Hy was openbare besit en die hele land was geskok toe hy na ‘n kunstefees in Witrivier in ‘n motorongeluk sterf. Tania du Toit was een van die mense wat geraak was deur die omvang van mense se reaksie op Tolla van der Merwe se dood. Tot so mate dat sy meer wou weet van waarom een mens se lewe so 'n impak op die algemene publiek gehad het. Dit het haar gedryf om sy lewe na te speur en ‘n boek daaroor te skryf. Konsert van die lewe - Tolla van der Merwe (Lapa Uitgewers, R197,95) het haar vyf jaar besig gehou en die boek is ook deel van Exclusive Books se Homebru-leeskeuse. Ek het met Tania gesels oor hierdie ervaring.

Wie is Tania du Toit?
Ek is ‘n ma, ‘n skilder en ‘n skrywer. Ek het twee kinders. My dogter, Mieke, is op hoërskool en ek tuisskool my outistiese tienerseun, Joshua. Hierdie boek is my debuut as lewensverhaal-skrywer, maar ek het al gepubliseer in bundels. Van my gedigte, kortverhale en kinderverse is al gepubliseer. Ek verteenwoordig ook ‘n paar skilders. Verder doen ek motiveringspraatjies en ook skrywers- en boekgesprekke.

Hoekom het jy ‘n boek oor Tolla van der Merwe geskryf?
Ek is genader om ‘n ander biografie te doen, maar die tyd was nie reg vir my nie. Met Tolla se dood - dit het mense aangegryp en diep geraak. Toe besef ek daar  is nie ‘n boek oor hom nie. Ek het sy vrou toe gevra of sy dink dis ‘n goeie idee om ‘n boek oor sy lewe te skryf. Sy het, en so het ek die goedkeuring van die familie gehad en toe sy lewe in ‘n boek saamgevat.

Tolla se vroeëre lewe is nie eintlik openbaar nie en hy het homself as ‘n doodgewone ou beskryf. Was dit moeilik om dié sy van hom met sy openbare beeld te vereenselwig?
Ek het hom glad nie geken nie en het hom ook nooit ontmoet nie. Ek het nooit enige vertonings van hom bygewoon nie. Ek moes self sy openbare beeld kry uit films, onderhoude en goed wat in die media geskryf was. Hy was amper 57 toe hy dood is en net die laaste elf jaar van sy lewe was in die openbaar. Ek moes gaan grawe oor die eerste 44 jaar. Daar is nie tekste oor dié tydperk van sy lewe nie. Die meeste inligting het ek gekry van mense en plekke en ek moes fisiek soontoe gaan om die inligting te kry.

Hoe het jy jou navorsing gedoen en hoe lank het dit gevat?
Die proses het ‘n invloed gehad op my hele leefstyl, want ek woon in Pretoria en Tolla se lewe was op Clanwilliam. Ek moes e-pos en bel en ek moes ry om met mense, veral die ouer mense, van aangesig tot aangesig te gesels. Ek moes ook tyd daar deurbring om die dorp te beleef so goed ek kon en ek het met tye buite die dorp op ‘n plaas gebly. Ek het ook by Marita, Tolla se vrou, tuisgegaan en het volle toegang gehad tot familie-albums, asook die gesinslede en Riana, Tolla se suster. Die bekende mense in sy lewe het hom ook maar net hoofsaaklik die laaste tien of elf jaar van sy lewe geken. Marita het my gestuur na mense - sy kinderbediende, Griet Scholtz, sy kleintydmaatjie, Sakkie Visser, en sy boesemvriend, Johan Crafford. Hulle het my groot insig gegee, asook sy suster, Riana, en ant Bet Vlok. Die navorsing het omtrent vier jaar geduur. Die finale manuskrip se skryf en redigering was nog ‘n jaar se werk en Swartland Wynkelder het die skryf van die finale manuskrip geborg.

Hoe was Tolla voor hy bekend geword het?
Hy was toe reeds ‘n aantrekkingskrag. Soos almal sê, hy was altyd waar die geraas en gelag was, van vroeg af al. Sy eie mense het sy storievertellery gesien as maar net ‘n uitbreiding van dit wat hy eintlik al die jare reeds gedoen het. Sy openbare beeld het amper ‘n verwydering gebring tussen hom en die dorp, want hy was ewe skielik nie meer so geredelik beskikbaar en toeganklik nie. Dit was bloot net te moeilik vir hom om by almal uit te kom. Sy loopbaan het natuurlik ook groter inkomste gebring en hy moes meer tyd daaraan afstaan.

Tolla is bekend as iemand wat lekker kon kuier, maar ek lees dat hy homself nogal kwalik geneem het as hy effe te veel drank gebruik het.
Sy openbare beeld het gemaak dat hy meer gekuier het. Hy kon nooit nee sê nie en dit het ‘n binnegeveg in hom veroorsaak.. Daar was baie druk op hom, want as hy van die verhoog afgeklim het, dan was die geleentheid nie verby nie. Sy gashere het van hom verwag om dan verder te kuier saam met hulle. Daarby moes hy geld verdien, want sy kinders was op universiteit. Hy wou eintlik ook nie naweke weg wees van die huis nie. Miskien as die vermaaklikheidskern nie so ver van Clanwilliam af was nie, sou dit dalk nie vir hom so erg gewees het nie.

Motorongelukke het nogal dikwels ‘n draai in Tolla se lewe gemaak. Het hy hom moeilik versoen daarmee?
Hy het geweldige skuldgevoelens gehad oor Hansie (sy broer, Johan) se dood. En ook oor die onopgeloste argument wat hy met sy ma gehad het kort voor haar dood. Hy was saam met Hansie in die motorongeluk en is self baie ernstig beseer, tot so 'n mate dat hy om sy lewe geveg het. Dan was daar sy ander broer se dood - Flip was op pad huis toe om na Tolla se dogter, Anel, se troue te kom waar hy die seremoniemeester sou wees. En die dag voor die troue is hy toe in die ongeluk dood en toe moes die troue aangaan. Dit was vir almal baie swaar, maar vir Tolla nog swaarder.

Het godsdiens ‘n groot rol gespeel in sy lewe?
Sy ma was uiters Godvresend en hy was vir ses jaar ‘n alleenkind. Daar was nooit ‘n kwessie daaroor nie. Hy was iemand wat geweet het waar sy saligheid lê en dan was daar oomblikke wat hom geruk het om weer te bepeins oor die lewe. Hy het na die dieper dinge in homself gegryp, maar sy lewe het dit nie maklik gemaak nie. Hy het soms ingeperk gevoel deur die gejaag en gekuier en gekruide taal. Hy het baie konflik hieroor gehad in homself. Toe hy begin sat raak het, toe hy eindelik sover kon kom om dit te sê, het hy met Marita begin praat dat hy dalk ouens wat vasgevang is in dieselfde kraaines sou wou help. Hy is dikwels gevra om in die openbaar te praat en hy het besef hy het ‘n storie, maar hy wou sonder groot vertoon met mense gesels oor godsdiens.

Sy optredes en leefstyl het depressie by hom veroorsaak en hy wou ophou met sy optredes. Vertel meer hieroor.
Die depressie was 'n uitvloeisel van sy gevangenskap van sy gejaagde lewe waaruit hy nie kon kom nie. Die ironie was dat dit wat hy gedoen het, die openbare lewe was vir hom lekker, maar nie al die ander goed wat daarmee gepaardgegaan het nie. Hy wou rustiger wees en meer tyd met sy gesin deurbring.

Hoekom het Tolla se dood so 'n impak op mense gehad?
Ek kon daardie vraag nog nooit volledig vir myself beantwoord nie. Mense was aangegryp deur sy lewe en sy afsterwe. ‘n Mens onthou iemand nie vir wat hy gedoen het nie, maar vir hoe hy jou laat voel het. Tolla het met persoonlike kontak mense geroer. Selfs in sy stories het Tolla se pyn en emosies neerslag gevind. Jy kon dele van jouself daarin herken. Vir Tolla het elkeen getel, hy het nie bedrog in hom gehad nie en hy was so onselfsugtig. Hy het sy beste probeer gee en hy was eerlik. En toe hy weg was, was die gevoel: " Nee, dis te gou." Hy het so gegee en uitgedeel sonder om terug te verwag. Ek weet nie wat om jou te antwoord nie.

Sy verhouding met sy gesin?
Hy het intense en intieme kontak met sy gesin gehad. Hy het homself nooit aan die groot klok gehang nie, want hy het net stories vertel. Sy gesin het eers met sy afsterwe en die begrafnis regtig besef hoe groot sy aanhang was, omdat daar soveel mense na die begrafnis wou kom. Wicus, wat dit gereël het, moes aanhoudend nog reëlings tref om nog meer mense te akkommodeer.

Hoe toeganklik was dit vir jou om by ander mense buite die gesin uit te kom om oor Tolla navorsing te doen?
Met die gesin se goedkeuring het dit regtig baie deure vir my oopgemaak. Soms het mense se besige skedules dit moeilik gemaak. Ek het nogal gesukkel om by PG du Plessis uit te kom, dit was ‘n logistiese nagmerrie oor dagboeke, maar hy het vir my ‘n skatkis vol inligting gegee. Hy het verskillende fasette oor Tolla toegelig. Dit was ‘n broodnodige onderhoud. En dan die twee vriende van Tolla - vir die een was dit te pynlik en die ander een was bekommerd oor my beweegredes vir die boek. As die vertroue eers daar was, dan het dit baie goed gegaan.

Wat is die een eienskap van Tolla wat ná die skryf van die boek vir jou uitstaan?
‘n Doodgewone nederigheid.

Het jy nog onbeantwoorde vrae oor sy lewe?
Daar is ‘n paar goed, maar dit sal nie ‘n verskil aan die skelet van sy lewe maak nie.