Dis baie meer subtiel ... ’n minuut hier, twee minute daar. Teen die einde van die dag is dit ’n uur.

Noem dit die 13 Reëls van Vinnige Tydbesparing:

  • WENK # 1 Knip jou eie storie kort. (“Wat bedoel jy?”) Dit sal moed en aanpassing verg, maar dit kan gedoen word – laat net onnodige detail uit. (“Álle detail is nodig!”)
  • WENK # 2 Moenie als wil verduidelik nie. Jy’t gedoen wat jy gedoen het. Dis klaar gedoen. Los die verduidelikings oor hoekom en waarom en hoe en presies wanneer. Dit mors net tyd en asem. (“Ek sê mos maar net ...”)
  • WENK  # 3 Moenie jou bekommer oor goed waaraan jy niks kan doen nie. (“Sê nou die petrolprys gaan wéér op?”) Dit werk só, verduidelik jy: Jy sal moet een keer winkel toe ry pleks van twee keer op dieselfde dag. Kies die naaste winkel, al is die naaste winkel 50 sent duurder as die verste winkel wat 50 sent goedkoper is. Die verskil is nie een rand nie, die verskil is die petrolprys in kilometer – werk dit self uit.
  • WENK # 4 Moenie eenvoudige goed ingewikkeld maak nie. (“Is die verskil tussen 50 sent duurder en 50 sent goedkoper een rand, of hoe’t jy dit bedoel?”)
  • WENK # 5 Moenie beplan vir goed wat nooit gaan gebeur nie. (“Sê nou dit reën? Dan’t ek te min warm goed ingepak.”) Daar gaan ons al weer...
  • WENK # 6 Moenie goed twee keer vra “net om doodseker te maak ek’t reg gehoor” nie. Jy’t die eerste keer reg gehoor. (“Sê net weer: Het jy dit by Shoprite gesien? Teen daardie prys! Gelukkig was ek nog nie vandag by die winkels nie.”)