Sy is nogal geheimsinnig oor haar doen en late. Amper soos die sigeunerfamilie in haar nuutste boek, The Invisible Ones (Quercus, R119). Die Jankos is ‘n tradisionele sigeunerfamilie wat nog vasklou aan hul kultuur en die ou manier van dinge doen. Hulle is ook teësinnig om buitestaanders in hul binnekring toe te laat. ‘n Jong ma raak vermis kort ná die geboorte van haar kind. Die ma is die bruid van Ivo Janko. Volgens hom kon sy bruid dit nie hanteer dat hul kind aan die Jankos se oorerflike siekte ly nie en het sy weggeloop. Wanneer haar pa ‘n private speurder, Ray Lovell, huur (natuurlik ook ‘n sigeuner) om sy dogter se verdwyning te ondersoek, gebeur daar ’n hele paar vreemde dinge met Ray en die Jankos trek laer om die ondersoek in die wiele te ry.

Dis ‘n boeiende verhaal met ‘n klomp kinkels, waarvan die verrassende einde die grootste is. Die verhaal word uit verskeie karakters se mond vertel. Ek sien uit na die skrywer se volgende boek, wat hopelik weer oor buitestaanders met ‘n interessante storie sal gaan. Ek het haar per e-pos uitgevra oor haarself, skryf en haar boeke.

Hoe het jy die oorgang gemaak van skryf vir film na boeke skryf?
Dit was byna op my afgedwing. In ‘n stadium het die werk opgedroog en ek moes iets anders doen om my verband te betaal. Toe skryf ek maar ‘n boek. As jy vra of die oorgang maklik was . . . dit was so maklik soos skryf ooit kan wees, maar die oorgang was gemaklik. Ek het ontdek om prosa te skryf is suiwer plesier en vryheid in vergelyking met draaiboekskryf.

Daar is nogal ‘n gaping tussen die publikasie van jou eerste en jou tweede boek. Waarom?
Vyf jaar lyk nie vir my soos ‘n groot gaping nie! Ek gaan nooit ‘n boek-‘n-jaar-skrywer wees nie. My idees werk net nie so nie. Hulle sit in my agterkop vir jare – en dan, as ek steeds oor daai karakters wil skryf, is ek vol vertroue daar ís iets daar. Toe die eerste boek uitgekom het, was ek besig om aan ‘n draaiboek te werk en het daarna ‘n paar verwerkings vir radiodrama’s gedoen (Moby Dick en The Worst Journey in the World). Dit was ‘n heerlike ratverwisseling in terme van skryf, ek het nog nooit voorheen vir radio geskryf nie, maar het baie daarvan gehou. Bowendien, die goed waaraan ek werk, verg baie navoring wat tyd neem.

Was dit moeilik om jou tweede boek te skryf omdat “The Tenderness of Wolves” so suksesvol was?
Ja. Nogal verlammend aan die begin en dis waarom ek begin radio doen het. Ek was glad nie selfbewus toe ek Tenderness geskryf het, en dit het ‘n ruk gevat om daardie gevoel weer te herontdek en op te hou wonder wat mense se reaksie op die tweede boek gaan wees.

Albei jou boeke het buitestaanders as hoofkarakters. Het jy ‘n spesifieke belangstelling in dié soort karakter?
Nie bewustelik nie, maar ek veronderstel die meeste skrywers identifiseer met buitestaanders – dis hoekom hulle skrywers word.

Het jy die navorsing vir “The Invisible Ones” anders benader as vir “The Tenderness of Wolves”?
Aanvanklik het ek gedink dit gaan baie makliker wees, maar dit was op die ou einde moeiliker. Om toegang tot die sigeunergemeenskappe te kry, was ongelooflik moeilik. Ek moes toe baie navorsing in die biblioteek doen, maar die materiaal is baie meer gefragmenteerd as geskiedkundige rekords, en daar is  min konsensus. Die meeste bruikbare inligting het uit memoirs en onderhoude gekom.

Waarom ‘n sigeunergemeenskap kies as die protagonis van “The Invisible Ones”?
Ek wou al vir jare iets skryf wat in ‘n sigeunergemeenskap (voordat ek besef het hoe moeilik dit sal wees) afspeel, en dié storie het net reg gepas.

Waar het die verhaal vir jou begin?
Ek dink met die storie self. Jy sal dit tot aan die einde moet lees om te sien waarom dit my so interesseer het, want ek kan nie die storie verklap nie! En ek wou oor ‘n private speurder skryf, maar op ‘n manier wat nie tipies noir en hardgebak is nie. Ray is meer van ‘n saggebakte speurder.

Dis nogal ironies dat Mrs Ross in “The Tenderness of Wolves” verskrik is deur die ruimte en barheid van haar landskap en in “The Invisible Ones” is die jonge JJ weer verskrik deur die idee om in ‘n huis van baksteen en sement eerder as ‘n karavaan te moet woon. Hoe vind jy aansluiting hierby?
Ek ly aan ruimtevrees en Mrs Ross is op my gebaseer – ek kan heeltemal aansluit by die vrees vir die grootheid en die “nie ken nie” van daardie tipe sneeulandskap. Ek dink dit het dit juis vir my moontlik gemaak om die landskap op ‘n instinktiewe wyse te beskryf, want ek ervaar instinktiewe reaksies op plekke. JJ se vrees vir huise was nie ‘n opsetlike eggo of antwoord hierop nie. Dit het dikwels in die navorsing na vore gekom, maar ek kan verstaan hoe jou omgewing alles wat in jou kop aangaan kan beïnvloed.

Hoe baie van jouself is in jou karakters ingeskryf?
Nogal baie. Ek kan nie dink hoe enigeen fiksie skryf en hulself nie in hul karakters sit nie. Maar ek gaan nie spesifiek wees hieroor nie!

Ray Lovell word met dolkruid (henbane) vergiftig. Moes jy breedvoerige navorsing oor plante en hul newe-effekte doen, en stel jy belang in plante en tuinmaak?
Ek moes heelwat navorsing doen. Ek wou dit akkuraat hê. Dis ongelooflik wat jy op die internet kan uitvind. En ek is ‘n tuinier. As ek ooit sou ophou skryf, is dit wat ek sal doen.

Die Jankos is ‘n ‘ou skool'-sigeunerfamilie wat probeer om die bloedlyn suiwer te hou. Waar kom die inspirasie vir dié familie vandaan?
Die idee vir die storie maal al baie lank in my kop rond. Die feit dat die hele kultuur en leefstyl van sigeunergemeenskappe bedreig word, het die verhaal meer dringend gemaak en vir my persoonlik ook meer simpatiek. Ek het ook gedink aan die rolprent Chinatown, dus het die storie al donkerder geraak. Maar die sigeunermilieu is net ‘n gedeelte daarvan. Dis ‘n bepaalde familieverhaal en heelwat families het dieselfde obsessie, soos koninklike families!

JJ, teen alle verwagtinge in, gaan skool. Waarom het jou hom so uitgebeeld, amper teenstrydig met signeunerkultuur?
Net omdat dit tradisie is, beteken dit nie almal klou daaraan vasnie. Selfs in die 1980’s het heelparty kinders uit reisende families darem een of ander vorm van formele opvoeding ondergaan en baie meer gaan vandag skool. Ek wou hom nie as ’n stereotipe uitbeeld nie; ek stel nie belang in stereotipes nie.

Watter rol speel bygeloof en geheimhouding in die verhaal?
Geheimhouding speel dikwels ‘n rol in spanningsverhale, anders sou daar nie ‘n raaisel wees om op te los nie. Sigeunermitologie en -kultuur (ek sal dit nie bygeloof noem nie, eerder ‘n geloof) is iets wat my fassineer en dit was fantasties toe ek ‘n tradisionele sigeunermite gevind het wat my verhaal ge-eggo het.

Beskryf jouself aan lesers in Suid-Afrika.
Versigtig. . .privaat. . .weerstandbiedend teenoor persoonlike vrae!

Het jy ‘n bepaalde roetine wanneer jy skryf, of kan jy enige plek skryf?
Ek probeer nog die antwoord uitwerk op dié vraag:dit hang af hoe goed dit met iets gaan. Somtyds kan ek glad nie skryf nie.

Is jy ‘n ywerige leser? En wat lees jy as jy lees?
Natuurlik; alle skrywers is – moet – lesers wees. Ek sal omtrent enigiets lees, van grafiese romans tot klassieke werke tot geskiedenis, en sommer alles tussenin. Ek is een van daai mense wat die papboks sal lees as daar niks anders te lese is nie. Onlangs het ek Graham Greene, William Golding en Shirley Hazzard gelees.

Hoe ontspan jy?
Ek herhaal, ek is baie privaat. Ek sal wel sê ek is tipies vervelig in hoe ek ontspan.

Is jy steeds by die rolprentbedryf betrokke?
Nie aktief op die oomblik nie, maar ek is gek na film en ek sal weer draaiboeke skryf as die regte projek opduik.

Werk jy aan ‘n nuwe boek?
Ja. . .maar moenie jou asem ophou nie!