Die Britte is bekend vir hul surf and turf: seekos en rooivleis gemeng. Hier

is my weergawe, met beesstert wat jy oornag in die oond gaarmaak.

genoeg vir 6 – 8

  • 45 ml olyfolie, plus ekstra vir braai
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies
  • 2 wortels, gerasper
  • 2 selderystingels, gerasper
  • 2 lourierblare
  • 250 g spek
  • 500 g beesstert
  • 200 g tamatiepasta
  • 410 g-blik tamaties
  • 250 ml rooiwyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 2 brandrissies, fyngekap
  • 2 x 250 g-bakkie baba-calamaribuise
  • 45 ml olyfolie
  • 100 g-pakkie okkerneute
  • 60 ml sagte botter
  • 30 g-bakkie pietersielie, fyngekap
  • sap en skil van 2 suurlemoene
  • 30 g-pakkie wilde roket

Maak beesstert eerste Verhit oond tot 120 °C. Verhit 45 ml olyfolie tot

warm in groot pot wat in die oond kan gaan. Voeg ui, knoffel, wortels,

seldery, lourierblare en spek by. Roerbraai vir 8 – 10 minute of tot

mengsel bruin en geurig is. Skep uit pot en hou eenkant. Verhit pot weer

tot warm en voeg beesstert by – dis nie nodig vir nog olie nie. Braai vir

8 – 10 minute of tot goudbruin. Voeg tamatiepasta by en braai vir 2 minute.

Skep spekmengsel terug in pot en roer deur. Gooi tamaties en wyn by.

Geur goed met sout en peper. Plaas in oond en bak vir 8 uur of oornag.

Haal uit oond en skep vet wat bo-op dryf af. Haal bene uit en vlok vleis

fyn. Skep van potsous by tot lekker klam en souserige vleismengsel. Roer

brandrissie by en geur met sout en peper na smaak. Maak slaai só Vul die

calamari-buise met die vleismengsel en steek bo toe met tandestokkie.

Verhit klein bietjie olyfolie tot warm in groot pan. Plaas gevulde calamari

in pan en roerbraai vir 3 – 5 minute of tot goudbruin. Gooi neute en botter

by en roerbraai verder tot neute begin verbruin. Voeg pietersielie, skil en sap

van suurlemoene by. Geur goed. Plaas roket op opdienbord en skep warm

calamari bo-op. Sit voor met ekstra suurlemoen.