Haar verhale gaan oor die lewe en die dood en daar is altyd iemand wat gewelddadig tot sterwe kom. Sy is nuuskierig om te sien hoe mense reageer wanneer hulle met hul rug teen die muur is. Jy ken iemand net regtig, sê sy, wanneer jy sien hoe hulle in ‘n krisis optree. En natuurlik kan sy in haar verhale mense goed laat doen omdat sy self nuuskierig is om te sien wat die karakter gaan doen.

Haar jongste boek, The Vanishing Point (Little, Brown, R126), is weer klassieke Val McDermid. Die boek open baie dramaties met Stephanie, ‘n biografieskrywer, wat deur sekuriteitsmense op ‘n lughawe vasgekeer word terwyl iemand die kind in haar sorg mooitjies ontvoer. Die sekuriteitsmense behandel haar soos ‘n krimineel en gebruik ‘n skok-apparaat om haar tot bedaring te bring. ‘n Speurder kom om haar te ondervra en dan vertel sy haar hele verhaal, wat begin toe sy gevra is om die biografie te skryf van Scarlett, ‘n werklikheidstelevisiester.  Dan ontknoop ‘n verhaal van konkelary uit die boonste rakke, met intriges wat jou bladsy na bladsy laat opslurp. Dis dwelms, partytjies, ’n body double, kanker, ‘n onetiese dokter, ‘n gewese kêrel, ‘n Roemeense huishoudster, ‘n weeshuis in Roemenië en dan nog ‘n speurder wat Stephanie te hulp snel. Om die verhaal kortliks te probeer verduidelik, is onmoontlik. Daar is net te veel kinkels en ‘n onverwagse en verrassende einde. Vir iemand wat sulke gewelddadige en slinkse verhale uitdink, doen dié skrywer baie gewone dinge om te ontspan. Sy stap, lees, kook en brei. In haar eie woorde vertel sy dat sy ‘n vervelige en vaal lewe lei in ‘n dorpie met net 400 inwoners en daar is niks glans aan haar lewe nie. Ek het met Val gesels tydens haar onlangse besoek aan Suid-Afrika.

Benader jy ‘n losstaande roman anders as wat jy een in ‘n reeks benader?
Ek begin op ‘n ander plek. Met ‘n reeks is jy verbind tot ‘n groep karakters wat jy van boek tot boek saamdra. Jy ken hul moontlikhede en beperkinge en jy weet waartoe hulle in staat is. Tony Hill gaan byvoorbeeld nie sommer skielik in ‘n aksieheld verander nie. Hy gaan nie mense met die vuis bydam of van ‘n gebou afspring nie. Dis nie in sy aard nie. Wanneer ek dus aan ‘n boek in die reeks skryf, vind ek maniere om die verhaal te laat pas by dit waartoe die karakters in staat is. Met ‘n losstaande roman het ek geen beperkinge nie, want ek begin skoon. Ek begin met die storie en maak seker dit maak sin. Dan begin ek met karakterontwikkeling, wie se storie is dit nou eintlik en waarom doen die karakter wat hy doen.

Kies jy ‘n ander soort gebeurtenis om oor te skryf wanneer jy ‘n losstaande verhaal skryf?
Die losstaande boeke is altyd baie pret. Aan die begin van my beroep het ek bewustelik besluit dat ek verskillende tipe boeke wil skryf. Ek het geweet dat sekere soorte verhale ‘n skrywer inperk met hoe jy die verhaal kan laat ontwikkel. Met ‘n reeks moet jy bv. binne die grense van die karakters se vermoëns bly. Met ‘n losstaande verhaal is ek altyd baie opgewonde oor die storie self. Dit neem dikwels lank vir die idee vir so verhaal om te ontwikkel tot op die punt waar ek gereed is om dit neer te pen. Wat die skryf dan so lekker maak, is dat ek ander soorte stemme en ander soorte karakters kan uitbeeld.

Werk jy die hele verhaal voor die tyd uit?
Ek weet gewoonlik in watter rigting ek met die verhaal gaan beweeg. Sekere van die belangrikste gebeure is voor die skryf in plek, maar dan ontwikkel die storie gaandeweg soos wat ek skryf, soos wat ek ‘n beter begrip van die karakters kry en soos wat die potensiaal van die verhaal uitbrei. Dinge wat onverwags gebeur verras my nie op so manier dat ek voel ek het nooit daaraan gedink of verwag dat dit gaan gebeur nie. Die verhaal ontwikkel op sy eie trant en teen sy eie tempo. Met hierdie boek spesifiek het ek geweet watter karakters in die finale toneel gaan wees. Ek was net nie heeltemal seker hoe die toneel gaan uitspeel nie, want daar was meer as een pad wat die storie kon loop. Toe ek die finale toneel uiteindelik geskryf het, het ek geweet dit was die regte een, want dit is bepaal deur alles wat ek reg deur die boek reeds geskryf het.

Die vriendskap tussen Scarlett en Stephanie is nogal ‘n onwaarskynlike een, want op vele vlakke is hulle teenpole van mekaar – een is ‘n  trashy realiteitstelevisiester en die ander een ‘n anonieme spookskrywer wat bekendes se biografieë skryf.
Stephanie kan baie jasse aantrek. Sy kan ‘n politikus wees, of ‘n popster, of ‘n sportman en sy kan Scarlett wees. Scarlett kan net Scarlett wees, maar sy is nie onnosel nie. Sy speel Stephanie soos dit haar pas. Wanneer jy na die gemiddelde realiteitstelevisiester kyk, is meeste van hulle vir 15 minute regtig bekend en dan verdwyn hulle weer in vergetelheid. Een of twee van hulle is slim genoeg om die vlietendheid van werklikheidstelevisie te vervolmaak tot ‘n uitgebreide en meer volhoubare beroep. Een so ’n ster is Katie Price, oftewel Jordan, wat vir haar ‘n beroep geskep het deur haarself te wees. Sy speel die dom blondine, maar dis baie duidelik dat sy nie ‘n dom blondine is nie. Sommige deelnemers aan werklikheidsreekse is slim. Hulle het moontlik net grootgeword onder omstandighede waar hulle nie ‘n geleentheid gebied is om te wys hoe slim hulle is nie. Hulle het nooit regtig ingepas nie en die oomblik toe hulle ‘n geleentheid gegun is, het hulle dit met ope arms aangegryp en tot hul eie voordeel gebruik.

Soms duik daar dinge uit kitssterre se duistere verlede op. Hoe het jy dit beheer met Scarlett?
Sy het haar gesin baie goed op die agtergrond gehou en hulle toegang tot haar nuwe lewe beperk en beheer. Ek dink dikwels ek is met my skrywershoed op baie regverdiger teenoor mense as wat ek in die regte lewe is. Wanneer ek ‘n karakter skryf, kyk ek na hoe dié mens in sy/haar eie wêreldjie sal optree en moet noodgedwonge meer oopkop wees oor wie hulle kan wees as om net te dink hulle is totale idiote.

Het jou boek jou meer insig gegee in die karakter van werklikheids-TV-mense?
Ja, maar lank gelede, toe ek ‘n joernalis was, het ek allerhande soorte stories gedoen. Ek het vermaaklikheidsnuus, ondersoekende joernalistiek en harde nuus gedoen. Een van die dinge wat ek ontdek het deur tyd saam met mense in die vermaaklikheidswêreld deur te bring (ek het baie geskryf oor die soapie Coronation Street en het die akteurs baie goed leer ken), is dat so ongeveer 70% van hulle  bloot hulself gespeel het. Maar daar was 15 % wat regtig uitstekende akteurs was en wat in werklikheid radikaal anders was as die rol wat hulle vertolk het. Hulle was eintlik gekultiveerd en hoogs intelligent, maar het dit nie geprojekteer wanneer hulle onderhoude gedoen het of wanneer jy na hulle op TV gekyk het nie. Ek het nog altyd die oënskynlike teenstrydigheid verstaan.

Waar het jy die aanhaling van Oprah voor in jou boek gekry?
Dit was die laaste vyf jaar teen die liasseerkabinet in my kantoor opgeplak. Toe ek dit die eerste keer gelees het, het ek besef hoe waar dit is. Mense ervaar roem dikwels as ‘n stormagtige ding. Dit kan jou lewe heeltemal ontwrig op maniere wat jy nie noodwendig verwag nie. Ek het nog ‘n aanhaling op my kabinet, een van Jeanette Winterson: “Be ambitious for the work, not for the reward.”  Ek probeer my lewe daarvolgens leef.

Is joernalistiek ‘n goeie leerskool vir fiksie skryf?
Nie noodwendig hoe om te skryf nie, maar dit gee jou toegang tot mense se lewens. Die grootste ding wat ek van joernalistiek oorgehou het, is die databank van lewens waar ek in en uit gestap het. Jy sien mense onder druk, onder vreemde omstandighede, in hul huise, in hul werkplekke. Jy ontmoet  ongelooflik baie mense van alle vlakke van die samelewing. Dit is kennis wat jy nie kan koop nie. Ek is reeds 21 jaar uit die joernalistiek, maar ek vind dat ek steeds mense onthou met wie ek onderhoude gevoer het.

Jy gebruik jou persoonlike ervaring vir die openingstoneel van die verhaal. Het jy ander persoonlike ervarings gebruik?
Nee, nie regtig nie. Ek loop nie eintlik rond en maak mense dood nie! Boeke begin dikwels met iets kleins wat gebeur, soos dat die metaalverklikkers by die lughawe afgaan wanneer ek met my twee kunsmatige knieë deurloop. My seuntjie het by die baggasievervoerband gestaan terwyl ek in ‘n glashok vasgekeer was, en ek het net gewonder wat sou gebeur as ‘n vreemdeling sy hand vat en doodluiters met hom uitstap. Ek het ‘n nare, sluwe brein en dikwels is dit sulke klein gebeure wat my verbeelding aan die gang sit vir ‘n nuwe verhaal.

Wat laat jou aanhou skryf?
Die idees wat aanhou kom. Ek sal nie weet hoe om andersins my dae deur te bring nie. Ek sal net my vriende en familie frustreer as ek nie skryf nie. Skryf gee my steeds eindelose plesier, ten spyte van die harde werk. Daar is dae dat ek wonder waarom ek dit doen en dat ek dalk ‘n werkie in die plaaslike kroeg moet gaan kry. Maar ek is ‘n verpligte skrywer. My kop is nie lekker as ek nie skryf nie!

Is jy verlig as jy klaar is met ‘n losstaande boek, dat jy nou ontslae is van die karakters?
Dit gebeur meer dikwels met ‘n boek in ‘n reeks dat ek wonder waarvoor ek iets op ‘n sekere manier geskryf het en dat ek myself in ‘n onmoontlike posisie gelaat het. Daar is altyd verligting aan die einde van ‘n boek, veral as die verhaal sin maak en alles bymekaarkom. Hand aan hand daarmee kom die paniek, want sal ek dit weer kan doen?

Bekommer jy jou steeds oor hoe jou nuwe boeke ontvang gaan word?
Die hele tyd. Ek wonder of lesers daarvan sal hou. Ek lees resensies. Skrywers wat sê hulle lees nie resensies nie, is leuenaars. Ek gee nie om as iemand kritiek het op my boek en dis konstruktief en goed uiteengesit nie. Maar iemand wat bloot sê hulle hou nie van die karakters nie, moet nie eens lees nie, wat nog te sê van resenseer!