Charle vertel meer van hul lewe daar.

Ek, Tobie, Lukas (15) en Talita  (12) het in 2004 Nieu-Seeland toe verhuis omdat ons gereed was vir ‘n nuwe avontuur. Maar nou woon ons al die afgelope jaar in die Noordelike Gebied van Australië, beter bekend as die ‘outback.’ 

Ek is ‘n kleuterskool-onderwyseres en Tobie is ‘n verpleër. Ons woon in ‘n Australiese Aborigine- gemeenskap, Kalkarindji, en die inboorlinge praat Gurindji of Kreole (‘n mengsel tussen Gurindji en Engels). Daar is sowat 800 inwoners. Kalkarindji bestaan uit ‘n kliniek wat beman word deur ‘n dokter en verpleërs, ‘n skool van sowat 100 kinders, ‘n winkeltjie met basiese benodigdhede en brandstof, ‘n kerkie en ‘n ‘shire’ of dorpsraad. Daar is ook twee polisiemanne wat by die polisiestasie woon. 

Dit was vir ons 'n groot aanpassing, want dinge waaraan jy so gewoond raak in dorpe en stede is nie maklik bekombaar nie. Iet soos om vinnig 'n koffie te gaan drink of 'n wegneemete te kry, bestaan nie. Omdat ek kort hare het en ons nie so dikwels dorp toe gaan nie, is dit nogal moeilik om die kapsel in stand te hou. Dit vat die inboorlinge nogal lank om jou te vertrou, so hulle is nie dadelik vriendelik nie.  Noudat ons reeds 'n jaar hier woon kan ons sien hoe hulle ons begin vertrou en oopmaak teenoor ons.  Vir my as onderwyseres en ma is die verwaarlosing van die kinders erg. Hulle is vuiler as wat ek gewoond is en word baie aan hul eie genade oorgelaat. Hulle kry ontbyt en middagete by die skool en party eet nie weer voor die volgende oggend nie. Daar word ook nie soveel waarde aan geleerdheid geheg nie; skoolbywoning is swak en ons moet allerhande planne uitdink om hulle by die skool te hou.

Kalkarindji is geleë op Wave Hill Station, die vyfde grootste plaas in Australië. Die plaas beslaan 3.2 miljoen akker en daar is 90 boorgate en sowat 50 000 veldbeeste op die plaas. Daar is nie lyndrade om die beeste van die pad af te hou nie. Die omgewing het heelwat water in die vorm van riviere en spruite.  Die kinders swem van ‘n baie jong ouderdom af in die spruite en is nie bang om sommer van ‘n brug af in die rivier te spring nie. 

As jy van Kalkarindji af ry, is die eerste 350 km ’n enkelpad. Wanneer ‘n ander voertuig van voor af kom, ry jy stadiger en met 2 wiele van die pad af, en as daar ‘n ‘road train’ of groot trok van voor af kom, trek jy heeltemal van die pad af totdat dit verby is. Die spoedgrens hier in die Noordelike Gebied is 130 km/h, maar mense ry heelwat vinniger.

Hier is twee soorte krokodille. Die soutwater-krokodil is groot en gevaarlik vir mens en dier. Die varswater-krokodil vreet vis en is menssku. Daar’s heelwat varswater-krokodille in ons riviere en strome.  Daar is gerugte van enkele soutwater-krokodille, maar ons het hulle nog nooit gesien nie en ons swem maar met oë in ons agterkoppe! Hier is ook altyd Wallabies te sien. Die northern nail-tail wallaby het sy naam te danke aan die harde, naelagtige stuk onderaan die stert. Volgens wat ek kon nalees is die funksie van die nael onseker. Die verskil tussen die wallaby en die kangaroo is grootte. Die kangaroo se bene is gebou vir spoed en oop gebiede en die wallaby het 'n kleiner en meer kompakte bou vir maklike beweegbaarheid in bebosde gebiede. Die wildeperde of brumbies is volop. Hulle wei deur die dag in die omgewing, maar kom snags tot in jou erf as jy nie jou hek toehou nie. 

’n Veearts, tandarts, fisioterapeut en sielkundige is nie elke dag beskikbaar nie, maar hulle kom lê gereeld besoek af. As daar ‘n noodgeval is, word die persoon uitgevlieg na die hospitaal in Katherine of Darwin. Die posvliegtuig lewer elke Woensdag die pos af. 

Ons kinders, Lukas  en Talita, het vir die eerste 6 maande “School of the Air” bygewoon. Alles gebeur per pos, e-pos en IDL-lesse per rekenaar. Die kinders doen die werk vir die kwartaal en dan pos of e-pos ons dit aan “Katherine School of the Air”. Hulle is nou in die koshuis op Katherine en gaan skool aan die Katherine Hoërskool. 

Hier is nie vier seisoene soos ons dit in SA ken nie, net ‘n ‘wet’ en ‘n ‘dry season.’  Winters is baie droog en die nagte is koud, maar dit word deur die dag gou warm en die temperature is nog maar hoog. In die ‘wet season’ reën dit so dat die meeste gemeenskappe van die res van die wêreld afgesny word en net per vliegtuig bereikbaar is. Toe ons hier aangekom het, het ons heel eerste ‘n viertrekvoertuig aangeskaf sodat ons kan kom waar ons wil wees.

Daar is heelparty plekke waar jy verniet kan kampeer. Ons woon naby die Gregory Nasionale Park, waar daar pragtige kampeerplekke is. Ons braai graag op Possum Hill, so 40km van Kalkarindji af, en nadat ons gekyk het hoe die son sak, kom ons terug huis toe. In die droë seisoen kamp ons sommer onder die sterre.

Daar is ook maar probleme in Australië as gevolg van rasse-diskriminasie, en die mense van Kalkarindji is geskiedkundig baie bekend vir hulle ‘Wave Hill Walk-Off’ in die jaar 1966. Daar is baie maatskaplike probleme in die gemeenskap, soos drank en dwelmmisbruik, en mediese probleme. Die lewensverwagting van die plaaslike Aborigines is sowat 10 tot 15 jaar korter as die Europeërs s’n.

Ons geniet die "agterveld" vreeslik, want dit herinner ons aan die Bosveld in SA. Al wat kort, is ‘n paar kameelperde, renosters, bokke en leeus!