Die boek is ook reeds in Afrikaans beskikbaar as Kruispad en word uitgegee deur Struik Christian Media (R149,99). Die gewildheid van The Shack was vir William Paul Young onverwags, want hy het die boek hoofsaaklik bedoel as ‘n Kersgeskenk vir sy gesin en vriende. Nadat dit in 2008 gepubliseer is, het dit vinnig een van die topverkopers regoor die wêreld geword. Daar is 10 miljoen eksemplare in die VSA alleen verkoop en 8 miljoen vertaalde eksemplare in die res van die wêreld. Die boek was ook vir 50 weke in die nommer 1 posisie op die New York Times se topverkoperlys. Dis in 42 tale vertaal, onder meer in Russies, Grieks en Arabies. Die boek was ook in Afrikaans uitgegee as Die Shack.

In sy jongste boek, Kruispad, maak ons kennis met Anthony Spencer, ‘n besigheidsman wat met serebrale bloeding in die hospitaal beland. Anthony is nou nie juis iemand wat as gaaf, vriendelik en goed beskryf kan word nie. Inteendeel hy is maar ietwat van ‘n kluisenaar met min vriende en boonop is hy van sy vrou geskei en het ‘n slegte verhouding met sy dogter. Hy het ‘n Damaskus-ervaring terwyl hy in ‘n koma in die hospitaal lê, wanneer hy vasgevang word in ‘n wêreld tussen die hemel en hel. Die verhaal draai dan om die mense wat hy in hierdie tussenwêreld ontmoet en hoe dit uiteindelik sy sienswyse beïnvloed. William Paul Young skroom nie om weer ‘n teologiese tema aan te pak nie en vrae oor geloofskwessies te vra nie. Ek het die skrywer per e-pos uitgevra oor sy boeke.

Was jy verras met hoe The Shack ontvang is?
As jy die geskiedenis ken dan weet jy reeds ek het oorspronklik net 15 eksemplare daarvan gedruk by ‘n plaaslike drukkery en het nooit ‘n idee gehad dat die boek gepubliseer sou word nie. Daardie 15 eksemplare het alles gedoen wat ek ooit wou hê die boek moes doen . . .So, ja, alles was ‘n verrassing. Die reaksie op The Shack was oorweldigend positief. Negatiewe reaksie het hoofsaaklik van my eie mense gekom, godsdienstige tipes wat nie eens die boek gelees het nie. Ek verstaan dit.  As ons glo binne ‘n paradigma waarin vrae die onsekerhede van ons geloof ontbloot, moet ons dit beskerm teen enigeen wat ‘n uitdaging word. Dit was nog altyd makliker vir godsdienstige mense om reg te wees, eerder as om lief te hê. Die reaksies het geen impak gehad op my begeerte om nog ‘n roman te skryf nie. Ek skryf om te ondersoek en nie omdat ek ‘n agenda het nie. Enige teenstrydighede beteken dat mense betrokke is en dis ‘n goeie ding. Iemand het een keer geskryf of gesê ‘n skrywer se vyand is nie teenstrydigheid nie, maar onbekendheid.

Waarom het jy The Shack geskryf?

My vrou, Kim het my gevra :”Sal jy eendag ‘n geskenk skryf vir ons kinders (ons het 6 kinders tussen die ouderdomme van 19 en 32) waarin jy op een plek verduidelik hoe jy dink, want jy dink buite die boks.” So al wat ek probeer doen het is om vir my kinders ‘n Kersgeskenk te skryf. Ek het 15 eksemplare bestel, die ekstras was vir my vriende. Ek was heeltemal tevrede met wat daardie eerste 15 eksemplare bereik het. Vir my is hierdie fenomeen van wat gebeur het ‘n bewys dat God ‘n sin vir humor het.

Waar kom die idee vir jou tweede roman, Cross Road (Kruispad) vandaan?
Ek leef lank genoeg om naby gebeure van dood en sterwendes te wees. Ek is veral gefassineer deur NDE (naby dood ervarings), en verhale van mense wat wakker word uit ‘n koma en vertel hoe hulle heeltyd bewus was van wat om hul gesê is, en ervarings wat suggereer dat betekenisvolle gebeure kan plaasvind in daardie “tussenin plek”. Hoe verduidelik mens die voortgaan van oplettende aktiwiteit selfs al het die biologiese brein opgehou werk? Hoe verstaan mens ‘n gesprek tussen Jesus, Moses en Elia op die Berg van Verheerliking? In  The Shack sukkel ons met Mackenzie wat in die middel van sy lewe vasgevang is. Wat sal gebeur as ons ‘n man kry in ‘n tussenstadium, tussen die aardse bestaan en die ander? Wat as dit nie ‘n innemende man is nie, iemand vol van die swakhede wat so baie van ons het, selfsug, egoïsme, gewillig om verhoudings op te offer ter wille van mag en sukses? Hoe bereik ons die man? Hierdie soort vrae, sowel as die metafoor van ‘n kruispad, ‘n plek waar mens moet stop en ‘n rigting kies, ander in die oë staar en die gevolge van jou dade aanskou, het alles gekombineer om my verbeelding aan te wakker vir die storielyn. Toe ek begin werk het daaraan was ek nie seker dit sou werk nie. Ek is in ekstase met die resultaat en ek dink lesers sal ook wees.

Was dit ‘n moeilike boek om te skryf, want op die oog af raak jy weer eens aan ‘n teenstrydige tema?

Nee, nie regtig nie. Ek is nie ‘n agenda-gedrewe skrywer nie. Ek is meer van ‘n ondersoekende skrywer wat vrae vra wat vir my saak maak en hopelik vir die vir wie ek omgee, my vriende en familie. As dit in die parameters van ‘n moraliteitsverhaal pas, dan is dit so, maar dit was nie my bedoeling van meet af aan nie. Ek veronderstel dit hang ook af van jou definisie van moraliteit rakende gedrag of geloof en die ruimte tussen die twee. Die waarheid is vir my baie belangrik. Ek dink ons almal trap klei as ons glo alles is relatief en dit wat verstandig is word bepaal deur dit wat die meeste voordeel inhou of die mees logiese is. Ek skryf nie om teenstrydig te wees nie. As dit gebeur dan verwelkom ek jou by die gesprek.

Waarom skryf jy die verhale wat jy skryf?
Ek sal eerder spasie maak, of die mure van bestaande ruimtes uitdruk en ruimte skep vir ander om binne daardie landskap te hoor wat dit is wat God aan hulle persoonlik of gesamentlik wil oordra. Bygesê, daar is beslis temas in dit wat ek skryf, soos die waarde van elke individuele persoon, van ‘n God wat die hele tyd goed is ten spyte van ons persepsie van die karakter en natuur van daardie God, en dat God betrokke is binne die details van ons lewens met groot respek en toegeneentheid wat nie bepaal word deur ons vermoë om op te tree volgens geloofsoortuiging of behoefte nie. Ek moet sê dit sal lekker wees as die leser die boek neersit na die lees daarvan en met kinderlike genoegdoening sê:”Sjoe, kom ons doen dit weer!”

Hoe het die skryf van The Shack  jou lewe en die van jou gesin geraak?
Dis nie ‘n eenvoudige vraag nie. Ek het meer as 100 000 e-posse, briewe en boodskappe van regoor die wêreld ontvang. Mense wat vir my hul verhale van heling vertel, van verhoudings wat herstel is en hoe hierdie klein boekie ‘n impak op soveel mense se geloofsreis gehad het. Ek was reeds tevrede met die impak wat die eerste 15 boeke gehad het. My eie kinders se reaksies was waarlik van die beste wat daar was. Materiële dinge is nie die dinge wat saak maak in die lewe nie, ons het almal geleer om tevrede te wees in enige van ons omstandighede. Die dinge wat regtig saak maak, verhoudings en verdienstelikheid, waarde, betekenis, doelstelling, liefde, sekuriteit . . . hierdie was alles in plek voordat ek The Shack geskryf het.

Wat is die belangrikste gedagte wat jy wil hê lesers moet onthou nadat hulle Kruispad gelees het?
Dat daar ‘n God is wat heeltyd goed is en wat ook heeltyd betrokke is by ons lewens en wat ons najaag met meedoënlose liefde en wat ons bystaan in ons hartseer en donker sodat ons die goeie, die goedhartige en die waarheid kan laat groei. Ook dat elke mens saak maak en waarde en betekenis het ten spyte van die diepte van die hart se skade. Niks kan ons skei van die liefde van hierdie God nie.

Werk jy reeds aan ‘n nuwe boek?
Altyd! Maar alles het sy tyd. Ek speel konstant met nuwe idees en ander maniere van hoe om ou vrae te benader.