Erika Roets, oorspronklik van Namakwaland, vertel van hul lewe daar.

Waar woon julle?
Op ’n klein dorpie, Moosomin, in die suidoostelike hoek van die provinsie Saskatchewan. Dis so 2 uur se ry van vier groterige stede, nl. Minot, Brandon, Yorkton en Regina. Die provinsies Alberta, Saskatchewan en die westelike deel van Manitoba maak die prêries uit. Die wêreld is taamlik plat hier. In die winter is dit ’n sneeu-woestyn en in die somer is die vlaktes beplant met graan en kanola.

Wie is julle en wat doen julle?
Ons is ses SA gesinne en saam met al die kinders is ons ’n groep van 22. Die meeste van die kinders is in Kanada gebore, twee is in Engeland gebore en ons twee het uit SA saamgekom.

Ettiene en Josande Crouse is onderskeidelik dokter en rekenmeester, en hulle kinders is Edrich (17) en Mckayla (15). Hulle was die eerste SA gesin hier en is reeds van 1995 af hier. In 1996 het Ross en Lynne Kerkhoff en hul kroos, Matt (18), Ally (16) en Tom (14), gekom. Ross is een van die mediese praktisyns en Lynne doen binnehuisversiering en behartig ’n kwekery en bloemiste. In 1998 was dit Schalk en Henriette van der Merwe, mediese dokter en tuisteskepper, se beurt. Hulle het twee kinders, Heinrich (13) en Monica (10). Mercia van Jaarsveld, die ander dokter, is getroud met beesboer Johan Jacobs. Hulle het twee seuns, Zane (4) en John (2). Hulle het in 2005 hierheen verhuis. Ek en my man, Wessel, is dokters en het in 2007 met ons twee kinders, Anli (16) en Rudolph (11), Kanada toe gekom. Tannie Ina van der Merwe, Schalk se ma, het in 2006 saam met haar man hierheen gekom. Hy is intussen oorlede en nou is sy die apteek-assistent en almal se ouma.

Daar is heelwat boere wat met die plaashervestigingsprogram hierheen gekom het. Bekende vanne soos Visser, Van Zyl, Luttig, Pretorius, Jooste en Hoffmann boer in dié geweste met gesaaides of beeste.

Waarom is julle Kanada toe?
Om die wêreld te verken en om vir ons kinders meer toekomsgeleenthede te bied. Werksgeleenthede is volop in Kanada. Op die platteland is die misdaadsyfer baie laag. Opvoeding is vir die Kanadese belangrik en baie geld word op skole, kolleges en universiteite spandeer.

Hoe lyk dit daar?
In die somer lyk die prêries nogal soos die Karoo, net so plat, maar met geen berge in die vertes nie. Die gesaaides soos graan en kanola staan dan orals en die wêreld is baie groen, want dis ’n somerreënvalgebied. Ons almal geniet die buitelug. Watersport op die talle mere in die omgewing is gewild, en hier is ook volop kampeerterreine.

In die winter is dit spierwit en bedek met sneeu. Dit kan baie koud raak op die vlaktes, met temperature tot so laag as -45 grade as jy die windafkoelingsfaktor byreken. Dis maar moeilik vir die boere in die winter, maar hulle implemente en toerusting is aangepas vir die koue en sneeu. Motor bestuur op die ysige paaie en deur sneeubanke is nogals ’n kuns om te bemeester.

Grootste aanpassing?
Waarskynlik die weer en taal. En natuurlik dat familie en vriende letterlik aan die anderkant van die wêreld is. Danksy die rekenaar gesels ons weekliks van aangesig tot aangesig en die telefoon, briewe en e-posse help ons om kontak te behou. Ons skrik nie meer vir die sneeu of koue nie. Ons kuier soveel ons kan bymekaar sodat ons in Afrikaans kan lag en huil, en stories uitruil. Die meeste van ons praat Afrikaans aan huis en ons kinders praat ook nog Afrikaans. Ons geniet die vryheid en die veiligheid baie. Die mense hier is baie rustig, glad nie snobisties nie en het ons maklik aanvaar. Daar is ’n hegte band tussen die Suid-Afrikaners en almal spring in om mekaar te help. Of dit nou ’n trekker is wat vasval of ’n kind wat seerkry, almal help om die krisisse die hoof te bied. Ons vroue hier op Moosomin probeer om een maal ’n maand saam tee te drink.

Was dit die moeite werd om julle daar te vestig?
Ek dink almal hier dink dit was die moeite werd, want ons is ná al die jare steeds hier. Ons werk lekker saam as ’n span, ons kinders is gelukkig in die skole, en soos Tannie Ina sê, om hierheen te verhuis was vir haar soos om ’n aftreepolis uit te neem.

Ons sal almal na SA gaan om te kuier. Of ons weer daar sal kan werk, is moeilik om te sê. Sommiges wat al baie jare hier bly, sê dadelik nee. Hulle is gevestig hier, hulle kinders is hier gebore en sal nooit in SA kan aanpas nie. Wie weet, net die Here weet wat die toekoms vir iedereen inhou.