Malak en Amal is susters. Malak vertel hul storie, want Amal kan nie. Sy het ‘n paar jaar vantevore geheimsinnig verdwyn. Ironies genoeg bly sy ‘n konstante teenwoordigheid in Malak se lewe, want Malak het ná die verdwyning getrou met Amal se verloofde, Taj. Dis nie ‘n gelukkige verhouding nie, want hul lewe word op ‘n vreemde manier oorheers deur Amal se teenwoordigheid. Deur haar kolwyntjie-bakkery ontmoet Malak ‘n man wat haar asem wegslaan, en dan begin haar stryd met haar liefdelose huwelik. Dit maak dat sy  probeer om uit te vind of die Koran vroue verbied om meer as een eggenoot te neem! Die verhaal is vol galgehumor, maar is terselfdertyd empaties oor onderwerpe soos godsdiens en seksualiteit. Dié boeiende verhaal gee insig in sekere aspekte van die Moslemgemeenskap. Ek het die skrywer per e-pos gepols oor Lessons in Husbandry (Umuzi, R180).

Wanneer en waarom het jy begin skryf?
Ek het lankal reeds begin skryf, maar het my eerste boek eers klaargemaak toe ek by die huis gevange gehou is deur ‘n vroeggebore baba. Skryf was iets om te doen. Skryf het struktuur aan my dae gegee en ‘n ander soort vreugde gebring.

Wat beteken skryf vir jou?
Dis ‘n manier om die wêreld te verstaan.

Hoe het jy by die titel van jou boek uitgekom?
Husbandry
is ‘n titel van ‘n kortverhaal wat ook in die boek voorkom en omdat elke hoofstuk ‘n les genoem word, het my uitgewer, Fourie Botha by Umuzi, voorgestel ons noem die boek Lessons in Husbandry. Ek was dadelik gek na sy idee vir die poëtiese, ondergrawende kinkel en vir die veelvlakkige (multi-layered) betekenis.

Wat het jou  geïnspireer om die storie te skryf?
‘n Geometriese figuur! Ek was geïnspireer deur my belangstelling in driehoekige verhoudings, en ek bedoel nie net die cliché van liefdesdriehoeke nie. My protagonis, Malak, is deur verskeie driehoekige skakels aan die ander karakters in die verhaal verbind: daar is die raaiselagtige driehoek wat Malak en Amal vorm met hul ontslape grootouma, die tenger driehoek tussen Malak en haar ouers ná Amal se verdwyning, daar’s die snaakse konneksie tussen Precious, Malak en Taj, die eienaardige verhouding tussen Malak, Taj en haar verlore suster en dan is daar natuurlik die meer ooglopende liefdesdriehoek waarin Malak betrokke raak.

Baseer jy jou karakters op mense wat jy ken of is dit pure fiksie?
Pure fiksie!

Hoe het jy die navorsing benader vir hierdie boek?
Met behae. Navorsing is ‘n uitstekende vorm van uitstellery en ‘n wonderlike manier om skryf te vermy. Dié boek het nie soveel navorsing behels soos Not a Fairytale nie, maar dit het my kans gegee om ander boeke te lees, terwyl ek voorgegee het dat ek besig was met navorsing.

Jou vorige boek het ook oor twee susters gegaan. In Lessons in Husbandry is daar weer twee susters, al is die een vermis. Waarom fokus jy so op susters en die impak wat hulle op mekaar se lewens het?
Ek het ‘n obsessie met feëverhale en omdat susters so dikwels in dié verhale streng gesplits word  – goed, sleg, mooi, lelik – wou ek dit ondersoek. Die boek waaraan ek nou skryf of “navors” is ook oor twee susters, maar hul verhouding is ‘n donker een.

Jy raak aan heelwat sosiale kwessies in die verhaal. Hoe integraal is dit vir die storie?
Bestaande sosiale kwessies vorm die agtergrond van die verhaal. Dis ‘n belangrike manier om die storie te anker.

Vir wie skryf jy?
Vir enigeen wat lief is vir ‘n goeie storie!

Hoe ontspan jy?
Ek het onlangs begin met naald-viltwerk (needle-felting), wat ek glo sosiaal meer aanvaarbaar is as voedoe-popmakery. Ek het ‘n fiksasie met die maak van lieweheersbesies en dié betrokkenheid gaan heel moontlik in een of ander vorm in my volgende boek opduik.

Wat lees jy en waarom?
Ek hou van goed geformuleerde kortverhale waar elke woord tel. Op die oomblik is my gunsteling-kortverhaalskrywers Carol Shields, Joyce Carol Oates, Patricia Highsmith en Alice Munro, om net ‘n paar te noem. Ek hou ook van ‘n verhaal wat my so diep en intens en kragdadig intrek dat ek my eie realiteit vergeet en waar ek heeltemal omhul word deur die verhaal se fiktiewe wêreld, soos The Little Stranger deur Sarah Waters.