Wanneer jy haar sien, lyk hierdie titel heel onvanpas, want sy is klein en fyn van postuur. En sy lyk of sy nie ‘n vlieg skade sal aandoen nie. Moenie dat jy ‘n rat voor die oë gedraai word nie, wag tot jy een van haar boeke oopmaak en sien wat haar karakters aanvang!

Haar nuutste boek in die Rizzoli- en Isles-reeks, The Killing Place (Bantam Press, R215), sal jou boei van die eerste woorde af: "She was the chosen one." Jy word onmiddellik ingetrek in die wêreld van 'n sekte se geheime. Die verhaal spring na sestien jaar later tot in die lewe van Maura Isles en dan raak jy vasgeweef in die gebeure in haar lewe. Sy gaan na ‘n kongres vir patoloë om te probeer ontsnap van haar ongelukkige en klandestiene verhouding met die priester, Vader Daniel. By die kongres ontmoet sy ‘n ou studentevriend en besluit impulsief om saam met hom, sy dogter en nog ‘n paartjie vakansie te gaan hou by ‘n ski-oord. Hulle beland op pad in ‘n sneeustorm, maak ‘n ongeluk en soek skuiling in ‘n afgeleë dorpie met die naam Kingdom Come. Die plek is verlate. En baie vreemd. Die groepie reisigers word gekonfronteer met gebeure wat hulle nie kan verklaar nie. Wanneer een van die groep hulp gaan soek, verdwyn hy. Maura vind tekens van lewe in die dorpie en stel ondersoek in en word dan ontvoer. Intussen is die groep as vermis aangemeld. Jane Rizzoli glo al die gebeure is uit karakter vir Maura en sy besluit om self die saak te ondersoek.
Die boek raak aan verskeie temas, chemiese afval en die uitwerking daarvan, poligamiese sektes, sowel as korrupsie in die polisie. Dis ‘n boeiende verhaal en mens kan nie wag vir die raaisels om een vir een opgeklaar te word nie. Ek wil nie meer van die storie weggee nie, want dis een wat jy moet lees.

Ek het Tess Gerritsen ontmoet oor ‘n koppie koffie en ons het heerlik gesels oor haar skrywery.

Jy het as mediese dokter gepraktiseer. Wanneer het jy begin skryf?
Toe ek sewe jaar oud was. Ek wou van kindsbeen af ‘n storieverteller wees, maar my ouers is baie prakties. Hulle is van Chinese afkoms, my ma is ‘n immigrant, en hulle gevoel is, soos dié van baie immigrante, dat alles oor oorlewing gaan. Hulle het gedink ek sou nie ‘n bestaan kon maak uit skryf nie en het my aangemoedig om eerder iets prakties en meer lewensvatbaar aan te pak. Omdat ek belanggestel het in wetenskap het ek besluit om medies te studeer en ek het uiteindelik vyf jaar gepraktiseer as dokter. Toe ek met kraamverlof gegaan het, het ek baie tyd gehad. Ek weet dit klink mal, tyd met ‘n baba! My baba het baie geslaap en terwyl hy geslaap het, het ek begin skryf aan my eerste boek.

Jy het oorspronklik liefdesavonture geskryf en toe oorgeskakel na mediese spanningsverhale. Waarom?
Alles het gegaan oor die spesifieke boek wat ek wou skryf. Ek het nooit my loopbaan vooruit beplan nie. Na nege liefdesverhale het ek ‘n idee gekry vir ‘n boek wat baie duidelik nie ‘n liefdesverhaal was nie. Ek het ‘n gesprek gehad met ‘n afgetrede polisieman wat my vertel het van die gerugte wat hy gehoor het terwyl hy in Rusland gereis het. Hy het gehoor kinders word in Rusland ontvoer en na die Midde-Ooste verskeep as orgaanskenkers. Ek was baie ontsteld hieroor en ek kon nie ophou dink daaraan nie. My kinders was in daardie stadium oud genoeg om orgaanskenkers te wees. Ek het geleer wanneer ‘n gedagte jou so ontstel, dat jy nie kan ophou dink daaroor nie, dan moet dit jou volgende boek wees. Dis presies wat gebeur het.
Ek het Harvest, ‘n mediese spanningsverhaal, geskryf en bloot al my agtergrond as dokter in die verhaal gebruik. Ek het geen idee gehad die boek sou so goed verkoop nie. Dit was my eerste keer op die top-verkoperlys. Ek het besef mense moet belangstel in wat agter die deure van die operasiesaal aangaan en het toe vir ‘n ruk by dié tema gebly.

Baie van die temas in jou boeke is nogal donker en gaan oor die buik (underbelly) van die gemeenskap. Wat trek jou om hierdie temas aan te pak?
Ek het nog altyd belang gestel in die donker kant van goed. Dit kom uit my kinderdae. My ma was ‘n groot aanhanger van gruwelrolprente. Sy het my en my broer na al wat ‘n bangmaak-fliek is gevat. Ek het my hele kinderlewe die donker kant van Hollywood geabsorbeer en ek vermoed daarom dink ek die beste stories is die stories wat jou bang maak! So, dis waaruit my vermaak as kind bestaan het en ek probeer vandag nog daardie gevoel van om ‘n bang kind in ‘n rolprentteater te wees aan my lesers oordra.

Doen jy baie navorsing vir jou boeke?
Dit hang van die boek af hoeveel navorsing ek doen. In The Killing Place was daar nogal heelwat navorsing oor die effek van chemiese senugas en biologiese wapens op mense, asook navorsing oor poligamiese sektes (waarvan daar ‘n hele paar in die VSA is). Hierdie goed was vir my baie interessant.

Waar kom die idee vir The Killing Place vandaan?
Ek het tien jaar rondgeloop met die idee in my kop. Dit was na aanleiding van ‘n ware gebeurtenis in Utah in Maart 1968 in ‘n plek genaamd Skull Valley. Die naam laat mens sommer dink daar moes iets slegs gebeur! Toe die boere een koue oggend wakker word en na hulle weivelde gaan, vind hulle al hulle skape is dood. Oornag het ongeveer 3 000 skape net omgeval en gevrek. Hulle het ook opgemerk die voëls het dood uit die lug op die grond geval. Dit was ‘n massiewe vrekte van diere en niemand het geweet waarom nie. Dertig jaar later, die dossier is die Dugway Insident genoem, is die dossier uiteindelik gedeklassifiseer deur die regering. Dis duidelik die regering was op een of ander manier betrokke en hulle moes toegee die insident het gebeur. Ek was met afgryse vervul toe ek dit in 1998 gehoor het. Dit kon netsowel met die inwoners gebeur het. Was dit nie ‘n koue nag nie, en het mense hulle vensters oopgelos, kon ‘n hele dorp uitgesterf het. Ek het gedink dit sal ‘n perfekte storie maak, want die gevaar bestaan steeds vandag. Daar is steeds oral in die Weste depots waar afval begrawe is, wat besig is om te verweer. Ons maak soveel wapens dat dit maklik is om beheer daaroor te verloor. Niemand weet wat gebeur met al daardie wapens nie. Ek het in my kop die storie so beplan dat ‘n hele afgeleë dorpie uitgewis word, my heldin daag daar op en vind die plek verlate en het nie ‘n benul van wat gebeur het nie. Dis waar ek die idee gekry het.

Jy skryf alleenstaande boeke sowel as die Rizzoli-en-Isles-reeks. Hoe werk jou skryfproses?
Dis baie organies. Ek het nooit beplan om ‘n reeks te skryf nie. Inteendeel, toe ek begin skryf het, het my agent my aangeraai om eerder alleenstaande boeke te skryf, want dit is baie makliker om die regte aan Hollywood te verkoop. Sy het my ontmoedig om ‘n reeks te skryf. Toe skryf ek die boek The Surgeon waarin Jane Rizzoli vir die eerste keer haar opwagting maak. Sy was maar ‘n klein karakter en het nie ‘n hoofrol gespeel nie, maar soos die boek aangegaan het, het sy 'n al hoe interessanter rol begin speel. Ek het beplan om haar dood te maak in die boek, maar sy het net sterker en sterker geword en haarself laat geld. Teen die einde kon ek haar net nie doodmaak nie! Toe die boek eindig, wou ek meer weet van Jane. Ek besluit toe om ‘n boek te skryf waarin sy die hoofkarakter is, The Apprentice, en dan sal ek haar daarna nooit weer sien nie, maar na die boek het sy my steeds geïnteresseer. Alles wat in die reeks gebeur, was onbeplan en organies. Maura Isles is ook as ‘n klein karakter bekendgestel in The Apprentice. Aan die einde van die verhaal het ek haar donker en misterieus gevind, so ietwat van ‘n Gotiese figuur. Ek het bly wonder wat haar storie is en so het sy ook al hoe sterker begin word in die daaropvolgende boeke. Ek trek nou al by agt boeke, die negende is op pad, en die twee vroue het bly ontwikkel en hul lewens verander die hele tyd. Wel, solank hulle vir my interessant bly, sal die reeks ook aangaan.

Dis ‘n onverwagte vriendskap tussen Jane en Maura, want hulle is teenpole van mekaar. Jane is in ‘n gelukkige verhouding en arme Maura het ‘n onvervulde liefdesverhouding met Vader Daniel. Hoe het dit gebeur?
Dis maar een van daai dinge. Jane is die soort vrou wat jy dink nooit gelukkig in ‘n verhouding sal wees nie - sy is in die polisie en boonop nie aantreklik nie.
Ek onthou toe ek die eerste boek geskryf het, het ek haar onaansienlik gemaak. Mans het altyd by haar verbygekyk na die mooier vroue in die vertrek en sy vervies haar altyd daaroor. Eienaardig genoeg het sy tog ‘n man gekry wat lief is vir haar. Maura daarenteen is baie mooi, maar kan nie geluk vind nie. Ek skryf eintlik die boeke om uit te vind wat in hulle lewens gebeur. As een voltooi is en ek begin met die volgende, is dit soos om weer tyd saam met vriende deur te bring en te hoor wat nuut in hul lewens is!

Is daar hoop vir Maura en Daniel?
Hy is ‘n baie gefolterde man, hy is ‘n goeie man, maar hy het ‘n eed afgelê en dis baie moeilik vir hom om sy eed te verbreek. So ek dink die angst waaronder hy ly, sal nog vir ‘n paar boeke aanhou.

Verras jou karakters jou?
Hulle doen dit, ja. Dis moeilik om ‘n toneel te skryf en nie hul stemme te hoor nie. Partykeer praat hulle in my kop en dan sê ek, maar ek het nie verwag dat jy so gaan optree nie!

Waaraan werk jy nou?
The Silent Girls, nog ‘n Jane-en-Maura-boek wat gaan oor moorde in China Town.

Hoe skryf jy?
Ek skryf die eerste manuskrip met pen op papier. Ek kan nie op ‘n rekenaar skryf nie. Ek het ‘n baie slegte handskrif, min mense kan dit lees. Ek probeer om vier bladsye per dag te skryf, so die eerste manuskrip vat my ongeveer sewe maande om te voltooi. Daarna herskryf ek dit verskeie kere. Ek laat mense eers toe om dit onder oë te kry na die vyfde of sesde herskryf.

Jou man het sy werk gelos om jou te help?
Ek sou dit nie sonder hom kon doen nie. Toe ek net suksesvol begin raak het en op boektoere moes gaan, was ek elke keer ‘n hele paar weke weg van die huis. Ons seuns was toe nog in die huis en skielik moes my man leer kook, want hulle moes eet. Boonop moes my man leer om al die dinge te doen wat ek normaalweg by die huis sou doen. Hy het my skrywery as ‘n familiebesigheid beskou en besluit hy moet help in dié besigheid. Hy was glad nie ongeneë om af te sien van sy werk as dokter om voltyds in die besigheid te help nie.

Hoe ontspan jy?
Ek is mal oor reis. Ek speel viool en ek het ‘n klomp musikante vir vriende wat dikwels oorkom na my huis sodat ons saam musiek kan maak. Ek is ook lief vir tuinmaak.

Wat lees jy?
Ek lees nie-fiksie, want ek versamel graag inligting, veral geskiedenis. As ek rillers lees dan moet daar wetenskap in wees. Die beginsels van wetenskap moet kreatief aangewend word in verhale.

Wat is vir jou goeie skryfwerk?
Dis nie net om poëties te wees op papier nie, maar vir my is dit die speel met my emosies. Voel ek ‘n emosionele konneksie met dit wat op die papier gebeur? Ek is nogal ‘n emosionele skrywer. Ek moet altyd weet wat my karakters voel, voordat ek ‘n toneel kan skryf. Dis emosie wat lesers intrek in ‘n verhaal. Emosie is wat my boeke begin. Ek kom vorendag met iets wat my regtig skok of laat ril, ek voel dit soos ‘n hou in die maag, dan weet ek dis ‘n goeie onderwerp vir ‘n storie.