Al sou hulle dit nie vir jou sê nie, is dit ’n feit dat jy van daardie oomblik af met baie minder bewondering bejeën word. Daar is net een oulikste kleinding in die wêreld, en jou onkunde om nié te weet dis hulle s’n nie, is skreiend.

Want ons kyk na ons eie kinders met ’n heilige eensydigheid. Van die eerste kwêtjie is dit so - die mooiste baba in die ganse geskiedenis het sy opwagting gemaak, en bewaar die siel van die een wat dit ontken.

Wat ’n seën is hierdie instinktiewe eenogigheid - ’n vooraf bepaalde subjektiwiteit oor die waarde en wonder wat opgesluit is in ons eie kinders. En so hoort dit ook.

Ons verstaan wat die profeet bedoel het toe hy gevra het: “Hoe sal ’n moeder haar suigeling verlaat?” Ons wag saam met die pa van die verlore seun dat sy jongste op die stofpad terugkom. Ons hart breek saam met Dawid as Absalom in bitterheid en verwarring teen sy pa in opstand kom en tragies sterf.

Om ’n kind te hê is om die grootste vreugde, maar ook die ergste pyn te beleef. Elke ouer het op die een of ander manier ’n verwonde hart. As jou kind seer het, het jy oneindig seerder. As jou kind se hart gebreek word, is joune aan flarde. Ons besit ’n stukkie ewigheid - in die pyn en die liefde van pa- en ma-wees.

Ek onthou hoe ek met die geboorte van ons eerste kind gevoel het. Ek is van nature nie juis ’n waaghals nie. Veiligheid weeg vir my baie swaarder as opwinding. Ek word dikwels vermaan dat ek ongelowig versigtig en vervelig verantwoordelik is. Soveel te meer toe die nuwe broseling aankom.

Ek wou selfs die gedagte van seerkry ver weg van sy nabyheid hou.

Die oomblik bly my nog by, daardie eerste keer toe hy regtig seergekry het. Toe hy gryp na iets skerps en ek vir die eerste keer sien dat my kind bloei. Iets van die verkeerdheid van pyn het ontstellend tot my deurgedring.

Vandag nog met Pase onthou ek daardie eerste druppels bloed. En ek wonder oor ’n ander Vader en ’n ander Kind. Ek wonder oor die pyn. Ewige pyn. Die misterie van genade gryp my aan.

En ek glo.