Vir my was dit ’n besonder terapeutiese artikel, een van daardies wat jou troos dat enige struikelblok op aarde inderdaad oorkom kan word. Selfs die uitrusting wat jy vir jou matriekafskeid gekies het.

Dan is ek nie die enigste ellendeling wat soos ’n mislukte vrugtekoek gelyk het op my eerste Groot Aand nie!

Ek was naamlik uitgedos in ’n ligblou voile-affêre met ’n groot val om die hals. Ek was nooit juis een vir valle en frille nie. (Selfs op die hoogtepunt van die prinses Diana-histerie het ek net ’n enkele keer geswig voor ’n bloes met pofmoue en valle. Dit het nie gewerk nie. Om een of ander rede het dit my meer soos ’n Poolse poetsvrou as ’n Britse prinses laat lyk.) Maar ek was in ’n ongeneeslik ordentlike skool waar meisies nie rokke met kaal skouers of dun bandjies mog dra nie. Dit kon dalk tot dans en ander donkerder sondes lei. Daarom het ek die val gekies, met die hoop dat ek dit in die loop van die aand so soort van suggestief oor my een skouer kon laat afsak.

My enigste skrale kans om bietjie lyf te wys.

Dit het nie gewerk nie. My metgesel het vir my ’n orgidee van ’n obsene grootte gebring wat ek op die val moes vasspeld. Daar was geen manier waarop ek my
halslyn kon laat sak sonder om die blom in my bord kos te laat hang nie.

Boonop het ek in daardie dae geglo in kleurkoördinasie. Ek het die blou kleurskema van kop tot tone deurgevoer. Darem nie my hare blou gekleur nie, maar wel my ooglede en selfs my naels potblou geverf. Ek het gedog blou naels sou meer oorspronklik, meer avant-garde lyk as pienk naels, maar dit het bloot meer verrot gelyk. Asof ek frostbite opgedoen het en enige oomblik my blou vingerpunte in my glas vrugtepons gaan verloor.

Vandag dink ek aan daardie aand – met verleentheid natuurlik, maar ook met heimwee – want dis weer daardie tyd van die jaar. Hoewel baie skole deesdae heelwat vroeër in die jaar al afskeid hou (kort ná Valentynsdag, klink dit soms) sodat die leerders se aandag nie die res van die jaar afgelei word deur ligsinnighede soos wat om te dra en wie om te vra nie. Goeie bedoelings, gewis, maar mens eet mos nie jou poeding voor jou sop nie? Wat bly oor om na uit te sien aan die einde van die maal?

Aan die ander kant is die meeste ouers seker verlig om die stres so gou moontlik agter die rug te kry – en hul bankbalans in ere te herstel voor Krismis kom. Want die moderne matriekafskeid kan ’n ouer kort duskant ’n senu-ineenstorting en/of bankrotskap laat omdraai. Seuns het so erg soos meisies geword, so ydel en so besorg oor hare, klere, skoene (vra my, ek het drie seuns in die huis), maar hulle het dank die hemel ’n kleiner keuse. ’n Meisie kan ’n lang rok, ’n kort rok of selfs ’n stylvolle langbroek na haar afskeid dra. ’n Seun wat met ’n kortbroek of ’n rok by sy afskeid opdaag, moet óf baie dapper óf baie dom wees.

Dis alles faktore wat my soms dankbaar maak dat Franse skole nie ’n matriekafskeid of ’n prom of enige so ’n gedoente hou nie. En tog voel dit meestal nie vir my rég dat ons kinders hier in Frankryk so sonder enige ritueel moet klaarkom nie. Hier’s nie ’n Forty Days of ’n Witrokdag of ’n laaste dag wanneer jou uniform deur jou maats met graffiti bekrap word nie. Onse Thomas het ’n paar jaar gelede amper ongemerk sy laaste dag op die skoolbanke deurgebring. Die finale eksamen was weliswaar belaai met spanning en angs, maar daar was geen teenpool van opgewondenheid oor ’n geskikte uitrusting of selfs net ’n ligsinnige after-party nie.

En dis tog jammer, bespiegel ek vanoggend weer. Selfs al beteken dit ook dat Thomas nooit verleë sal voel oor ’n foto waarop hy met ’n wurgende strikdas langs ’n metgesel met blou vingernaels en ’n belaglike blom op haar bors moedig die toekoms instaar nie.