Dié fliek gaan oor Anne Power, wat in die jare 80 ’n celeb was. Sy het in rolprente en kabarette gespeel en TV-programme aangebied. Toe word sy 50 en haar wêreld verander.

Want in die vermaaklikheidsbedryf kry vroue bo ’n sekere ouderdom nie meer werk nie, veral nie op die verhoog nie. Wanneer ’n realiteitsprogram-span Anne nader om die onderwerp van ’n nuwe televisiereeks te wees, sien sy dit as haar laaste geleentheid om haar vroeëre gewildheid terug te wen.

Dié fliek, wat as ’n mokumentêre rolprent (mockumentary) beskryf word, is eerlik en realisties, met ’n moderne humorstyl. Dis losweg gebaseer op die lewe van Anne, wat vroeër getroud was met die akteur Bill Flynn.

“Die vermaaklikheidswêreld weet nie wat om met dié rolprent te doen nie, want hulle kan ons nie in ’n boks druk nie,” sê Robert Haynes, regisseur en vervaardiger van die fliek. Medevervaardiger Riaan Janeke verduidelik dit is omdat die fliek nie net met een genre beskryf kan word nie – dis ’n komedie, ’n musical en terselfdertyd ’n soort realiteitsprogram, maar dis nie wérklik realiteit nie – dis steeds toneelspel.

“Ons hoop om die fliek ook in ’n televisiereeks te omskep. Daar is reeds 13 episodes geskryf,” sê Riaan.

Ander bekendes in die fliek is Ryan Flynn, Anne en Bill Flynn se seun, wat die rol van Oliver Power (Anne se seun) in die fliek vertolk. Wim Vorster, Dawn en Des Lindberg en Terence Bridgett maak ook hul verskyning.

“Dit was ’n absolute avontuur om saam met my ma te werk,” sê Ryan. Volgens hom herinner die fliek se styl aan dié van die Emmy-bekroonde Amerikaanse reeks Modern Family.

Op die première vandeesweek in Montecasino het Anne, wat geskitter het in 'n rok deur JJ Schoeman, vertel dat sommige dele in die fliek eintlik vreesaanjaend is, so realisties is dit.

“Maar op die ou end het dit bewys daar is nog baie lewe in ons almal – vroue wat 50 word het nog so baie om te bied, ons moet dit eintlik net vier,” sê sy.

Ander bekendes op die rooi tapyt was André Schwartz, Karen Beukes en Edith Venter, wat ook die geleentheid gereël het.

*Die fliek begin op 29 Maart landwyd in teaters draai.