Daardie nag met die katte toe ons so brandewyn gedrink en sjokolade geëet het

Onthou jy, my lief, daardie nag toe ons so brandewyn gedrink en sjokolade geëet het? Jou tien jaar oue cognac waarop jy so heilig is, nogal.

Ja, natuurlik onthou jy.

Ons wat weggaan vir 'n naweek, jy vat my Sederberge toe na 'n godverlate, 'n wonderlike plek, net ons twee alleen in 'n kliphuis êrens op 'n klein gelykte tussen die bedonnerde klipberge van ons droomste berge. Die oulike boervrou wat ons só kyk, en sê ons moet maar kom vra as ons iets nodig het, en in
haar Jeep klim en wegry.

En dis net ons in 'n maanlandskap van gedrogtelike rotsformasies en 'n ou herdershuis van klip waarin mense bly as hulle soms in dié deel van die wêreld kom. Hoe sê mens vir die oulike boervrou ons het regtig niks nodig nie, want dit word reeds laataand, die siele van skaduwees strek hulle langlyf uit oor die bossies en klip en voor jou siel weet jy die sterre gaan vanaand in 'n dik streep room oor die lug lê en sing soos hulle brand en jy gaan die berge hoor asemhaal met die diep, rustige asemhaling van eeue?

En uit die niet kom daar 'n kat met gemmer en vanielje en vuur in haar pels by die huis aan, mét 'n swetterjoel, 'n swerm, 'n tornado klein katjies wat saam met haar swerm en swetterjoel en uitbundig ons kliphuis oorneem met gemmer en vanielje en vuur.

En ek lág, ek raap katjies op net waar jy kyk, en jy kyk vir my en sê: "Elke vrou moet eenmaal in haar lewe 'n armvol katte in haar arms hê."

Daardie aand brand ons braaivleisvuur uit sonder dat ons kos maak. Ons drink brandewyn, jou goeie, goeie cognac wat jy spesiaal saamgebring het, en terwyl ons wag vir die vuur om nog meer kole te maak, raak ons vreeslik lus vir sjokolade, en ons gaan haal dit uit die yskas, want ons bring altyd sjokolade saam, nie vir ons nie, maar om uit te deel aan die kinders wat ons altyd teëkom langs die pad; kinders op donkies, kinders wat rooibostee pluk, hekke oopmaak, kinders wat koljander skroei en stamp, kinders wat by oorvol riviere saam met die donkies wag vir hul oompies en pa's om terug te kom van die dorp aan die ander kant van oorvol riviere.

Ons bring áltyd sjokolade as ons hierheen kom, net omdat ons eendag, jare gelede, hier in die berge 'n kind gekry het wat donkies oppas en toe vir hom sjokolade gegee het, en gesien het hoe heerlik heerlik sjokolade kan wees, omdat hulle kinders is wat in hul dag des lewens nie genoeg sal kry van die onwerklikheid van sjokolade nie. Maar hierdie keer eet óns die sjokolade terwyl ons cognac drink en wag vir die vuur wat brand, die katte klein vulkaantjies van woeligheid om ons, katjies wat agter elke vliegende motjie aanspring en mekaar bekruip en aanval en speel en in vuurbolletjies om ons rondrol.

Ons begin sing, ons stemme klink yl in die groot nag, 'n lied wat ons maar net halfpad uit ons kinderjare kan onthou, 'n melodie hartseer en soet: Sy was 'n deel van daardie somer, en ek was jonk, 'n digter-dromer . . . en sonder om ooit die kos wat ons saamgebring het, gaar te maak, die vuur 'n groeiende hoop gloeiende kole en as, maak ons liefde, omdat ons mekaar so liefhet, die swetterjoel katjies met warm melkasempies en sagte katvoetjies oor ons en om ons. Ons liefdemaak is tegnies nie vreeslik goed nie, maar dit is wonderlik, omdat ons mekaar liefhet en ná hoeveel jaar getroude lewe steeds na mekaar verlang en soos die heel eerste keer mekaar waansinnig begeer en bemin.

En toe ons in mekaar se arms lê en steeds digter teen die donker by mekaar skuil om aan die slaap te raak, lê die hele legioen katte om ons en slaap; uitgeputte, ontploffende asempies grom en gemmer, die vuur 'n verskietende ster van uitgebrande as, die Melkweg uitgegooi en laag oor die horison, die Suiderkruis windskeef gedraai, en ek weet dat niemand al ooit vir my gesê het nie: "Elke vrou moet eenmaal in haar lewe 'n armvol katte in haar arms hê."