Die Stellenbosse tak van die vrywilligerorganisasie Serve the City gaan weer die instansie wees wat by hierdie liefdadigheidsgeleentheid baat. Die geld wat ingesamel word, gaan gebruik word vir voedingskemas vir die mense van Enkanini, een van die uitbreidings van Kyamandi, die swart woonbuurt buite Stellenbosch. Sowat 6 000 mense woon in Enkanini, en talle sit sonder werk. Die lede van Serve the City werk hard om hulle basiese benodigdhede te gee – veral vir die kinders. Jy kan hulle hiermee help deur met jou vriende en familie na Neethlingshof toe te kom. Jy sal ryklik beloon word. ’n Kaartjie kos R40 (waarvan Serve the City R25 ontvang), en daarvoor kry jy ’n glas van die landgoed se heerlike 2011 Malbec en ’n sappige boereworsrol met sous van jou keuse. Daar sal koeldrank en vermaak in die vormvan ’n trampolien en klimraam vir die kinders wees. Volwassenes kry ook ’n kans om boules, die gewilde Franse “rolbal” wat ook as petanque bekend staan, te speel. Datum: Saterdag 24 September 2012 Tyd: 11:00 tot 15:00 Plek: Neethlingshof-wynlandgoed, Stellenbosch