"Ek het al gewonder waarom ek is soos ek is. Maar dis deel van jou reis. Jy kry in die begin daai kaartjie en jy moet met hom ry. Ek hét in ’n stadium daaroor gewroeg. Jy voel jy’s ’n outsider, jy voel dit. Jy weet jy’s nie hierdie selfgeldende man nie, dat jy nie kan dans nie, nie goed kan pool speel nie. Dan dink jy, jissie, jy’s da’m ’n square peg in a round hole.

Maar toe, eendag in die laat tagtigs, het ek op ’n boek afgekom genaamd The Outsider van Colin Wilson. Ek het in ’n buitekamer in Pretoria gebly en ek was besig om die boek te lees. Ek onthou daai presiese oomblik, hoe ek skielik net gevoel het sjoe, ek’s oukei, ek’s orraait.