As ek nie heeltyd weer begin het nie, het ek seker al 60 kilo’s opgetel, maar die awesomste ding is, dit is normaal om 'n af tydjie te hê, om ietsie verkeerd te eet en nie elke dag die week by die gym uit te kom nie! Maar tog het ek ’n doel en ek is sterk en sal daar uitkom! Glo net in jouself!

As dit by praat kom, is ek nie skaam nie. Ek sal my sê sê, maar min mense weet dat as dit by myself kom, is ek baie skaam. Ek het selfvertroue, maar ’n gebrek aan ’n selfbeeld. Het alle vroue nie maar in vandag se lewe ’n probleem met hul selfbeeld nie?

Of jy nou ’n grootte 10 dra of 24, jy krulhare het of geen hare nie, lank is of kort is. Meeste vroue soek iets fout met hul voorkoms. Hoe baie van ons kyk na so baie uiterlike dinge van mense en so min na ander se harte? Ons gee graag vir mekaar ’n kompliment oor ons voorkoms, maar so min ’n geestelike of emosionele kompliment. Is ons harte nie die kosbaarste ding nie?

Voor ek 35 (38 nou) kilo’s verloor het, het mense my glad nie graag gekomplimenteer oor my voorkoms nie (ek neem hul ook nie kwalik nie), maar partykeer het hul my darem emosioneel gekomplimenteer.

Toe ek die kilo’s verloor het, het mense gesê: “sjoe maar jy lyk goed”, toe mis ek daai hartskomplimente. (Ongelooflik baie dankie vir almal se mooi woorde deur my journey- dit vat niks daarvan weg nie).

Wat ek eintlik probeer sê is, gee komplimente vir mense oor enige iets. As dit nie vir mense se komplimente was nie, was ek glad nie waar ek vandag is nie. Hoeveel keer het ek vir vriende gesê ek is die lelikste mens ooit, ek gaan nooit ’n man kry nie en ek is so en so, het baie van hul kwaad geraak. Ek het nooit besef hoekom nie. Maar ek groei nou meer as ooit binne myself. Mens het nodig om positief na jouself te kyk en nie jouself in jou hart of voor ander mense af te kraak nie. Hou op om jouself af te kraak! Daar is so baie dinge in ons lewe om voor dankbaar te wees!

Dit gaan nie vir my oor hoe ek nou lyk en nog gaan lyk nie, maar ek wil ’n positiewe hart hê. Een manier om ’n positiewe hart te hê is om beter oor jouself te voel en om beter oor jouself te voel, benodig mens ’n gesonder lewenstyl...

Dis lente, leer weer bietjie jou hart ken, lewe met trots vir jou hart en liggaam!
Baie liefde Andri**