Sneeu op die pieke en skape in die lande
Pragtige canola-velde

Ons kies die R27 tot by Langebaan. Die BMW 530 d, toetsmotor, sluk die kilometers met 'n paar happe in. 'n Mens moet fyn trap of jy kom in die moeilikheid met hierdie ryding.  Met die sondakkie oopgeskuif en die groen landerye weerskante van ons, kry 'n mens 'n bietjie van 'n “saliger kan dit nie wees”-gevoel.

By die Weskus is dit aansienlik koeler as in die Boland, en 'n stappie op die strand in die geniepsige wind lyk beslis nie lekkerder as die warm gerieflike motor.  Middagete raak toe vinniger 'n beter opsie en ons gaan kyk by Friday Island of daar nog plek is. Wat 'n wow-plek!

Die eetplek is verseker 'n kleinood wat ek nie omgee om te deel nie.  Die ingang, aan die straat se kant, verklap bittermin. Maar as jy binne stap, raak jy dadelik deel van 'n “vakansie by die see gevoel”.  Wit meubels, 'n houtdek wat op die see front, branderplankryers  in die water en selfs 'n seiljag wat verby vaar.  Wie wil nou Miami toe gaan?

Fiday Island
Seiljag in Langebaan

Ons bestel vis en skyfies, baie lekker. Daar’s 'n uitgebreide spyskaart – verseker iets vir enige smaak. Die diens is flink, die kelners vriendelik, maar nie lastig nie en ons kan ons sit en vergaap aan alles wat in die branders aangaan. Jy word ook nie aangejaag nie. Ek is amper spyt toe ek die laaste sluk van my koffie neem.


Strand in Langebaan

Op die buitewyke van Langebaan, kry ons wel 'n klompie veldblomme, en op pad terug – oor Hopefield geniet ons die canola-lande  en blomme wat kol-kol in die veld verskyn.  Ons was dalk 'n bietjie vroeg vir 'n super blom-skouspel, maar Friday Island sal ons weer besoek, en enige tyd weer 'n 530 d bestuur.

Friday Island verskaf ook akkommodasie en konferensie-fasiliteite.

Dis in Hoofstraat en die tel. nr. is 022 7722506 of 082 6409319.

Nog BMW feite:

Die vuurwa is lewendig en dis  met moeite dat jy die 3.0 liter-sessilinder met turbo-aandrywing inhou om nie die spoedbeperkings te oortree.  Die  530 d is vroeër vanjaar saam met die Volkswagen Polo Comfortline 1.6 TDI aangewys as Motor van die Jaar.

Die wiele kan van 0 tot 100 km/h in 6.3  sekondes versnel en kan glo tot 242 km/h haal. Hiervoor kan ek nie ma staan nie. Dat die petrolverbruik wel suinig is, kan ek beaam. Die BMW-mense self praat van 6.1 liter per 100 km.

Dis 'n ruim motor, met genoeg plek agter vir Pierre Spies, Schalk Burger en Jo-Ann Strauss in die middel,  goeie stylvolle afwerking  en 'n  kattebak ontwerp vir “bring maar nog”.    

Maar dis verseker die “perde” onder die enjinkap, uitstekende padhouvermoë en al die moderne tegnologie  soos parkeerhulp, wat opval. Ja, met die druk van 'n knoppie word die parkeerplek se grootte bepaal en die motor parkeer ook as’t ware homself. Die bestuurder beheer die remme en brandstof-toevoer.

Enjin- en padgeraas is minimaal.

 Jy kan ook kies hoe jy wil ry deur tussen sport, gemaklik en gewoon te kies en as jy graag self wil ratte wissel, kan jy die spane by die stuurwiel gebruik.

Lugreëling kan afsonderlik deur die voorste insittendes gestel word en bekerhouers is vir alle passasiers beskikbaar.  Daar is ook sensors om jou te help parkeer, nogal belangrik as jy so 'n groot motor by die Mall se afgeskeepte parkeergaatjies moet inkry.

BMW mag dalk hierdie ryding beskou as  wiele vir die uitvoerende bestuurder, wat daaglik pendel en naweke bietjie wil gaan rondry, maar dis duidelik dat die motorjoernaliste wat die ryding goeie punte toegeken het, verseker na die goeie eienskappe, voorste tegnologie  en ontwerp gekyk het.

Prys: R642 500 + R3 420 C02-belasting