“Wag net gou . . . is die agterdeur gesluit? Is jy seker?” vra sy.

Onmiddellik is jy van níks meer seker nie.

Of sy vra iets totaal onvanpas, wat niks met die atmosfeer, die weer of die oomblik te doen het nie: “Dink jy nie dis tyd dat jy jou hare laat sny nie?” Onthou, enige op- of aanmerkings oor die plafon is ook
taboe: “Daar sit daai muskiet sowaar weer!”

En dan moet die skottelgoed ook nog gewas word, sug sy. Skottelgoed?! Of dit nou ’n skimp, afpersing of ’n ruiltransaksie is, dit neem die wind uit jou seile. Jou
vlag hang halfstok.

Asseblief, die oomblik is nóú! Konsentreer.

Toe begin die baba huil. Jou tjank is net daar afgetrap. Met so baie passiedoders in omloop wonder jy waar die baba hoegenaamd vandaan gekom het. Seker daardie een Desembervakansie op Margate, nog voor die resessie . . .

Oor ’n jaar of twee sal daardie einste klein snuiter op ’n Sondagmiddag aan ’n toe deur hamer en skree: “Wat doen julle? Maak oop die deur! Ek wil nie slaap nie.”

Daar behoort ’n kennisgewing bokant die bed te wees: Geen kinders of troeteldiere. Want ewe skielik voel jy iets lek jou aan die oor. Jy dink ewe dis sy, toe’s dit die kat, sies, man! Daardie tongetjie is die ene rasper.

Die heel ergste is as die kat net daar op die voetenent van die bed sit en vir jou kyk – beterweterig, beskuldigend, afkeurend en wel . . . katterig. En die kat sê op Engels: Purrfect, purrfectly purrthetic . . .

Skielik piep haar selfoon op die bedkassie, twee keer. Op sigself ’n steurnis, maar laat sy dit net wáág om vinnig na daardie SMS te loer!

Nou’s haar kop seer. Hoekom glo sy nie die wetenskaplikes wat sê die liefde is helend vir ’n hoofpyn nie?

“Toe, jou kop sal beter voel, dis wetenskaplik bewys.”

“Hoe sal daardie wetenskaplikes weet hoe seer mý kop is? Lê soontoe.”

Lê soontoe? Sy kon netsowel prontuit nee gesê het, en nou lê jy daar afgehaal en nie oorgehaal nie. Kortgeknip. Ingekrimp. Al jou koerasie skielik sonder koers.

Sy dra buitendien vreemde pajamas – met simpel bewoordings soos I don’t do mornings. Dit betrap jou elke keer been voor paaltjie. Of los grys, oorgroot
sweetpakke vol wolletjies (“wat tog so gemaklik sit”). Dit lyk asof sy in ’n tent met bene rondbeweeg. Sweetpakke moet verkieslik styf sit en sag voel, onthou dit.

En broekiekouse, van nylon of nie, veral as dit so hoog optrek dat dit haar naeltjie toemaak. (“Vroue weet mos nou al pantyhose sit nooit ‘reg’ nie, hoekom dra julle nog die goed?”) Die goue reël is: Enige sodanige onderklere wat jou naeltjie bedek, is te groot. Dit laat ’n man klein voel.

Lang beenhare en skurwe hakskene is darem nie so sleg nie, jy kan daarby verbyvat. Dit irriteer haar lank voor dit jou afsit. (Onthou net om onder jou arms ook te skeer, nè?)

En dankie tog dis somer. In die winter is dit die laag-op-laag-voorkoms, ’n mode waarmee jy geen probleem het nie – behalwe in die bed. Dit word ’n versperring
en ’n verskansing, wat haar reg rondom onbereikbaar maak. Dit stomp jou af.

Daarby (selfgebreide) bedsokkies en ’n warmwatersak. Jy kan maak wat jy wil, skop gaan jy teen daardie warmwatersak skop, een of ander tyd.

“Pasop vir die warmwatersak, netnou skop jy dit van die bed af!” Dis jy of die warmwatersak, waarsku jy. Dan dink sy sowaar twee keer voor sy, spytig, die
warmwatersak verwyder.

“Ek’s so moeg,” sê sy moeg. Dan volg die dodelikste, dawerendste passiedoder in vandag se gejaagde lewe wanneer jy vra: “Hallo? Hallo? Het jy aan die slááp
geraak?” (En hoekom het die kat Engels gepraat?)

*Volgende maand: Dodelike passiedoders (vir haar)