’n Boeiende lys musieknommers deur die Kaapse Filharmoniese Orkes wag daar op jou. Die orkes – onder leiding van Richard Cock – sal ’n program vrolike klassieke, jazz- en eietydse nommers aanbied. Gaste sal kan luister na die jazz-sanger Melanie Scholtz (wat in 2010 as Standard Bank se Jong Kunstenaar vir Jazz aangewys is); die klassieke tenoor Derrick Ellis, wat vinnig naam maak; die sanger Selim Kagee, wat klassieke musiek en pop saamvoeg; en Heavenly Quartez, ’n gewilde manlike kwartet van Khayelitsha wat klassieke Afro-musiek en jazz vermeng. Die hekke maak om 19:30 oop en die konsert begin om 21:30. Gaste moet liefs vroeg kom om ’n goeie plekkie op die grasperk om Nederburg se historiese opstal uit te soek vir die beste sig op die verhoog. ’n Keur uit Nederburg se bekroonde wyn, koffie, tee en koeldrank sal te koop wees. Tuisgebakte suurdeeg-pitabrood wat in ’n houtstoof gebak is, met allerlei bolae soos gerookte salm, crème fraiche en roket; pikante biefstuk- en hoender-pregorolletjies; asook nageregte soos roomys en sjokoladebruintjies sal ook teen heel redelik pryse beskikbaar wees. Gaste mag gerus hul eie koeldrank saambring, maar nie hul eie alkoholdrank nie. Hulle moet liefs ook hul eie glase, komberse, kussings en stoele saambring. Kaartjies kos R200 per persoon en R100 vir leerlinge tussen 13 en 18 jaar oud. Kinders jonger as 12 kry gratis toegang. Kaartjies is by Computicket-lokette en aanlyn by www.computicket.co.za te kry. Gaan na www.cpo.org.za vir meer inligting oor die konsert.