As ek my werk doen net om geld te hê beteken dit dat ek my tyd, my lewe, daaraan wy om my beursie vol te hou. En hoe leeg klink dit nie om te sê dat my lewe net oor geld gaan nie.

Die e-pos vertel van ’n man wat sy hele lewe lank ’n bouer was. Sy werkgewer het die wêreld van hom gedink. Niks was ooit te veel moeite nie. Sy werk was altyd pynlik netjies, op tyd voltooi en van die hoogste standaard. Hy was altyd vriendelik en was vir sy werkgewer ’n aanwins. Mense het oor hul voete geval om hierdie bouer te kry. By die maatskappy het hy ’n legende geword. Alle nuwe werkers moes eers ’n ruk onder hom werk, want sy manier van dinge doen het die standaard geword.

Dekades lank was die bouer se werk die toonbeeld van toewyding en deeglikheid. Met die projek wat hom besig moes hou tot op sy aftreedatum, was hy soos gewoonlik weer ’n paar maande voor die tyd klaar. By sy afskeidsgeselligheid het die werkgewer ná al die geskenke en toesprake vir die bouer gevra of hy nie in die paar maande wat nou beskikbaar was ’n laaste projek wou aanpak nie. Baie onwillig het die bouer ingestem om ’n luukse huis by die see te bou.
Hierdie projek was ’n groot teleurstelling.

Die werk was slordig en almal kon sien die man se hart was nie meer in sy werk nie.

Voor hul oë het sy legendariese aansien in duie gestort. Daar was boonop baie wrywing en onsmaaklikheid. Die bouer was onbeskof teenoor al wat leef en het selfs met baie ou griewe sy werkgewer verwyt vir jare lange misbruik. Hy was skielik iemand wat hulle nie geken het nie.

Aan die einde van die projek het die teleurgestelde werkgewer die sleutels van die huis geneem en aan die bouer oorhandig. Onwetend het hy die huis vir homself gebou. Dit was die werkgewer se dankie vir al die jare se toewyding.

Die bouer se laaste huis het gewys wat eintlik in sy hart was. Toe werksekuriteit en ’n toekomstige salaris nie meer in die gedrang was nie, het hy sy ware kleur gewys. Al die jare was sy werk uitstekend, maar sy binneste ontevrede en bitter.

Mense wat hul werk doen met die oortuiging dat elke sekonde van ons lewe saak maak, is gelukkig. Wát ons doen, maak saak. Hóé ons dit doen, maak saak.

Maar wáárom en vir wié ons dit doen, maak oneindig baie saak.

Sommige werk vir die salaris aan die einde van die maand, ander vir die beloning aan die einde van die tyd.