Met die weer in so ‘n gawe bui die laaste tyd, mik ons see se kant toe. Sommer ook om te voel hoe gedra die Kia Cerato , wat ek moes toets, hom. 

Ons eerste stilhou-plek is Kommetjie se strand. Sommer vanaf die parkeerarea sien jy al die honde op die sand baljaar. Wonder bo wonder is daar geen bakleiers onder die vier-been-spesies nie.

Almal is te doenig met gate grawe en in die branders baljaar. Ons Niklaas self beruik al wat ‘n bamboes is, want die strand lê besaai hiermee.

Hiervandaan volg ons die pad teen die berghang , waar jy net buite Kommetjie kan afkyk op die Slangkop-vuurtoring. Dis in 1919 opgerig. 

Ons ry verby die mooie Misty Cliffs op pad na Scarborough, waar bittermin mense te sien is.  Man en muis is strand toe. Ons volg die pad kuslangs, geniet die omgewing en veral blomme wat hier en daar kop uitsteek. 

Die pad begin berg-op kronkel en loop verby ‘n kurio-winkel,  wat onder meer groot beelde verkoop.  Plekkies om iets te drinke te kry,  is hier rond maar skaars, maar die winkel het wel koeldrank.  

‘n Entjie hiervandaan is  die afdraai vir die Red Hill-pad.

Die Red Hill-pad, sommige mense noem dit ‘n pas, kronkel  tussen Scarborough en Simonstad oor die berg en om jou het jy ‘n uitsig oor die Tafelberg Nasionale Park en die oseane. 

Heel bo hou jy sommer saam met al die ander stil om die uitsig oor Simonstad te bekyk.  

Dis ‘n roete met baie s-draaie, en laat jou dink aan Bainskloof, anderkant Wellington.  Toerbusse en selfs fietsryers pak dit gereeld aan en by die stilhouplekke neem sonsoekers ywerig foto’s. 

Na ons besoek het ek bietjie rondvertel en agtergekom selfs baie gebore en getoë Kapenaars ken nie die deel van die Skiereiland nie. 

Die outomatiese Kia Cerato  hanteer draaie en opdraandes gemaklik. Die sitplekke is puik en omdat dit ‘n luikrug is, is Niklaas (Jack Russell)  in die “kattebak” op sy matras, baie tevrede, want hy’s deel van die geselskap. 

Gepraat van ‘n hondvriendelike ontwerp – dis nou  ‘n motor met ‘n luikrug.   

Die strandgebied by Simonstad se stasie is nie baie besig nie  - daar’s meestal duikers (daardies in ‘n duikpak) en seemeeue.

Hier is ook gelukkig vir ons (en ander honde-eienaars) geen borde wat aandui dat honde nie welkom is nie.  

Dis nou nie die mooiste strand langs die kuslyn nie, maar parkeerplek is volop. Net wat jy soek as jy nie lus is vir sukkel nie. Bolders-strand, daar naby,  is ‘n besondere plek maar tans gesluit vir die publiek omdat die pikkewyne broei. 

As jy baie energie en tyd het, en ook nie ‘n hond op ‘n lei-band nie, kan jy in Simonstad gaan ronddrentel. Daar’s oulike eetplekke en winkels, maar dis ‘n storie vir ‘n volgende keer.    

NOG KIA-FEITE

  • Daar’s kragvensters, kragstuur, lugversorging, radio/CD met MP3/iPod/USB, stuurwielbeheerknoope en afstandbeheerde sentrale sluitstelsel
  • 5 jaar/100 000 km-waarborg
  • Dienste elke 15 00 km
  • Prys R215 995