As ek ‘n tassie kan pak en êrens heen kan gaan, is ek op my gelukkigste. Dis die begin van die jaar. Dit was Kersfees. En dit was vakansie. Ek is seker daarvan jul beursies is tans net so plat soos myne. Dit beteken ek gaan maar eers my lus vir reis op ‘n meer bekostigbare manier moet bevredig. Ek reis hierdie week in die suide van Afrika, eers na ‘n paar van ons buurlande en dan sommer lekker in die binneland van ons pragtige land. Dit is ‘n heerlike ontdekkingstog wat my ‘n paar keer verras het. Hoop julle is gereed om saam te reis.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Otter Hiking Trail, J.J.E. Liebenberg (Selfpublikasie, R230 + posgeld)

Die subtitel van hierdie boek is A Photographic Souvenir en dis presies wat die boek doen, jou op ‘n foto-reis neem op hierdie gewilde staproete. Die landskap op die staproete verander heeltyd en dit word ook in die foto’s weerspieël. Daar is watervalle, woude, berghange, die see, diere en plante. Nie alleen kan jy sien hoe dit daar lyk nie, maar gee die skrywer ook kort en bondige inligting oor die staproete, die geriewe, wat jy kan verwag op elke deel van die roete en dan word die plantegroei en dierelewe ook beskryf. Dis ‘n baie nuttige boek vir enigeen wat die roete wil gaan stap, en selfs al stap jy nie, is dit opwindend om deur iemand anders se oë in die gebied te reis.

Bestel by www.otterhiking.com


Cape Town Up Close & Personal, Mia Feinstein (Struik, R295)

Hierdie boek is Mia Feinstein se persoonlike reis deur háár moederstad en haar ontdekkingstog waar sy opnuut verras word deur bekende tonele wat sy met ons deel. Dit gaan hier oor hoe sy gekyk het na die bekende en hoe sy dit afgeneem het. Dis ‘n eklektiese versameling foto’s wat nie noodwendig dokumentêr van aard is nie. Tog herken jy Kaapstad en sy mense. Jy kry ‘n goeie oorsig van die uitgestrektheid van die stad op die lugfoto en kan dan sien waar die foto’s van die verskillende voorstede inpas. Dis by uitstek ‘n kyk-boek wat ‘n pragtige wêreldstad vier. Elkeen van die bekende mense wat aangehaal word, het ‘n spesifieke verhouding met Kaapstad, en dit is duidelik dat die stad ‘n blywende indruk op elkeen gehad het. Pieter-Dirk Uys, skrywer en kunstenaar, sê só: “The Mother City: part tart, part princess. Truly a womb with a view.”

 Spaces & Places, Johannesburg

Spaces & Places: Johannesburg, Gerald Garner (Double G Media, R230 + posgeld)

Garner is passievol oor Johannesburg. Nou. Hy was nie altyd nie. Hy sê self hy het geleer om die stad lief te kry, want hy woon hier. Dis die energie hier wat op die ou einde die vonk van liefde in Garner aan die brand gesteek het. In hierdie boek vat hy ons op ‘n reis na al sy gunsteling-plekke in Johannesburg – van eetplekke, kuierplekke, parke en nog meer. Hy vertel waar jy die lekkerste kaas kan koop, waar jy ontwerpersinkopies kan doen, kuns kan gaan besigtig en sommer net kan gaan sit en ontspan. Dis ‘n heerlike reis. Die boek is propvol inligting vir naslaan, met adresse, webwerwe en telefoonnommers. Dis ‘n moet vir enige besoeker aan die stad, maar ook vir inwoners wat nuwe plekke wil ontdek. Die skrywer het onlangs ook begin om staptoere in die stad aan te bied, waarop hy sy magdom kennis oor Johannesburg en sy geskiedenis deel. Vir meer daaroor besoek www.joburgplaces.com.

Hy het ook ‘n boek oor die heropbou van die stad geskryf, Johannesburg Ten Ahead, waarin hy volledige inligting gee oor hoe dit gedoen is, wie betrokke was, wat dit gekos het en wat nog beplan word. Sy boeke kan bestel word by www.joburgplaces.com/order/index.htm.

 KwaZulu-Natal

KwaZulu-Natal: Adventures in Culture & Nature, Sue Derwent (Struik, R220)

Derwent is ‘n inwoner van die provinsie en sy skryf só in die inleiding oor haar woonplek: ”For those of us who live here, it is so easy to feel as if we are permanently on holiday. It is a great place to kick back and relax, to unwind and rejuvenate the soul.” Sy skryf dan oor al die dinge wat jy kan ervaar as jy in dié provinsie op reis is. Die see wat heerlik warm is om in te swem, die walvisse, die sneeu op die berge en dan die kultuur van die mense, wat in baie gevalle nog deel van hul daaglikse lewe is. Sy gee ‘n kort oorsig van die geskiedenis van die provinsie en lys dan die plekke van geskiedkundige belang waar jy besoek kan aflê. Die daaropvolgende hoofstukke bespreek die mense, hul godsdiens, die argitektuur, kunste, sport, kos, strand en see, natuurreservate en Wêreld-Erfenisgebiede. Dit word afgesluit met ‘n baie nuttige lys van telefoonnommers en adresse. Die boek is pragtig geïllustreer met die foto’s van die bekende fotograaf Roger de la Harpe.

 The South African Story

The South African Story with Archbishop Desmond Tutu, Roger Friedman en Benny Gool (Penguin, R215,95)

Wat ‘n lieflike boek. Dit voel asof jy saam met emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu stap terwyl hy die landskappe vir jou wys en vertel waaroor dit gaan. Dis in ontspanne trant geskryf, maar tog met hope inligting. Die foto’s is iets om te beleef en sit jou reg in die ervaring. Die boek is gegrond op die gelyknamige televisie-reeks wat ‘n reisprogram met ‘n verskil is. Tutu se liefde vir die land is duidelik uit hoe hy oor elke provinsie en sy mense praat. Tog huiwer hy nie om te sê waar ons kan verbeter op dinge om hierdie land nog beter te maak nie. Dan is daar ook die onverwagse en onwaarskynlike ontmoetings, dinge wat in ons land gebeur, waaroor hy sê: “It’s surprising moments like these, of people reaching across divides, of hope from unexpected quarters, of flowers blooming in the desert – of the complexity of the fabric that weaves us together – that define our beautiful land.” Dis hoekom ek in hierdie land bly woon!

 Beyond the Victoria Falls

Beyond the Victoria Falls, Gill Staden (Struik, R175)

Gill Staden woon in Zambië en reis kruis en dwars deur die omgewing noord van Suid-Afrika. Sy is die redakteur van ‘n elektroniese nuusbrief met reiswenke en ander bruikbare inligting. In hierdie boek reis ons saam met haar in Zambië, Zimbabwe, Botswana en Namibië. Dis ‘n nuttige reisgids met al die relevante inligting wat jy sal nodig hê as jy 'n reis na enigeen van die bestemmings beplan. Sy gee ‘n oorsig van weerstoestande en misdaad, wat beslis vandag ‘n ernstige oorweging vir baie reisigers is. Daar is ‘n klompie foto’s in die middel van die boek, wat eintlik net ‘n klein lusmakertjie is. Hierdie een is klein genoeg sodat jy dit kan saamvat op jou reis.