Van waar kom jy?
Harrismith in die Vrystaat, die mooiste en koudste plek in SA! My ouers woon nog daar en dis steeds "huis".

Wat het jy gestudeer?
B.Com.Toerisme en Hotelbestuur by Tukkies, en toe doen ek 'n jaar lange sjefkursus in die Kaap.

En daarna?
Tydens my kursus in Kaapstad het ek drie baie spesiale vriendinne ontmoet - Lise Pauw-Wienand, Charlene Harman (nou Polkinghorne) en Mayna Laas. Ons het besluit om 'n jaar in Afrika te werk om die vasteland te verken, juis omdat ons nie eintlik geweet het wat ons beroepsgewys wou doen nie. Dit was 'n avontuurlustige, verrykende en lewensveranderende besluit. In 2004 is ons vier weg Tanzanië toe. My ma se afskeidsraad, op 'n klein briefie wat sy op die lughawe in my hand gedruk het, was: Vat jou vlerke en vlieg, my kind!

En ná Tanzanië?
Ná 'n paar weke is ons Zanzibar toe. Daar kon ons werk en geld spaar vir die volgende deel van ons avontuur - na die Serengeti en Kilimandjaro. Hierdie tyd sal ek altyd koester as 'n spesiale Afrika-ervaring. Daarna is ek terug na Dar-es-Salaam, waar ek drie maande as restaurantbestuurder gewerk het. Toe begin my groot liefdesverhouding met Afrika éérs!

Hoe so?
Ek het besef ek wil in Afrika bly werk. Gelukkig word ek toe assistent-bestuurder by die Palm Beach Hotel in Dar-es-Salaam. Waardevolle werkondervinding, en ek leer sommer Swahili! En ek ontmoet my droomman, Maurizio Fantin ('n Italianer). Ek het in Augustus 2005 werk in Zanzibar aanvaar om naby Maurizio te wees. Toe word ek verplaas na Mombasa, Kenia, en Maurizio na Atyrau in Kazakstan. Ek kon die verlange net drie maande verduur, toe volg ek hom. Begin 2007 is ons terug na ons geliefde Zanzibar, waar ek steeds in die hotelbedryf werk. Ons het in Desember daardie jaar verloof geraak en op 14 Desember 2008 hier getrou.

Interessantste plekke waar jy al was?
Omdat Maurizio van Italië kom, reis ons baie daarheen. Die ou stede en kultuur is uitsonderlik. Daar is taamlike kultuurverskille tussen noord en suid, maar ek sal liewer nie oorvertel wat die noorde van die suide sê nie! Ek hou ook van Doebai,'n land waar goed wérk (al is alles 'n bietjie blink!). Nog 'n gunsteling is Bangoyo,'n eilandjie aan die kus van Tanzanië. Dit voel verlate en vars vis en tjips is daagliks op die spyskaart.

Is dit moeilik om in die hotelbedryf te werk?
Dis meer 'n lewenswyse waaraan jy gewoond moet raak as 'n werk. Dis veeleisend, veral in die hotel in Zanzibar. Jy is vier en twintig uur, sewe dae per week op die perseel en het heeltyd met verskillende mense en kulture te doen. Glo my, party mense kan baie uitputtend wees. Dit bly egter lekker, interessant en uitdagend.

Wat inspireer jou van Zanzibar?
Die sonsondergang op die strand, die turkoois water. Die mense van Zanzibar is ongekompliseerd, vriendelik en kleurryk. Al ding is, hulle stel nie hul diere se belange eerste nie. Ek is 'n dieremens en het al 'n hele paar katte laat steriliseer. Iemand het vir my 'n katjie gebring, toegedraai in 'n palmblaar, want hy het gehoor ek sorg vir diere. Sylvester is nou baas in ons huis en jaloers as ek aandag gee aan rondloperkatte!

Sal jy terugkom SA toe?
Natuurlik. Ek mis my ouers, broer en ander familielede baie. Wie weet wat die toekoms inhou ...

Waar wil jy nog werk?
Miskien Chili of Slowenië.

Wat doen jy vir ontspanning?
Stap langs die see met die honde, snorkel en lees báie!