Die een wat jou hart sommer laat bons oor al die verrassings op die rak.

As kind was ek droomverlore in daardie wêreld van woorde, waar nuwe stories en wonderlike geheime geskuil het. Elke boek was ’n ontdekkingsreis, en in my stroom-op tienerjare dikwels ’n ontsnaproete. En toe, ja toe, ontdek ek ook tydskrifte...

My skoolvriendin se pa het op National Geographic ingeteken, en ek onthou my opwinding die dag toe ek hierdie tydskrif vir die eerste keer oopgeslaan het. Soos boeke, het dit stories vertel van interessante mense en fassinerende dinge. Die wonders van die wêreld was tussen daardie blaaie. Maar daar was nóg iets - daar was glanspapier en foto’s! Groot, helder foto’s wat met my gepraat het.

Ek is met twee van daardie tydskrifte huis toe, en ek het hulle jare lank gebêre. Elke nou en dan het ek hulle versigtig uitgehaal en weer ’n keer deurgeblaai. Die kombinasie van stories en foto’s was vir my eenvoudig verleidelik.

Nou die dag met die Kaapstadse Boekefees het ek (en 49 000 ander boekliefhebbers!) weer bonsende harte beleef. Daar was ’n see vol boeke om te verken, jou oor te verwonder, te koop en van te droom. En toe haak ek by die tydskrifrak vas... en loop met ’n sakvol daar uit. Hoekom? het ek myself gevra. Ek leef en werk dan in ’n wêreld van tydskrifte. Daar’s tydskrifte op my lessenaar, langs my bed, op my koffietafel. En ek weet waar elkeen is. Ook presies waar in elke tydskrif elke storie en elke foto is.

Ek’s nie alleen nie. Navorsing sê 64% van mense in SA wat lees, lees tydskrifte. Ons weet ook die ywerige leser koop maandeliks ’n arm vol tydskrifte. My skoolvriendin is een van hulle! ’n SARIE-leser het my onlangs vertel sy stapel haar gunsteling-tydskrifte op soos tafels langs haar bed, want weggooi kán sy nie. Ander het selfs al tydskrif-vertrekke ingerig. En niemand mag voor hulle daardie tydskrifte deurblaai nie. Dit kreukel die blaaie, sê hulle. So, wat ís ons ding met glanstydskrifte?

Natuurlik is dit die woorde wat ons inspireer. Wat ons inlig en vermaak en rigting gee. Maar dis die kýk wat ons finaal verlei. Dis die glans en die foto’s - daardie groot, helder foto’s.

Die tydskrifte wat ek onlangs in China gesien het, het my in die versoeking gestel om ’n hele hoop terug te bring SA toe. Dit was duidelik nie oor die lees nie, maar oor die kyk. Want wat’s mooier as bloedrooi, swierige Mandarynse letters wat op ’n spierwit blad pronk? En kry jy meer verleidelik as ’n foto van warm sjokolade wat lyk of dit van die blad afdrup, soos julle binnekort in ons splinternuwe kostydskrif, SARIE KOS, gaan sien? Dis die ding van ’n glanstydskrif - dis ’n kyktog deur ’n wêreld van kleur en geur.

Die bekende Britse kunstenaar David Hockney het onlangs gesê mense in vandag se digitale era het verleer om te kýk. Regtig te kyk. Want as jy kyk en waardeer, gaan ’n wêreld vir jou oop. In die fyn detail sien jy die wonders én die werklikheid. Ook 'n werklikheid soos in SA, waar die helfte van huishoudings nie die luukse ken van ’n enkele boek nie. Of die voorreg het om die skatkis van ’n biblioteek te verken nie.

Des te meer dat ons, wat boeke en tydskrifte koop en so opstapel, die lees en kyk ervaar as ’n voorreg. En ware inspirasie bly put uit elke woord en elke foto.

Michélle van Breda

SARIE Augustus 2007