Ek het geen benul waar hulle is nie. Ek is seker geen van hierdie koeverte bevat iets belangriks nie, dié wat werklik saak maak het al ’n nuwe adres ontvang. Behalwe in November en Desember. Dan daag hier koeverte met Kerskaartjies op vanuit die hele wêreld. Jaloers staan ek langs die posbus en streel oor die koevert, ek móét weet of dit ’n kaart is met blinkers, uitstaanblomme of 3D-herders.

Geen mens stuur meer vir my ’n Kerskaartjie nie. Nee, dis elke keer ’n SMS of ’n e-pos, ’n lelike elektroniese ding met ’n haas wat spring of ’n dik Sinterklaas op ’n skommelende slee. Wanneer ek wel ’n kaart ontvang, is dit ’n afgryslike mors van papier met die logo van ’n maatskappy wat wil seker maak ek bestel volgende jaar weer hulle produkte.

Ek onthou my ouerhuis, elke jaar oorval met blink, bont en bonkige kaartjies, rye op die klavier, stringe voor die ruite en orals op tafels tussen die blomme. Ek kon vir ure kyk na die detail, Victoriaanse tonele, skilderye van ou meesters, sterre, wyse manne, engele en sneeu op die dak van ’n stal waar dit nooit sou sneeu nie. Sommige kaarte het net ’n naam bevat, ander is vol geskryf met briewe. Hierdie massa kaarte was die bevestiging dat ons wel geliefd was, dat ons nie vergete was nie, dat ons belangrik  genoeg was. Die feit dat die bure ons drie weke laas gegroet het, dat die tennisfamilie nie wou opskuif in die kerk nie, dat almal behalwe ek verkies is tot die leerlingraad of dat ek die enigste skoolkind in Suid-Afrika was wat kon gewig aansit van water, niks het meer saak gemaak nie.
Alle wonde is bedek deur ons honderde kaartjies.

Op Wellington het ek in verwondering gestaar na die kleurryke massa in my ouma se huis, rye en rye kaartjies het die voorkamer omskep in ’n groot papierorrel. Ek het met trots besef die hele wêreld weet my ouma is die beste en wil haar dus hiervoor beloon.

Net ná Nuwejaar is alle Kerskaartjies gebêre. Sommige is opgeknip en geplak op skoolboeke, ander is op vindingryke manier herontwerp en het plek gevind op ’n geskenk. Die res is jare later – een aand met ’n pot koffie en groot stukke mosbeskuit – uit ’n kas gehaal en een vir een weer gelees. Dan is daar gewonder oor waar almal hulle bevind en ’n lys gemaak van dié vir wie daar gebel of gebid moet word.

Deesdae is dit of net die treurige kaartjies hulle pad vind na my posbus. Eerstens is daar die organisasies wat wil geld insamel. Hulle verkoop die lelikste prentjies
moontlik, hartseer honde, vaal dolfyne, stranddorpies wat smeek vir ’n stootskraper of maer kinders wat loer deur ’n doringdraad. Dan is daar die families wat hulleself rangskik op ’n rusbank, die fotograaf verwar met ’n vuurpeloton en dan die resultaat aan jou pos.

Maar die ergste van alles is die arts & crafts-pogings. ’n Sterretjie van draad word geplak op ’n stukkie riffelkarton en afgerond met ’n wollerige pypskoonmaker (simbolies van die agterbeen van ’n baie ou kameel). Agterop staan daar “Handgemaak deur Emily”. As daar net ’n foonnommer was, dat ’n mens aan haar die gevare van alkohol kon verduidelik.

Daar is deesdae asemrowende Kerskaarte, tonele wat regop spring, liggies wat flikker, takbokke in silwer (hulle het niks met Kersfees te doen nie, maar kan nog
steeds betower), duiwe wat opstyg en ’n onsigbare koor wat iewers in die papier wegkruip. By Harrods was daar verlede jaar ’n meterhoë kaart wat in ’n pophuis
verander. Vergeet van my ouderdom of geslag, stuur vir my die pophuis. Sit ’n lied in my hart, verpak ’n bietjie vreugde, koop vir my ’n blink ding, soek vir my
’n kaart.