie. Baie keer is die kinders se enigste uitweg geweld, om ander te boelie, omdat dit die enigste manier is hoe hulle hulself kan laat geld.

Dis ‘n boeiende verhaal wat jou laat wipplank ry tussen trane en wanhoop. Tog hou jy aan met lees, want Redi se verhaal bring ook insig en hoop. Deur hierdie proses kry sy ook antwoorde en maak vrede met hierdie dinge wat so lank ongemaklik in haar lewe was. Aan die einde van die boek kan jy nie anders as om beïndruk te wees met hoeveel sorg Mabegzo se verhaal vertel word en met hoe ’n mate van waardigheid aan sy lewe gegee word. Jy besef ook almal van ons is net mense wat die produk is van die samelewing se invloed.

Ek het per e-pos met Redi gesels oor hierdie emosionele reis wat sy in haar boek, Endings & Beginnings (Jacana, R195) met ons deel.

 Waarom het jy genoop gevoel om hierdie boek te skryf?
Om die waarheid te sê ek was nie van plan om ‘n boek te skryf nie. Ek wou eintlik begrip ontwikkel vir ‘n jongman wat ‘n baie diepgaande invloed op my kinderdae gehad het en wie my perspektief op misdaad en die karakter van die jong mans wat ons lewens geterroriseer het gevorm het.

Was dit moeilik om die boek te skryf, want dis ‘n intense persoonlike weergawe van jou lewe?
Dit was redelik intens. Daar was tye wat ek net ophou skryf het vir maande, want die emosies was te rou. Maar ek het myself geheel en weer begin.

Waarom het dit jou so lank geneem om die boek te voltooi?
Die verhaal gaan oor menseverhoudinge, botsende emosies, en donker geheime wat families uitmekaar skeur. Ek moes van die ervaringe oorspeel en weer herleef om ‘n outetieke weergawe te kon gee. Ek moes ook van die mense oortuig om my toe te laat om die verhaal te skryf, nadat ek besluit het om wel aan te gaan. Daar was ook geen haas om die boek te voltooi nie. Ek het geskryf wat ek kon wanneer ek tyd gehad het.

Jou verhaal beklemtoon die geweld wat ‘n oorwegende deel van township-lewe is. Hoe dink jy beïnvloed dit ons samelewing?
Om te kyk watter impak misdaad op die samelewing maak, is om net op die oppervlakte te delf. Dis vanselfsprekend belangrik om daardie insig te hê, maar die gepaste kwessie is om uit te vind waarom mense in die eerste plek gewelddadig raak. Hoe is hulle grootgemaak, wie is hulle, waar kom hulle vandaan? Daar is geen punt daarin om die impak van geweld op die samelewing te meet sonder om terug te gaan en te vra hoe gemeenskap- en familieopsette aanleiding gee tot die onstaan van brutale kriminele nie. Dis dieselfde gemeenskap- en familiestrukture wat kinders faal sodat hulle grootword om monsters te wees. Die protagonis in my boek, Mabegzo, is die totale produk van ‘n familie wat hom verwaarloos het en ‘n gemeenskap wat hom uitgetart het. Ek regverdig geensins sy optrede nie, maar om uit te vind dat hy die gevolg van ‘n verkragting was en dat hy deur die samelewing vervloek is vir iets wat hy nie gekies het nie, het hom duidelik kwaad en bitter gemaak. Hy het daardie bitterheid op die samelewing losgelaat.

Jy het volgehou om mense wat deel van Mabegzo se lewe was te kontak ten spyte daarvan dat sommige onwillig was om met jou te praat. Hoe belangrik was dit om hulle in jou verhaal in te sluit en ook erkenning van hulle in sy lewe te gee?
Sonder die mense in Mabegzo se lewe sou daar nie ‘n storie wees nie. Ek kon ook nie die begrip ontwikkel waarna ek gehunker het sonder om met hulle te praat nie. Die geloofwaardigheid van hierdie reis is ook afhanklik van hulle bydrae.

Het jy na die skryf van die boek  ‘n mate van afsluiting ervaar ten opsigte van jou pa se gewelddadige dood sowel as die dood van Mabegzo?
Absoluut. Hierdie was waarlik ‘n reis van genesing en aanvaarding. Ek het gegroei en ek vier die lewe en alles wat dit my geleer het. Deel van die diepgaande lesse kom uit hierdie tragiese verliese.

Wat is die grootste les wat jy geleer het deur jou assosiasie met Mabegzo?
Ek het geleer om nie iemand op sy baadjie te takseer nie. Ek het geleer daar is baie lae aan ons menswees. Ek het geleer om te luister en ek het geleer om uit my hart uit te praat.