Sy is geklee in ’n wit satyn-aandrok wat met perfekte voutjies om haar onmenslike klein middeltjie gemessel is en dan drup tot op haar voete. Stringe diamante hang om haar nek en polse. Sy sweef ’n oordadige woonkamer binne. Sagte rusbanke, geborduurde kussings, bondels gordyne en formele ruikers lei na ’n antieke lessenaar. ’n Man in ’n snyerspak staan langs die lessenaar en drink sjampanje uit ’n wye kelk. Hy sien nie die swewende vrou nie. Sy gooi haar kop agteroor.

O, Stanley, hoe kon jy? fluister sy.

Daar is die flits van ’n lem. Die man val vooroor. Sy gesig tref die sagte tapyt en word geraam deur ’n geweefde lelie. Sy hare is perfek agteroor gepleister, sy wenkbroue is dun halfmane en sy wimpers pryk met ’n klein bietjie maskara. In sy rug is ’n groot mes met edelgesteentes. Hy lyk tevrede. Hy weet hy’t gesneuwel soos ’n ware heer.

Die deurklokkie lui. ’n Baie ou lyfkneg in ’n manelpak kom die woonkamer binne en kondig aan dat twee polisiemanne in die voorportaal wag.

Bring my jas, sug die vrou.

Teen ’n agtergrond van duisende roosbome maak die een polisieman die deur van ’n blink, daklose motor oop. Die vrou klim in.

Stanley, Stanley, snik sy.

Hulle ry af met die laning, stadig, sodat haar hare nie beweeg nie. Donker wolke pak saam en tweehonderd viole bereik ’n klimaks.

Ek vee my trane af en skakel oor na die volgende kanaal. In ’n baie vuil woonstel lê ’n lyk in ’n plas bloed. Hy is onthoof en daar is ’n rassistiese slagspreuk op sy
arm uitgekerf. Bloed drup van die meubels en die mure. In die hoek sit ’n vrou met hekshare en gil. Sy hou drie honger babas vas. In die gang skop ’n polisieman ’n prostituut oor en oor in die gesig. Yeah, baby, baby, skree die musiek.

Ek skakel dadelik terug. Dis lente op ’n slagveld. Ridders met staalfrokkies en balletkouse sit wydsbeen op spierwit perde en piets mekaar met gepoleerde swaarde. Tussen die bome is tentjies met verversings. Ek gryp my wynglas en skuif reg vir ’n hoflike bloedbad met baie juwele en mooi musiek.

Dis nou al ’n hele paar jaar vandat ek laas in ’n ry gaan staan het om ’n nuwe rolprent te besigtig. Die ervaring is eenvoudig te oorweldigend en neerdrukkend. En ek praat nie hier van die huilende babas, parende studente, luiende selfone, babbelende tieners of laggende reuse wat rye en rye sitplekke laat rondskommel nie, dit is ’n relaas op sy eie, nee, ek praat hier van die oordonderende werklikhede van hedendaagse vermaak. Dit is ’n feit dat vervaardigers, regisseurs, draaiboekskrywers en akteurs graag vereer wil word vir hul toewyding en talent, die rooi tapyt roep, en die pad na sukses is deesdae realistiese uitbeeldings
van gruwels, traumas, trane en geweld. Tegnologie is verbysterend en kan die stomme kyker in die middel van alle onheil plaas. Jy kyk nie net na die hele gemors
nie, jy’s nou deel daarvan.

Dis seker fantasties, maar die waarheid is dit: Al is die hoofaktrise net 19 jaar oud en het laas voor geboorte iets geëet, maak die kamera dinge net te groot, te naby, te veel. ’n Bolip wat span oor ’n silwerdoek van 12 meter wyd word eenvoudig ’n rivierwal, dons op ’n tienerwang verander in die rug van ’n beer. Vat dit weg! Gee ons ’n bietjie afstand!

Die lewe is kort, wreed en vinnig, die werklikhede is dood, onnoselheid, honger, siekte, hartseer, verlange en vrees. Ons moet af en toe ’n paar sekondes kry om te droom, om te speel met visioene, hoop en skoonheid. Ons leef sonder misterie, mistiek of glans, sonder verwondering of verwagting.

Bring terug die onsterflike helde, die foutlose grimering, die skitterende kandelare. Staan terug met die alledaagse naarhede, dis nou genoeg.