In die Sederberge
Willem Koen, retoesjeerder – Ek en my gesin soek Kerstyd rus en vrede in die Sederberge. Wat is beter as om naby aan God se handewerk te wees? As jy lief is vir rotsklim, is dit altyd lekker om jouself uit te daag en te sien of jy nog teen die Maltese Kruis kan uitbeur. Dié kruis laat my dink aan Christus en waaroor Kerstyd gaan – die geboorte van die Christuskind.”

Hoor die branders
Odette Peiser, fotoredakteur – Om net die branders te hoor in die vroeë oggendmis as ek en my verloofde, Miguel Howell, stap van Glenstrand tot aan die einde van Kampsbaai en terug. Dan glimlag ons honde, Rubi en Diego, van oor tot oor as hulle die bal agter die branders gaan haal op Kersoggend. Dís elke jaar ’n spirituele oomblik. Dis dié klein goedjies in die lewe wat húlle so gelukkig maak wat jou laat besef hoe min ’n mens ook eintlik nodig het om die lewe te geniet. Ons katte, Morrissey, Shenna en Lula, en ons honde laat ons vergeet van die stres van spertye en selfs die stres van die Kersmiddagete vir die hele familie – Iere, Argentyne, Britte en Afrikaners. Die diere gee ons nuwe energie. Kersoggend is nie dieselfde sonder ’n vars seebries en vars hondespore in die sand nie . . . ”

Miguel & Odette Rubi & Diego op die strand

Pelgrimstog na Skotland

Fanie Cronjé, sosiale- en stylredakteur – Ek wou gaan kyk of my jonger broer, Marthinus, wat in ’n motorongeluk gesterf het, nie dalk nog leef en miskien dáár is nie – hy het voor sy dood ’n ruk lank bome geplant op ’n plaas net buite Edinburgh. Dit was twee jaar gelede oor die Kerstyd vir my ’n soort pelgrimstog. Die onwerklikheid van die trauma ná sy dood het vreemde emosies in my wakker gemaak. Nodeloos om te sê het ek hom nie gevind nie. Op pad terug van Skotland het ek Windermere, in die noorde van Engeland, besoek. Op ’n koppie wat oor die hele Merestreek uitkyk, het ek besef hy is regtig dood. Iets het op daardie oomblik by my gekliek. Dalk het ek toe vir die eerste keer sy dood verwerk, of dalk het ek toe besef wat lewe en dood werklik beteken. Ek lewe, hý nie.”

Fanie Cronje Windermere, Engeland

Kop in die wolke

Hanneke Visagie, ontwerper – Ek het so vry soos ’n voël gevoel ná die eerste drie sekondes (waarvan ek niks kan onthou nie!) se tandem-valskerm-vryval. Dit was uit ’n Fibi, die kleinste vliegtuigie ter wêreld, saam met my instrukteur, Tuk. Dit was ’n impulsiewe besluit en ek was baie bang, maar ek sal dit nooit berou nie. Ek was letterlik on top of the world. Dit was verlede Desember my Kersgeskenk aan myself. Iets wat ek altyd sal onthou en beslis ’n móét vir adrenalien-verslaafdes. Dis ongelooflik om so naby aan die hemel te voel. Jy voel waarlik tintelend en lewendig en emosioneel in voeling met die Skepper. En jy voel bitter, bitter klein as jy die aarde voor jou oopgevlek sien terwyl jy daar bo ‘hang’. Dit was asof strome energie deur my liggaam gevloei het.”

Kos-kuier

Herman Lensing, kosredakteur – Verlede jaar het ek op Oukersaand saam met Richard Carstens by sy restaurant, Nova, in Kaapstad, gekuier. Ek was omring deur gewone mense met uitsonderlik goeie kos en het die woorde van my kosmentor, Markus Färbinger (sjef, bakker en mede-eienaar van die Île de Païnbakkery op Knysna), ervaar: ‘Die krag van kos is spiritueel. Dit het die manier om jou dankbaar te maak vir wat jy het en wat jy is. Waarheen jy gaan en waarvandaan jy kom.’ ?Alles wat Kersfees vir my beteken! ’n Sagte patee met ’n krakerige karamelkors was eerste, gebalanseerd en perfek. Toe volg ’n bord tamaties – sewe teksture en elkeen het gespreek van karakter en balans. Nog nooit het ek besef in die eenvoud van ’n tamatie lê daar soveel duisende moontlikhede nie! Die kelner het die volgende gang gebring: Onder ’n veerligte skuim het ek die smake van lietsjie vasgevang in ’n sorbet gevind. Die geure het gedans in my mond . . . ?Die hoofmaal? 24-uur geroosterde varklies. Ons het die aand geëindig met die beste sjokolade-roomys ooit. Die geur was so intens dat ek dit nou nog kan proe. In my hart was ek só gelukkig en ek het geweet dis waar ek moet wees . . .“

Herman Lensing Sjokolade-roomys

Deel jou avonture met SARIE!
Stuur ’n foto van jouself en ’n mooi foto van die plek wat jy besoek het, asook ’n beskrywing van jou reiservaring (sowat 150 woorde) saam met jou kontakbesonderhede per e-pos na mvanwyk5@sarie.com of SARIE-reisdinge (lesersbydraes), Posbus 1802, Kaapstad 8000.