Miljoene RSG-luisteraars ‘tjaila’ daagliks  saam met Amore Bekker wanneer hulle smiddae huiswaarts keer.

Op haar radio-program deel sy heerlike, maklike resepte en hartroerende saamrybriewe. Hierdie ervaring het gelei tot haar eerste Tjailaresepte-boek wat in 2010 gepubliseer is. In haar nuwe boek, Tjailaresepte 2 (Naledi, R199) kombineer sy verskillende fasette van reis en kos, natuurlik alles te danke aan luisteraars wat bereid is om dinge uit hul lewens openbaar te maak. Sy vertel meer:

Hoe kies jy die luisteraar wat jy bel vir ‘n resep?

Daar is vele maniere. Mense kontak my, en seg, "ek het 'n lekker pasta-resep" of  "bel my ma, sy maak die beste koekstruif in die dorp". Of ek gee die luisteraars 3 bestanddele, en seg hulle moet iets optower. Of ek seg, heng, ek is vanaand lus vir calamari, het iemand vir my 'n resep?

Wat maak hierdie vir jou boek anders as die vorige een?

Dis nie net 'n resepte boek nie, dis ook 'n reisgids. Die tema is reis, omdat ek smiddae saam met mense huistoe reis.

Die kategorieë werk so:

Snelweg - Voorgeregte

Hoofweg - Hoofmaaltyd

Sypaadjie - Bykosse

Omdraaipad - Gesonde kosse  ( Jy't besluit hokaai! Ek wil nou gesond eet!)

Afdraaipad - Eksotiese disse  ( Jy vat nie altyd 'n afdraaipad nie, netso met ekostiese kos, dis vir spesiale tye.)

Kronkelpad - Kombuisreise  (Soos jy 'n kronkelpad stadig ry, sit jy die skaapskenkel al vroeg op, en hy vat sy tyd.)

Bestemmings - Nageregte

Jy sluit ook saamrybriewe in die boek in. Net 10?

Ek het van die 10 roerendste saamrybriewe in. . .  Hoekom net 10?  Die briewe is intens, liewer min briewe met baie emosie, as baie briewe met min emosie . . .

Is daar ‘n brief wat jou persoonlik diep geraak het?

Elke brief raak/roer my, hier is een van die wonderlike 10 briewe.

Amore, 

 Ek is die afgelope sewe jaar op die pad. Ek noem myself ‘n klein sielietjie op klein wielietjies, omdat ek koerierwerk doen met ‘n bakkie. Ek is altyd op pad huistoe. Al moet ek nou 600 kilos ry om iets af te lewer, is ek net met ‘n baie lang ompad, op pad huistoe. Op hierdie paaie het ek al male sonder tal die dood direk in die oë gestaar. en dit omdat mense nie net daardie paar sekondes kan wag nie. Nee, hulle moet nou dadelik by die ander voertuig voor hulle, verby. Ongeag of daar verkeer van vooraf aankom.

 Dan dink ek aan daardie dag, ‘n paar jaar gelede. Dood moeg en ook half aan die slaap, op pad terug van P.E. na Johannesburg, daar iewers tussen Cookhouse en Cradock. Op die hitte van die middag, kom ‘n motor van agter aan. Omdat ek bitter moeg is na amper 2 dae op die pad, en stadig ry, beweeg ek oor na die geellyn langs die pad. Die motor kom binne die  spoedgrens verby en die swart dame waai vir my en bedank met haar flikkerligte omdat ek vir haar kans gegee het om verby te kom. Skaars 20 kilos verder sien ek ‘n motor in die veld. Dis dieselfde motor wat ‘n paar minute gelede by my verby is. Twee swart mans wys dat ek moet stilhou. Hulle vertel my dat hulle gesien het hoe die motor die pad verlaat en rol. Langs die motor lê die dame wat ‘n paar minute gelede my so vriendelik gegroet het. Ek gaan kniel langs haar. Sy sê vir my sy weet sy gaan sterf. Ek praat haar moed in en verseker haar hulp sal binne minute daar wees. Binne haar motor kry ek haar handsak, Kersinkopies en haar Bybel. Ek sit alles langs haar neer. Met my laaste bietjie water en my sakdoek vee ek haar gesig af. Weer sê sy vir my sy weet sy gaan sterf. Met haar kop in my arm begin sy in haar taal bid. Saam bid ons. Sy in haar taal en ek in myne.

 Intussen het die polisie opgedaag, die nooddienste in die hande gekry, asook haar man. Amore, sekondes voor die ambulans en haar man opdaag, sterf hierdie vrou biddende in my arms!!! Al die tyd het die twee mans wat my gestop het, met ‘n sambreel oor ons gestaan sodat sy nie so in die kokende son moet lê nie. Die drie van ons het mekaar beet gekry, omarm en soos babas langs die pad staan en huil oor ‘n vrou wat ons nie geken het nie. Ons 3 het haar laaste paar lewenstree met haar gestap. 

 As jy hierdie wil uitsaai gebruik asb jou eie keuse van musiek wat gepas sal wees.

Dankie.

Jan v.d. Merwe

 Frank Duval = Angel by my side

Kan jy kook en kook jy vir jouself?

Ja, ek kan kook, en ek kook baie vir myself. Eintlik hou ek meer van eet as kook, ek hou nie van spoggerige kos nie, ek eet eerlike kos. M.a.w. gee my 'n hoender met vel en been, 'n hoender wat weet wie hy is, nie 'n vaal stukkie sonder vel en been wat jy moet opdollie nie.

Is jy ‘n soet of sout mens en waarom?

Ek is 'n soutmens. Ek het lae bloedsuiker en lae bloeddruk, en soetgoed laat my bloedsuiker te veel styg, en dan daal my suiker te vinnig, en is ek gedaan. Soutgoed is ook goed vir my bloeddruk. Ag, en ek hou nie van soetgoed nie. Ek eet dit slegs as dit besonder lekker is.   Luister na jou lyf . . . dit vertel jou alles.

Het jy ‘n gunstelingresep in die nuwe boek?

Gunsteling resep - daar is so baie. Hier is 'n vinnige een.

Delia se walm salmdis

BESTANDDELE:

4 salmfilette

8 garnale, met doppe aan

1 bossie vars aspersies (opsioneel) - sny onderste 2 cm van stingels af

1 suurlemoen, in kwarte gesny

1 brandrissie, fyngekap

1 handvol vars basiliekruid, in repe geskeur

3 vars tamaties, opgekap

2 eetlepels (30 ml) olyfolie

4 tot 6 ansjovisfilette, fyngekap

4 knoffelhuisies, fyngemaak

varsgemaalde swartpeper

METODE

1. Voorverhit oond tot 180 grade. Smeer 'n groot oondroosterpan liggies met olyfolie.

2. Rangskik die visfilette  met vel an bo en geur met peper. Pak die res van die bestanddele in 'n enkellaag rondom. Geur goed met peper.

3. Klits die olyfolie met die fyngekapte ansjovisfilette en fyn knoffel en bedruip die vis en groente daarmee. Geur met swartpeper. Geen ekstra sout is nodig nie, want die ansjovis smelt tydens die baktyd en dis sout genoeg.

4. Bak sonder bedekking in die oond vir 10 -15 minute. Sit voor met snye ciabatta of gestoomde groente.

As jy iemand met ‘n kossie wil bederf op ‘n spesiale geleentheid, wat sal dit wees?

Bogenoemde resep met yskoue witwyn.

Jy is lief vir reis. Kos gaan saam met reis. Gunsteling bestemming vir kos?

Ek is mal oor die kos van die Midde-Ooste, Lebanees en Arabies. Ek het van die lekkerste kos in Turkye en Marokko geëet. Wil nog Indië toe reis, want daar eet mens ook lekker. Ek is mal oor kerrie.

Het jytydens ‘n reis al ‘n besondere aaklige of rare kos-ervaring gehad?

Elke wegneemete wat ek gedwonge moes eet, want ek het gereis, of  was rasend honger, en het nie 'n ander keuse gehad nie, is my slegste kos-ervarings, want daar is geen siel in daai kos nie. Dit het ook 'n gewoonlik 'n hoë vet- en hoë suiker-inhoud. En my lyf sê onmiddellik vir my : " Ag nee hel, ek is meer as dit werd!"

Wat is op jou ‘bucket list’?

Ek wil in 2014 'n praatjie doen oor "Vroue, Kos en God",  kortliks gaan dit oor die emosionele verhouding wat ons almal met kos het.

* Amore se stem word weeksdae op Tjailatyd  tussen 15:00 en 17:00 op RSG gehoor.