"Diamonds are a girls best friend" sing Marilyn Monroe. Sy self was natuurlik ‘n sekssimbool uit vergange dae se silwerdoek era en was die toonbeeld van ‘n girl wat goed gelyk het in diamante en Chanel no5!

Maar ek moet bieg - diamante is beslis nie my beste vriend nie. Chanel no 5, ja (maar nie soos sy dit gedra het nie!) Ek sien myself meer as ‘n half-edelgesteente meisie. Oniks, opale, ametiste, robyne, rooskwarts, kristal, turkoois, jaspis en die een steen wat almal as outyds beskou, tieroog, maak my mos opgewonde. Daar is twee redes. Nommer een: Ek hou daarvan. Nommer twee: Dis onpretensieus. En die belangrikste, ek kan dit elke dag dra sonder dat ek bang is ek gaan beroof word.

So beland daar ‘n uitnodiging op my lessenaar om Gecko Gemstone Market se opening by te woon. Ek skommel my program rond, want die besoek moet ek nou in pas op ‘n besige naweek! Ek skommel en skommel en kry dit toe reg om die kans nie te laat verby gaan om na my soort juwele en gesteentes te gaan kyk nie. Vroegoggend gaan neem ek eers SARIEKOS se melktert resep wenner in Pretoria af en toe vat ek die pad Crowthorne in Midrand toe.

Daar aangekom, ontmoet ek vir Maria en Peter Furmeier. Hulle is die eienaars. Hulle wys my eers die indrukwekkende vertoonlokaal, voor ons buite na die markarea gaan kyk. Dis ‘n baie interessante opset, want daar is selfs ‘n myn waarin jy kan afgaan om te kyk hoe die stene ge-ert(is dit wat mens dit noem?) word.Hou verby. Ek kry engtevrees en het maar bogronds gebly, dankie!

In die vertoonlokaal is klaargemaakte stukke juweliersware, halssnoere, armbande en oorbelle. Dan kan jy ook trinkets kies wat jy aan jou handsak en selfoon kan hang. Verder is daar los geslypte stene in enige vorm en grootte.

Ek vra Maria hoe hulle in die besigheid begin het. Sy vertel toe dat hulle 30 jaar gelede in Zambie gewoon het, want Peter het in die mynbedryf daar gewerk. Die lotte daar vra hom toe of hy in die plaaslike geld betaal wou word en of hy eerder met stene betaal wou word. Wat ‘n vraag! Hy kies toe stene, nie sommer enige stene nie, maar ametiste. Die het hulle toe uitgevoer na Duitsland en so het ‘n hele besigheid begin. Soos Maria se: Alles het met ametiste begin en vandag nog bly dit ons brood en botter. Ons het lief geword vir stene.

Helende krag van edelstene

Die ander interessante ding wat ek daar leer is dat al hierdie stene een of ander mediese eienskap het. Kwarts help teen bestraling en dis baie goed om ‘n groot ongeslypte kristal daarvan by jou rekenaar te sit. Ametiste word die gesteente van pieteit genoem en help genesing tydens slaap aan. Glo help dit om jaloesie en woede teen te werk en verminder ook angs en skuldgevoelens. Daar is ‘n paar naampies in my adresboekie wat kan doen met die klippie . . .

O ja, amper vergeet ek om te vertel van onse Charlize Theron en haar eie gesteente. In 2004 is ‘n steen na haar vernoem, dis die jaar wat sy haar Oscar gewen het vir haar rol in Monster. Haar steen se naam is amasoniet. So leer ek ook ek en sy deel ‘n verjaardagsteen: peridot.

Nou ja, "diamonds are a girls best friend". Mooi ja, maar gee my maar tieroog enige dag!

Om meer te weet van Gecko Jewellers skakel 011 468 1467.