Die sonbesies het stil geword, die paddas het begin kwaak. Hulle roep die reën.

Toe ontdek hulle sowaar ’n paddatjie in Peru . . .

“Is dit nou nuus?” vra sy.

Nee, navorsers weet al lankal van dié paddatjie in die reënwoude van Peru. Hy’s klein – twee van hom sal inpas op ’n man se duimnael – met sulke groot ogies en vrolike kleure. Geel en swart, of swart met ’n geel-oranje netwerk van strepe en ’n kleiner netwerk van witterige kolle op die pootjies. Tog te oulik. Boonop na-aap hy die kleure van ander paddas. Sy naam is nie verniet die mimic poison frog nie – hy’s self giftig, maar hy maak die kleure na van minstens drie ander soorte paddatjies wat nog giftiger is as hy, net om seker te maak sy vyande kry die boodskap.

“Nou, hier’s die nuus: Wat wetenskaplikes nié geweet het nie, tot vroeër vanjaar toe hulle die ontdekking gemaak het . . .” verduidelik jy. “Terwyl die paddatjie se promiskue maats lekker rondbaljaar in groot poele water waar daar genoeg kos vir almal is, is dié gifpaddatjie beperk tot kleiner poele, waar daar nie soveel te ete is nie. Dan besluit hy sowaar om by die huis te bly om toe te sien die kinders ly nie honger nie. “Hy bly by sy wyfie: Die enigste monogame paddatjie in die hele amfibiese wêreld!” kondig jy triomfantlik aan. Dit het wetenskaplikes agtergekom deur die paddatjies rond te skuif tussen poele van verskillende groottes. Dié in die groter poele met baie kos was promisku, maar dié in die kleiner poele met minder kos was monogaam. Wat vir die wetenskaplikes ’n goeie bewys is dat monogamie die gevolg kan wees van ’n enkele oorsaak – in dié geval die kleiner leefruimte (waterpoel). Ná paring lê die wyfie-gifpaddatjie haar eiers op blare. Die getroue mannetjie abba dan elke paddavissie wat uitbroei netjies op sy rug tot binne-in ’n poeletjie water, wat versamel het in die blare van ’n plant, so ’n meter of wat bo die grond, maar meestal op die vogtige woudvloer. Elke poeletjie water kry sowat ses paddavissies, waar die mannetjie hulle sit en oppas.

Sodra hy agterkom hulle is honger, roep hy die wyfie, wat ’n onbevrugte eiertjie in elke poeletjie lê. Dis kos vir die kleintjies.

Mannetjie en wyfie werk dus saam ter wille van die kinders se oorlewing.

“Sowaar!” sê sy.

Maar ’n ander (promiskue) paddatjie van dieselfde spesie lê haar eiers in ’n veel groter poel, en sy los die kleintjies net so dat die mannetjie hulle alleen moet grootmaak. Haar hulp met onbevrugte eiertjies is dus nie nodig nie, want daar’s genoeg kos in die groter poel.

“Sowaar!” sê jy.

Dit stel die hele monogamie/poligamie-debat in Afrikaans in ’n gans ander lig. Popsterre sal as ’t ware ’n heel nuwe deuntjie sing en sportsterre sal by die huis bly of twee keer dink voor hulle hul gholfstok rondswaai, nè?

“Wat ’n mooi storie!” roep sy uit. “Ek is aan daai wyfiepadda se kant. Mannetjies kan sekerlik meer help met die kinders.”

Dis ongelukkig nie die einde van die storie nie, want toe kom die navorsers agter iets is fout . . .

DNS-toetse op 12 gifpadda-gesinnetjies het gewys 11 van daardie gesinne se kinders is almal “binne die huwelik” verwek, maar in die twaalfde familie het een mannetjie sowaar ’n affair met ’n ander wyfie gehad, toe’s daar ’n buite-egtelike paddavissie.

“Sowaar!”

’n Mens kan ook nie álle paddas vertrou nie . . .