“Wat probeer jy doen?” vra sy. Jy’t ook jou onderbroek aan, maar niks meer nie.

“Ek skep ’n bietjie atmosfeer,” sê jy, en ’n ou deuntjie spring rats in jou kop. “In the mood”, Glenn Miller, 1939. Hoor hoe klim daardie saxofoon teen die bed se style op, so vinnig soos jou polsslag. Dis mos nou atmosfeer!

(Wie dink hy is hy? dink sy. Superman in ’n onderbroek met sokkies?)

“Dit werk nie,” sê sy droog en lees verder.

O?

As daardie onderbroek per ongeluk ’n klein gaatjie in het, kan jy netsowel op die bank gaan slaap. Dis nogals ’n nasionale probleem, want stukkende onderbroeke
haal telkens die nuus sodra ’n bekende persoon in ’n onkant-posisie betrap word. ’n Onderbroek moet verkieslik Calvin Klein wees, en vanselfsprekend heel, anders glip al haar passie deur daardie gaatjie. Weg.

Al wat jy kan doen, is om in jou lies te krap – pure baldadigheid – daar waar dit jeuk. Dis weliswaar so: Mans krap waar dit jeuk, vroue gewoonlik waar dit nié jeuk nie.

Jy kom ’n treetjie nader. Jou Crocs het jy netnou al uitgetrek, want jy weet dis vir haar net so sieldodend soos sokkies.

“Jy kom nie by die kamer in met daardie goed aan nie.” Of daardie tyre-tekkies met Velcro-strêps. Sy wil ook nie vaskyk in ’n ou, uitgerekte T-hemp met ’n  bieradvertensie voorop nie. Vir haar is daardie T-hemp nie eens meer goed genoeg as jy die gras sny nie.

“Sal dit help as ek teen jou rug lê?” vra jy.

“Trek al daai goed eers uit. Én jou sokkies!” Dan hou sy haar knee highs en (selfgebreide) sokkies aan, “want jy weet my voete kry makliker koud as joune”.

Sy druk haar voete teen joune. Is dit beenhare wat jy voel? As beenhare en skurwe hakskene jou dalk afsit, dink aan jou eie lang toonnaels. Sy’s bang jy trap gate in die lakens.

En jou voete moet natuurlik vars wees, nes jou asem. Jy weet mos nou, Meneer, te veel biere en jy raak simpel. Jy mag nie na bier, brandewyn of bokram ruik nie, na salpeter of renosterhoring. Dit verander haar in ’n ysblokkie.

Te veel Mum for Men is ook uit, dit laat haar neus kriewel. Jy kan netsowel TV gaan kyk.

Maar nie in die slaapkamer nie! Dink vir jouself: Jy sit met die afstandbeheer in jou hand en sy met niks. Dan verander ’n vrou self van kanaal – een met baie
sneeu. Al wat jy hoor, is ’n ontevrede gesuis.

Jy glip eers ietsie romanties Afrikaans in die CD-speler – verskeie kunstenaars – en die musiek spoel bo-oor julle albei met strelende vingers, Glenn Miller vir eers vergete. Dan, skielik, blêr dit: “Delarey! Delarey!” Dit kon erger gewees het: “Ou Ryperd, ons ryyy die pad tesame . . .”

Dis glad nie volhoubare musiek nie en bring haar polsslag af na nul. Daar lui die telefoon ook nog . . .

“Dis seker weer jou ma,” sê sy. “Sy bel altyd op ongeleë tye om te hoor hoe dit met haar seun gaan. Kyk sy nog goed na jou, my kind?” Nou voel jy soos
Mamma-se-seuntjie. (Dit kon mos netsowel háár ma gewees het wat bel . . .)

’n Groot passiedoder vir vroue – waarvan min mans weet – is die een waar die man vra of hy maar kan nader skuif, nog nader, nog nader . . . daar’s hy! Jy sou dink dis goeie maniere om darem eers te vra – onthou net, om te vra is nie voorspel nie – maar vir haar is dit onromanties. En “Hoezit?” of “Hoe lyk’t?” is bloot onsensitief.

Want as jy moet vra, beteken dit jy is nie “in voeling” met haar of haar vroulikheid nie.

Daarom help sy jou reg met: “Moenie vra nie, voel net!”