Andri van der Merwe
Wanneer het jy begin verslank?
Ek het al baie kere probeer gewig verloor, maar ek het dit nooit vir myself gedoen nie. In Augustus verlede jaar het ek besef ek moet nou self ’n plan maak. Ek moes my kop regkry. Dit was ’n vinnige besluit, ek het by die gimnasium gaan aansluit en reg begin eet. Ek het vir myself gesê: Dit gaan nie meer oor hoe ek vir mense lyk of wat ander mense dink nie, dit gaan oor myself en my eie gesondheid. Dit was my eerste prioriteit.
 

Hoe het jy jou eetpatroon verander?
My groot fout was ongesonde keuses en verkeerde etenstye. Ek het in die verlede baie verkeerd geëet, ontbyt oorgeslaan en laat in die aand geëet. Ek was mal oor brood, slaptjips ... stysel was my groot swak.
Ek is nou op my eie lewenstyl-dieet. Ek het ’n bietjie navorsing gedoen en vir myself uitgewerk wat vir my lekker en gesond is. Dis my sukses. Baie slaaie, roerbraai-groente, tuna, hoender...  Ek sny alle stysel uit en vervang dit met kraakbeskuitjies. Ek vermy verwerkte kosse.

Het jou oorgewig jou in die verlede teruggehou?
Ek was reeds op laerskool oorgewig, maar ek is ’n baie positiewe mens en was nog nooit in my lewe iemand wat eenkant gesit het nie. Ek het baie dinge bereik en dikwels leiersposisies beklee, so dit het nie werklik my selfvertroue soveel geraak nie.
Maar ek dink tog soos ek ouer geraak het, was dit nie altyd vir my meer so lekker nie, ook wat kêrels betref. Wie gaan nou ’n ou kry as jy nie juis van die mooiste en maerste is nie? Maar my hoofrede om maer te word is my gesondheid. En ek doen dit vir myself. Ek het ook baie gebid oor die saak.

Hoe belangrik is oefening?
Dit was moeilik in die begin, maar almal het my baie gehelp by die gimnasium. Dit het vir my lekker begin raak om te gaan, veral omdat ek al meer gevorder het en ek kon soveel meer doen. My kop was sterk. Jou kop speel ’n groot rol as jy wil gewig verloor – dis mind over matter.

Hoe hanteer jy terugslae?
Een van my beste seunsvriende is in Februarie oorlede. Ek het gesukkel om dit te verwerk. Dit het my teruggesit, ek wou nie gimnasium toe gaan nie, ek het depressief gevoel en verkeerd geëet.
Dit gaan weer baie beter. Dis belangrik om vir jouself doelwitte te stel. Ek het nou al geleer as jy iets verkeerd eet, gaan net aan. Soms het jou liggaam nodig dat jy bietjie kul. As jy jouself heeltemal weerhou van iets, gaan jy jou dalk totaal vergryp daaraan.

Raad vir ander?
In die verlede het ek dit geheim gehou as ek wou verslank, maar nie meer nie. Vertel vir ’n paar mense na aan jou – dit motiveer jou ook.  Hulle respekteer ook dan jou besluit om byvoorbeeld nie koek te eet as julle gaan koffie drink nie!
Glo in jouself. Jy kan en gaan dit doen. En onthou oefening is baie belangrik. Dit laat jou emosioneel goed voel. As jy nie ’n gimnasium kan bekostig nie, gaan stap ’n ent.

Wat is die bonusse van jou nuwe lyf?
My lewe het totaal verander. Ek voel soveel beter en het hope en hope energie. In die verlede kon ek nie eers kampus toe stap nie, ek het eenvoudig te moeg gevoel. Nou stap ek maklik drie keer per dag soontoe sonder om dit eers agter te kom. Ek voel positief en fantasties. Dis ook altyd lekker as ’n kennis van skool of my verlede my iewers raakloop en nie kan glo hoe goed ek nou lyk nie – dit gee weer my selfbeeld ’n ekstra hulpstoot.